Buitelewe

Woonwatoets: TrailPod Max

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Slaapplek vir jou en jou kampmaat, en dis dit. Met die eerste traan­druppelwaens wat in die jare dertig hulle verskyning gemaak het, is dié resep al byna 'n eeu oud.

Volgens die webwerf vangocollections.com.au is die eerste weergawes destyds beskryf as 'n wittebroodsleepwa en hulle het veral ná die Tweede Wêreldoorlog gewild geraak.

Van hierdie waens is destyds glo gebou met aluminiumskroot wat van bomwerpers afkomstig is.TrailPod is een van die nuwer vervaardigers van hierdie soort wa, wat plaaslik al hoe gewilder raak, en onderskei hom van die res met sy boumateriaal.

Waar hoofstroomvervaardigers hoof­saaklik veselglas of skeepshout gebruik, span TrailPod plastiek­skuimpanele in. Die romp het vier panele - die dak, vloer en twee kante - wat met gom geheg word.

Die eienaar, Danie Rossouw, is aan die stuur van sake en Ivan Arnold is die vervaardiger se produksiespesialis. Drie TrailPod-modelle is beskikbaar: Twee sonder 'n kombuis agter, en die vlagskip, die Max XC 140, met 'n kombuis.

Ons haak laasgenoemde en kom sommer gou agter dié buksies het 'n groot persoonlikheid.

Die binnekamer

Hulle is dalk klein, maar 'n traandruppelwa het meer deure as 'n gewone woonwa. Elke slaper klim by sy eie deur in en niemand klouter bo-oor mekaar in die bed soos wat die geval is met sommige waens nie.

Elkeen van die deure het 'n skuifvenster met gaas in die opening wat vir vars lug sorg terwyl jy slaap.

As die muskiete met vakansie is, kan jy die gaasvenster ook oopskuif. Vir privaatheid rol 'n blinding van bo af, en bo elke deur is 'n buitelig.Hoe 'n mens inklim, is sekerlik een van die grootste oorwegings met so 'n wa.

Jy kry jou sit in die deur en lig jou bene dan binne­toe. Dis dus nie vir almal ewe maklik nie, en jy moet jou voete afvee, anders sit jy met klippies in die kooi.

Jy kan natuurlik ook kop eerste inklim, maar om dan binne 'n U-draai te maak moet jy omtrent jou lyf gimnas hou. Die koppenent is tussen die deure, met kaste by jou kroontjie.

Daar is 'n smal rak by jou kop wat oor die hele breedte van die Max strek. In die hoeke is verstelbare leesliggies en in die middel 'n kragpunt en skakelaar vir die binnelig. Die lig is versonke agter die smal rak en sorg vir sagte dog ordentlike lig.

Sonder om enigsins beknop te voel strek jou voete onder die res van die kaste in: Vier van hulle is oop rakkies en die boonste drie het deure. Die middelste van die drie is 'n spieël, en as jy dit oopmaak, slaan dit plat na jou toe om staanplek vir 'n skoot­rekenaar te maak as jy in die bed wil sit vir die soort vermaak.

Die ruimte tussen die dak en die matras is 95cm, wat beteken jy kan gemaklik regop sit. Die bed self is 1,97 x 1,33m groot - dis vergelykbaar met 'n verlengde bed wat net-net smaller is as 'n dubbelbed - en die matras (8cm dik) bestaan uit drie los dele.

Die voorvertrek

Die afdak (2,2 x 1,85m) aan die kant van die Max speel 'n belangriker rol as wat 'n mens dink. Daarsonder kan jy byvoorbeeld sopnat reën as jy probeer inklim. Maar jy kan dit ook in 'n aantrekkamer omskep deur bypassende sy-panele te gebruik.

Danie verdien 'n pluimpie vir hoe eenvoudig dog prakties die afdak uitslaan. Die seilafdak is opgerol en rus bo-op die dakrak. Oor die punte is twee seilkouse getrek en klitsrits hou die middelste deel toe. Jy trek bloot die kouse af, skeur die klitsrits los en die dak rol na jou toe oop.

Op die verste punt soos dit na jou toe rol, is 'n aluminiumbalk met verstelbare voete, en twee los (ook verstelbare) pale wat tussen die balk en die romp pas. Só span die dak netjies en is steeds hoog genoeg dat dit nie in jou pad is as jy regop staan nie - dis omtrent 1,9m hoog by die romp.

'n Seil span tussen die dakrak en die romp om die wind te keer en is soortgelyk aan 'n rompseil. Opslaan is ook verspotmaklik: Die pote en pale slaan weg, jy rol die dak op en gly die kouse oor die punte.

'n Mens sien op sommige waens afdakke wat jy in 'n sak moet toerits wanneer jy dit teruggevou het, iets wat 'n mens menigmaal grys hare gee. Danie spaar jou presies dit.

Die kombuis

Die werkblad van vlekvrye staal strek oor die breedte van die wa met die kaste agter dit. Niks (soos 'n gasstoof) is op die blad gemonteer nie, en die kasdeurtjies is omtrent vindingryk.

Twee kaste is oop, maar die twee op die punte het deure wat jy kan afhaal en as snyborde gebruik.

In die linkerkanste kas pas borde en bekers in sponsvorms, en regs is die glase.

Die kombuislig is bo jou aan die binnekant van die kombuisdeur en verlig alles verbasend goed. Hier is ook twee USB-sokke plus heel links 'n sigaret­aanstekersok.

Twee rakke van vlekvrye staal weerskante van die Max vorm 'n verlenging van die kombuis. Dit is bo die modderskerms en slaan plat wanneer jy dit wil gebruik. Dis baie stewig - jy kan 'n los gasstoof en selfs 'n paar 5l-waterbottels neersit.

Die buitekas

In die neuskas op die A-raam is plek vir al die tentpenne, hamers en ander los kampgoed. Dis nie heeltemal vierkantig nie en die twee sye volg die hoek van die A-raam.

Die neuskas is 75cm op sy breedste en 39 cm diep, en het 'n deksel.Die elektriese drade vir die son­paneel (wat op die dakrak gemonteer word) koppel by die disselboom en is op sy beurt met die battery verbind.

Die battery en laaier is in 'n binnekas onder die vloer. Kraggewys is die Max heeltemal selfvoorsienend, wat beteken jy kan sonder 'n 220V-kragpunt in die kampplek of bos klaarkom.

Ons toetsmodel het nie remme nie en ook nie hoekstutte nie. Die wa kan dus beweeg wanneer jy jou lê probeer kry, maar ons het op dik gras gekamp sonder sukkel.

Andersins is wieltjokke 'n antwoord óf 'n mens moet 'n geremde as (R13000) oorweeg.

Wat is standaard?

Die volgende is by die standaardkoop ingesluit: 'n 50Ah-LifePO4-battery; breekware vir 2; dak­stawe; dakventilasie; muskietgaas en blindings voor die vensters; verskeie USB-sokke (binne en buite); en ligte (binne en buite).

Opsionele ekstras sluit in vragstawe binne; 'n hangbed vir kinders of troeteldiere; 'n af-dak met kante en 'n rompseil; beskerming oor die agterligte; 'n 100W-sonpaneel wat die beheerder en DC-DC-laaier insluit; koordlose foonlaaier; beddegoed; 'n waaier in die dak; en water- en/of brandstofkanne.

Spesifikasies

Vervaardiger TrailPod

Model Max XC 140

Slaapplek 2

Grootte 3,5 x 1,84 x 1,8 m

Tarra 550 kg

Dravermoë 200kg

BVM 750 kg

As 750 kg

Wielgrootte 15duim-17duim

Onderstel Gegalvaniseer

Romp Plastieksamestelling

Prys R224640

Handelaarsnetwerk Verkope uit die fabriek inKaapstad.

Kontak 062 558 1221; hello@trailpod.co.za; https://trailpod.co.za/trailpod.co.za

Trailpod Max XC 140 R224640, BVM 750kg

Van die mededingers*

Hardebaard traandruppelwaens vir veldry wat minder as R230000 kos

Road-Tripper X R179595

Romp van skeepshout-tussenvoegpanele met 'n staalplaatbuitelaag enstaalonderstel.

Red Gecko TDX R215000 Romp bestaan uitingevoerde berkehout en

sparlaaghout en die onderstel is van vlekvrye staal.

Jetstream XT Standard R228655 Romp is van veselglas en 'n gegalvaniseerdeonderstel.

Die prys is 'n aanduiding van 'n standaardwa. Tot hoe'n mate elke model toegerus word, verskil van vervaardiger totvervaardiger.

*Soos gelys in die Koopgids 2024.

Ry & Sleep het die TrailPod Max by dievervaardiger geleen.

Leon Botha (teks en foto’s)