Huis + tuin

Kothuis kry nuwe elegansie in swart

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Foto's Christoph Hoffmann

WIE WOON HIER? Deidre Causton

WAAR Greenside, Johannesburg

GROOTTE 154m² (oop en onderdakstoep ingesluit)

"Dis vir my heerlik om afgeleefde dinge ewn ruimtes te herskep," vertel die landskapontwerper Deidre Causton. Toe sy dus die geleentheid kry om 'n ou kothuis op die eiendom in Greenside, Johannesburg, wat sy en haar sakevennoot Vanessa Causton besit, op te knap, het Deidre die kans aangegryp.

"Ons is eintlik bekend vir tuine uitlê, maar ons ontwerp ook graag leefruimtes - binne en buite," verduidelik sy met verwysing na Inspirations, die maatskappy wat sy en Vanessa 25 jaar gelede oorgeneem het by Deidre se ma, Lily (wat ook naam gemaak het as landskapontwerper).

"Saam met ons span het ons al 'n funksielokaal, die oorspronklike Social on Main en die gewilde Bolton Road Collection-restaurant en kroeg in Rosebank ontwerp, en verskeie huise opgeknap; so ek kon nie wag om iets van my eie te ontwerp nie."

Oop en ruim

Die oorspronklike kothuis was basies 'n reghoek met 'n badkamer en geen kombuis nie.

"Die vensters was klein, wat dit koud en donker binne gemaak het. Die plafon was laag en die vloer was bedek met daardie terracotta-teëls wat destyds so gewild was," onthou Deidre. "My plan was om dit oop te maak en meer volume te gee deur die plafon uit te haal."

Sy was in daardie stadium nie seker wat bo die plafon was nie, maar sy hou van die heuningkleurige dakbalke en hoedat dit met die swart waterdigting kontrasteer. "Aangesien die dak met lei-teëls bedek is, is die waterdigting nogal dik; ons het net hier en daar dele vervang," sê sy. Al die elektriese bedrading in die dak moes oorgedoen word om te verseker dit is nie sigbaar nie. Gelukkig was die loodgieterspype in die vloer versteek. Deidre het klein kolligte laat aanbring om die balke te verlig, en saans bring dit lewe in die ruimte.

"Ek dink dis so belangrik om lig boontoe sowel as ondertoe te laat skyn," sê sy. Die kothuis is aan een kant vergroot; dit het tot 'n lang galeikombuis gelei en voorsiening gemaak vir 'n gastetoilet langs die leefruimte. Aan die ander kant is 'n studeerkamer aangebou, asook 'n oopplan-slaap-en-badkamer met die toilet agter vouhortjies versteek. Die vensters in albei ruimtes strek van die vloer tot die plafon en die deure maak oop op 'n stoep met uitsigte op die gholfbaan langsaan. "Ons het 'n onderdakstoep aangebou om die uitsig ten beste te benut," verduidelik Deidre. "Die balk en pilaar daarvoor het uit 'n ander projek van jare gelede oorgebly, so al wat ons gekort het, was die ondeursigtige polikarbonaatplate vir die dak."

Ou Volkswagen- koplampe het nuwe nut gekry in die kombuis.
Ou Volkswagen- koplampe het nuwe nut gekry in die kombuis.

Vintage saam met modern

Deidre het 'n vintage industriële voorkoms vir die tuinateljee gekies in kontras met die tradisionele Kaaps-Hollandse styl van die hoofhuis.

"Ek het my die voorkant met sy spits dak voorgestel in metaal en glas. 'n Ingenieur het my aangeraai om 'n metaalraam te bou wat die dak aan dié kant ondersteun. Ons moes iemand kry wat die metaalvensters kon pasmaak, en nog 'n maatskappy om die glas te verskaf."

Een voordeel van die groot glasvlak is dat dit die bome van die omgewing weerkaats, wat 'n asemrowende dekoratiewe effek het. "Die idee was dat die struktuur met die agtergrond moes saamsmelt, daarom is dit 'n donker houtskool geverf," sê Deidre.

"Om die industriële voorkoms te versterk is die vloer met 'n neutrale sementlaag afgevlak. Die slaapkamer het wel 'n mat gekry vir warmte onder jou voete, aangesien dit hier nogal koud raak in die winter." Sy en Vanessa het die kombuiskaste saam ontwerp en by 'n plaaslike skrynwerker laat maak. "Omdat 'n mens die vertrek uit die leefruimte kan sien, wou ons dit 'n meerdoelige voorkoms gee," verduidelik Deidre. In die deel naaste aan die eet-area is 'n vertoonkas met 'n glasvoorkant wat Vanessa ontwerp het.

"Oorspronklik sou dit van metaal wees, maar dit sou heeltemal te duur uitgewerk het. Toe maak ons skrynwerker dit." Dié kabinet word gebalanseer deur 'n pasgemaakte spenskas op die verste punt van die kombuis. "Ons het prente bymekaargemaak van kaste waarvan ons hou, en toe een ontwerp wat aan al ons behoeftes voldoen."

Die rusbank is langs dié muur geplaas ter wille van die uitsig oor 'n groen strook langs die eiendom. 'n Spieël met panele wat net so groot soos die ruite van die glasmuur is, is spesiaal vir die vertrek gemaak. "Ek moes eenvoudig die proteas, wat van skulpies gemaak is, koop toe ek dit in 'n winkel in Kalkbaai sien. Proteas is my gunstelingblomme," sê Deidre. Die leeslamp kom uit Indië.

Die inkleding van die leefvertrekke is neutraal genoeg dat die dakstruktuur al die kollig kan vang. "Ek sit graag oud en nuut bymekaar," sê Deidre. "Die ou eettafel vorm mooi kontras met die moderne stoele." Hangligte van Amatuli; moderne stoele van ParcHaus

Skilderye deur Marina Louw
Skilderye deur Marina Louw
Die spits fasade van die oorspronklike kothuis spog nou met 'n hele muur van glaspanele. Met die bome se weerkaatsing daarin lyk dit of die struktuur in die agtergrond verdwyn.
Die spits fasade van die oorspronklike kothuis spog nou met 'n hele muur van glaspanele. Met die bome se weerkaatsing daarin lyk dit of die struktuur in die agtergrond verdwyn.

"Toe die bouers dié venster in die eetruimte begin insit, het hulle die mooiste ou baksteenwerk onder die pleister ontdek. "Ons het dit toe behou en die venster geskuif," vertel Deidre. Sy het die skildery in 2020 in Viëtnam gekoop.

'n Ruim stoep vergroot die leefspasie aansienlik. "Hierdie deel is heerlik vir onthaal, aangesien dit 'n natuurlike vloei uit die huis het," sê Deidre. Die Cavalier King Charles-spanjoele George en Rupert bak in die namiddagson. >>

'n Fyn oog vir nuwe nut

Dit is baie duidelik dat Deidre potensiaal op die onwaarskynlikste plekke sien. So het ou VW-kopligte byvoorbeeld hangligte vir die kombuis geword, en dien 'n bamboesleer wat oorspronklik as handdoekreling gebruik is, nou as hangplek vir plante op die stoep.

Deidre is ook lief daarvoor om oud en nuut te meng. "Ek hou van die kontras tussen iets met 'n patina en geskiedenis, en die gladde, skoon lyne van moderne goed. In my eetarea het ek die eerste meubelstuk wat ek ooit gekoop het - 'n tafel van soliede hout - met heel moderne stoele gekombineer." Haar talent om artikels te herskep het ook nuttig te pas gekom in die slaapkamer.

"Ek het 'n ou mangohouttafel op die stoep gehad; die pote het gevrot maar die blad was nog goed." Vandag staan dit agter die bed se kopstuk en versteek dit die klererelings daaragter. En pleks van 'n nuwe bad te koop, het Deidre een wat uitgegooi is toe die badkamer in die hoofhuis opgeknap is, hergebruik. "Die venster bo die bad was nie besonder mooi nie, toe bedek ek dit met 'n doek met die prent van 'n seilskip daarop. Wanneer die lig daardeur skyn, het dit 'n lieflike effek." Die wasbakkaste vir die slaapkamer en die gastetoilet is spesiaal laat maak van verweerde hout.

"Ons het daarop aangedring dat die skrynwerker net herwinde materiaal gebruik - van die hout tot die bykomstighede." Terwyl geliefde ou en nuwe artikels tot die karakter en warmte van die tuinateljee bydra, bring plante 'n tikkie groenigheid in. Oral sien 'n mens plante wat oor potte rank, kiertsregop in mandjies pronk of uit handgeblaasde glashouers tuimel.

"Huisplante bring lewe in 'n blyplek," sê Deidre. "En dit gee my net soveel bevrediging en genot as wat ek uit die versorging van 'n tuin put."

'n Ou tafelblad van mangohout het nuwe nut gekry as kamerverdeler tussen die aantrekhoekie en die res van die slaapkamer.
'n Ou tafelblad van mangohout het nuwe nut gekry as kamerverdeler tussen die aantrekhoekie en die res van die slaapkamer.
'n Kontemporêre wasbak rus op 'n kassie gemaak van herwinde hout. Deidre bedek die piepklein venster met 'n prent van 'n seilboot.   Mat met blaarpatroon van Hertex; wasbak van Bathroom Bizarre
'n Kontemporêre wasbak rus op 'n kassie gemaak van herwinde hout. Deidre bedek die piepklein venster met 'n prent van 'n seilboot. Mat met blaarpatroon van Hertex; wasbak van Bathroom Bizarre
Die kopstuk kom van Bali; die Balinese kas (oorkant) was Deidre se ma s'n. Bedlamp van Amatuli
Die kopstuk kom van Bali; die Balinese kas (oorkant) was Deidre se ma s'n. Bedlamp van Amatuli
Die balk wat die ingang na die studeer- en slaapkamer stut, is oorskiet uit 'n vorige projek.
Die balk wat die ingang na die studeer- en slaapkamer stut, is oorskiet uit 'n vorige projek.

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

Amatuli 011 440 5065, amatuli.co.za

Barney's Paint Centre 011 446 2575

Bathroom Bizarre 0861 555 000, bathroom.co.za

Caesarstone caesarstone.co.za

Creative Stone 011 794 9737, creativestone.co.za

Farai Njobo 073 291 7246

Hertex 0860 437 839, hertex.co.za

Hydrofire 010 615 0899, hydrofire.co.za

Inspirations 011 646 0527, inspirationsjhb.co.za

Marina Louw marinalouw.co.za

Marlanteak 021 461 4049, marlanteak.com

Ngwenya Glass ngwenyaglass.co.sz

ParcHaus 10 020 7859, parchaus.co.za

Vendange 071 338 4826, vendange.co.za

Mary Jane Harris

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM