CamelBak Chase

In 1989 was Michael Eidson, 'n jong Amerikaanse mediese tegnikus, op die punt om weg te spring op die Hotter'N Hell 100, 'n moordende fietswedren in Texas, VSA.
Waterpunte was skaars, en Eidson het inderhaas 'n binneaarse voedingsak met water volgemaak, dit in 'n sokkie gedruk en die hele spul agter by sy fietshemp ingestop.
Hy' t 'n wasgoedpennetjie gebruik om die rubberbuis toe te klamp en siedaar... die moderne watersak is gebore.
Eidson het daarna CamelBak gestig, 'n maatskappy wat vandag bekend is vir sy watersakke. Genadiglik is die Chase ver verwyder van die oorspronklike binneaarse voedingsak!
Hierdie is 'n liggewig harnas wat van maasstof gemaak word en dus maklik "asemhaal". Jy dra jou water in 'n 1,5 l-rubberwaterblaas wat agterin pas.
Die Chase is spesifiek vir fietsryers ontwerp en sit knus bo jou fietsryhemp se agterste sakke.
Jy kan jou gereedskap en CO-patrone (vir daai pap wiel) agterin die sak toerits, en ons hou veral van die sakke op die voorkant van die harnas sodat jy maklik toegang tot jou slimfoon en eetgoed het.
R1 800, https://takealot.com/takealot.com
Salomon Advanced Skin5

Salomon is 'n Franse maatskappy wat danksy 'n wye reeks uitstekende stap- en veldloopskoene en klere oor dekades heen 'n goeie reputasie onder buitelewe-liefhebbers verwerf het.
Hierdie minimalistiese waterbaadjie is nie goedkoop nie, maar dit is deksels gemaklik en veeldoelig.
Jy kan jou gereedskap al om jou bolyf bêre, met twee sagte 500ml-waterflesse wat voor teen jou bors in 'n skede inglip.
Dis gemik op hardlopers en dus word die waterflesse met spesiale rekbande stewig in plek gehou.
Dis maklik om die sak te verstel sodat dit nie rondbons terwyl jy hardloop nie. Dit het 'n toeritssakkie aan die voorkant vir jou foon of sleutels. As jy meer water wil saamdra, kan jy 'n 1,5 l-waterblaas (R799) aanskaf wat agter in die sak pas of as jy net die voorste skede eerder vir Jelly Tots en dadelballetjies pleks van waterflesse wil gebruik.
R2 800, salomonsports.co.za
Patagonia Slope Runner Vest

Die veldlopers in my gesin is vurige evangeliste van die duurste baadjie wat ons getoets het.
Dit weeg net 175 g, en dit voel asof jy 'n ligte onderbaadjie pleks van 'n rugsak dra wanneer jy dit oor jou skouers gly en die rekkoorde voor jou bors styftrek.
Jy kan 'n generiese 1,5 l-waterblaas wat jy apart moet koop, agter by die Slope ingly.
Ons hou ook van die bêreplek op die rug waarin jy allerlei goed kan prop en wat met 'n ritssluiter toemaak.
Dit het ook groot (en maklik bereikbare) kantsakke waarin jy 'n ligte reënbaadjie, handskoene en 'n mus kan stoor.
Daar is lussies aan elke kant waaraan jy jou stapstokke kan vasmaak en die sak is ontwerp sodat jy dit in die beweeg kan verstel na gelang van hoeveel toerusting jy uithaal of insit terwyl jy stap of hardloop.
R3 000, https://goneoutdoor.com/goneoutdoor.com
USWE Outlander 2

Swede is nie om dowe neute bekend as die land van koel ontwerp nie. Dit sluit alles van meubels tot argitektuur in, asook hierdie vaartbelynde renharnasse.
Ek het verlede jaar die eerste keer een by die Wine2Whales-bergfietswedren gesien. Haardebaarde het dit eers gebruik, maar nou het hulle ook onder naweekkrygers gewild begin word.
Dit is oorspronklik ontwerp vir veld-motorfietsryers, maar deesdae gebruik hardlopers, bergfietsryers en selfs fiets-pendelaars dié sakke.
Die USWE se groot voordeel is 'n vierpuntharnas wat voor op die bors vasmaak en keer dat die sak soos 'n dansende apie op jou rug rondbons.
Die Swede het duidelik 'n humorsin aangesien hulle die harnastegnologie as "No Dancing Monkey" gepatenteer het. USWE, wat as "you" (gat) en "swii" (skop) uitgespreek word, het seker gemaak die waterblaas kan bo wyd ooprits sodat jy dit vinnig met water kan volmaak.
Boonop kan jy die waterblaas binneste-buite omdop sodat dit maklik skoon- en drooggemaak kan word.
Voorwaar USWE!
R2 650, https://bike-addict.co.za/bike-addict.co.za
Aonijie Moderate Gale 2,5-litre

Hierdie Chinese produk is nie net die ligste watersak wat ons getoets het nie, maar op die oog af die goedkoopste (meer hieroor later).
Dis beskikbaar in 'n 5 l- en 10 l-weergawe, en die groottes wissel van XS tot 2XL. Jy gaan dus een vind wat pas, en omdat dit by groot buitelewewinkels soos Cape Union Mart en ook op Takealot beskikbaar is, is 'n magdom van Moderate Gales deesdae te sien by veldloop- en pretdrafbyeenkomste.
Jy kan twee sagte 450 ml- waterflesse in die voorste reksakke bêre, maar omdat die goedkoopste van die Aonijie's nie plek het vir 'n waterblaas nie, is dit meer geskik vir korter veldlope en middelafstand-padlope.
Dit het baie bêreplek met groot maaskantsakke, 'n voorste sak vir jou foon en 'n waterdigte agtersak vir waardevolle items.
Die vangplek is dat die waterflesse nie by die koopprys ingesluit word nie. Jy moet hulle teen R250 elk aanskaf. Dit maak van die First Ascent Aqueos 2 (onder) 'n beter kopie - local is immers altyd lekker(der).
R800, https://capeunionmart.co.za/capeunionmart.co.za
First Ascent Aqueos 2

Die meeste van die watersakke wat ons getoets het, is eintlik waterbaadjies of waterharnasse.
Die Aqueos 2 voel egter soos 'n meer tradisionele ligte dagsak waarin jy ook 'n waterblaas kan bêre. Ons het dit as die ideale sak vir 'n dagstap (eerder as 'n hardloop- of fietsrysak) ervaar.
Die waterblaas kan met tot twee liter vloeistof gevul word, en het heelwat veilige pakplek vir eetgoed en waardevolle items. Jy kan selfs jou (klein) verkyker saamdra.
Dis boonop maklik om die waterblaas vinnig uit te haal en by 'n waterval vol te maak sonder dat jy die drinkbuis ook van die sak moet losmaak.
Hierdie eg Suid-Afrikaanse produk is die winskopie vanwatersakke.
R1 200, https://firstascent.co.za/firstascent.co.za
Thule Vital 3 Litre

As ek moet raai watter watersak ek 20 jaar van nou af steeds gaan gebruik, is dit hierdie een.
Soos byna al die fietsrytoebehore wat deur dié Sweedse sport- en buitelewemaatskappy vervaardig word, skort daar bittermin met die vervaardigingsproses en die liggewig materiaal van die sak.
Die Vital is beskikbaar in 'n 3 l-, 6 l- en 8 l-weergawe, maar ons het die 3l getoets omdat dit perfek is vir 'n fietsrit wat nie langer as drie ure gaan duur nie. Boonop is daar 'n weergawe wat spesifiek vir 'n vrouebolyf ontwerp is.
Die 1,75 l-waterblaas kan maklik uitgehaal word, en sy bek is lekker groot sodat jy dit vinnig met ysblokke en water kan volmaak.
Die agterste pakplek word met 'n ritssluiter beveilig, en jy hoef nie 'n lyfvlegter te wees om jou nartjies uit die kantsakke te haal nie.
Daar is talle weldeurdagte ontwerpskenmerke. Een daarvan is die ReTrakt-stelsel wat 'n magnetiese strook inspan om die drinkbuis weer aan die sak vas te heg as jy in die ry water gedrink het.
Geen meer gesukkel om die buis vas te klamp terwyl jy by Jonkershoek afkletter nie!
Daar's selfs 'n klein lus agter op die sak waar jy 'n polsliggie kan vasmaak sodat jy meer sigbaar in die verkeer is.


















