#DisMyOomblik: ‘Ek het myself herontdek’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Carien Brewis, immer die entrepreneur, met serpe van Kasjmir wat sy namens ’n vriendin verkoop. Foto: Verskaf
Carien Brewis, immer die entrepreneur, met serpe van Kasjmir wat sy namens ’n vriendin verkoop. Foto: Verskaf

Op 46 het sy haar nis gevind.

"Dit voel asof ek 'n tweede asem in die lewe gekry het," sê sy.

Die studieveld wat haar so inspireer, is pastorale narratiewe terapie, wat as nagraadse kursus aan die Universiteit van Pretoria se departement praktiese teologie aangebied word.

Dit het onverwags en onbeplan oor haar pad gekom.

"Dis in my hart om mense te help. Ek het 'n werksessie bygewoon om te leer hoe om familie van kankerpasiënte by te staan, toe 'n sielkundige vir my sê ek moet die Coram Deo-kursus sterk oorweeg. Maar ek was midde-in 'n egskeiding, ek het gedink ek het nie die emosionele kapasiteit nie.

"Toe 'n kennis egter ses maande later my letterlik van agter af inhardloop en presies dieselfde voorstel, het ek geluister."

Vandag weet sy dis die regte ding in dié fase van haar lewe.

"As jy deur 'n groot verandering soos 'n egskeiding gaan, word die lewe se mat onder jou uitgeruk. Jy was vrou, ma, kok, tuisteskepper . . . skielik is jou kinders die helfte van die tyd nie by jou nie. Jy begin oortollig voel.

"Alles wat ek oor myself gedink het, het verander - maar nou herontdek ek myself."

In haar twintigs was Carien in die media-kollig toe sy as entrepreneur naam gemaak het.

Sy het op 22 'n gemeenskapsprojek in Khayelitsha begin, mense opgelei en vir sewe jaar handgemaakte krale-sandale aan Young Designers Emporium landwyd verskaf.

Later het nog besighede gevolg.

Toe sy ma word, het haar rol verander. Haar man het baie lang ure gewerk en sy het tuis gebly om daar te wees vir hul kinders. Sy het steeds twee klein tuisondernemings.

Die kursus, wat sy in haar eie tyd kan doen, verryk haar lewe oneindig. Sy presteer uitstekend, en kyk met nuwe oë na haar akademiese vermoëns.

"Op skool was leer vir my moeilik, ek het ADHD. Ek het grafiese ontwerp en bemarking gaan studeer omdat die kursus prakties was.

"Toe ek begin werk, het ek besef ek kan nie so voor 'n rekenaar sit nie. Vir mense was ek te lief. So het my Khayelitsha-avontuur begin. Ek wou vir myself, my vriende en die skoolsisteem wys ek kán. Maar in jou veertigs hoef jy niks te bewys nie."

Sy is passievol oor wat sy doen, en leer is nou lekker, danksy die Speechify-app wat alle studiemateriaal vir haar voorlees.

Oor narratiewe terapie is sy baie opgewonde.

"Ons is almal gebonde aan die stories van ons families en gemeenskappe. Dit maak ons wie ons is. Die storie van 'n 46-jarige wit Afrikaanse vrou wat in die Hoërskool Groote Schuur was, is anders as dié van 'n 70-jarige Moslem-man wat tydens apartheid-SA grootgeword het.

"Dikwels word mense vasgevang in probleemstories, iets kniehalter hulle en dit word 'n probleem, of dit nou jou gewig of dwelmafhanklikheid is. Maar met jou terapeut kan jy jou storie herskryf."

Sedert sy begin studeer het, het 'n nuwe wêreld vir haar oopgegaan.

"As gelowige is die vraag waar die Here my wil gebruik. By ons kerk kon ek reeds mense ondersteun. Dit gee my soveel vreugde."

SPELETJIES VANDAG

CTA