"Hy het my vrede gesteel."
So sê 'n Bloemfonteinse vrou van in haar vroeë 50's wat Sondag saam met 'n vriendin, ook in haar vroeë 50's, by die Brandkop-bewarea in Pellissier, Bloemfontein, deur 'n gewapende man aangeval en van hul selfone beroof is toe hulle daar gaan draf het.
"Ek het nou die heeltyd 'n bang, angstige gevoel. Ek kyk die heeltyd oor my skouer en die geringste geluid maak my bang," sê die vrou wat verkies om anoniem te bly.
Sy het onder meer skraapmerke aan haar linkerhand opgedoen en haar een vinger is tydens die aanval verstuit. Die twee vroue is onder meer elk van 'n Samsung-selfoon beroof.
Die vrou vertel dat sy voor haar vriendin gedraf het toe sy die volgende oomblik gehoor het hoe haar vriendin gil.
"Toe ek omdraai, het ek gesien hoe sy op haar rug in die gras lê met 'n man wat bo-oor haar staan met sy vinger op sy mond, wat vir haar wys dat sy moet stilbly, terwyl hy met 'n mes in sy hand beduie het dat hy haar daarmee sou steek."
Sy het haar na die vriendin gehaas en die man van haar afgestoot in 'n poging om te verhoed dat hy haar sou steek.
Die volgende oomblik het die aanvaller op haar afgestorm en die selfoon in haar broeksak gesien. Hy het die foon by haar probeer vat, maar sy het heeltyd haar hand op haar broeksak gehou, sê sy.
"Ek het met my ander hand probeer om hom af te weer, terwyl hy die heeltyd probeer het om my te steek."
Die aanvaller het haar foon in die hande gekry en weggehardloop.
Die houer van een van die selfone en kaarte is later deur fietsryers gevind en aan die vroue terugbesorg.
Die vrou sê hulle is in die proses om 'n klag by die polisie aanhangig te maak.

















