Eksamentyd en angs: Só help jy jou kind, sê kenners

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ter illustrasie.
Ter illustrasie. (Foto: Gallo Images/Getty Images)

“Navorsing toon dat kinders met ouers wat betrokke is by hul studie en opvoeding, hoër punte kry,” sê Melissa Ferreira, ’n opvoedkundige sielkundige. “Hulle het ook meer selfvertroue en ’n beter houding teenoor studeer.”

’n Goeie ingesteldheid is belangrik, sê Eileen Tracy, ’n kenner van studievaardighede.

“Ontkoppel jou tiener se selfwaarde van hul punte: Om A-simbole te behaal maak nie van jou kind ’n ster nie. Nog minder is hy ’n mislukking as hy druip,” sê sy.

Studiewenke

Hier is Melissa se wenke oor hoe julle ’n eerste eksamen kan benader:

  • Begin vroeg voorberei sodat daar genoeg tyd is om kort sessies te hê en dit oor verskillende dae te versprei.
  • Probeer om die leerproses pret te maak met behulp van ’n vraelys en kyk of jy beweging kan inkorporeer in die studieproses. Nie alle kinders wil stilsit as hulle leer nie.
  • Vermy afleidings en maak seker die studieruimte is goed belig. Probeer ook die eksamenlokaal naboots, met ’n netjiese werkruimte en die regte skryfbehoeftes.

Weg van die boeke

Die studeer is eintlik net een deel van goeie voorbereiding. Jou kind moet genoeg eet, slaap en rus ook.

Deane Alban is ’n gesondheidskenner van Amerika en medestigter van die Be Brain Fit-webtuiste, wat hom beywer vir brein- en geestesgesondheid. Sy beveel die volgende kosse aan:

  • vrugte en groente vol antioksidante, veral bessies, sitrusvrugte en soetrissies
  • proteïenbronne wat heelwat omega­3-vetsure bevat, soos rooivleis, eiers, pluimvee en olierige vis
  • komplekse koolhidrate, soos wortels, aartappels, volgraanbrood en hawermout
  • goeie vette, soos dié in sade, neute, avokado’s en olywe

Rus

Dis ook belangrik om seker te maak jou kind se program sluit rus in. Laat hom elke halfuur ’n blaaskans van 5-10 minute neem. Dié blaaskans moet verkieslik nie voor ’n skerm deurgebring word nie.

Fisieke aktiwiteit is ’n goeie idee vir dié tyd. Vir slaaptyd moet jy in ag neem hoe laat jou kind moet opstaan.

“Wanneer jy op ’n sekere tyd moet opstaan, tel die getal ure wat jy wil slaap terug en voeg dan ’n halfuur by,” is die raad op die webtuiste van Unisa se kliniek vir studentegesondheid en welstand vir wanneer ’n mens moet begin gereedmaak vir bed toe gaan.

“Die ekstra halfuur is belangrik. Ons vergeet dikwels die tyd wat dit neem om tande te borsel, die wekker te stel, ensovoorts.”

1630

SPELETJIES VANDAG

CTA