Foto's Elsa Young/Bureaux, Greg Cox/Bureaux en Henrique Wilding
Kyk uit!
Hierdie ingeboude muureenheid vir 'n slaapkamer is 'n naatlose kombinasie van 'n kopplank met plek vir boeke en speelgoed, 'n lessenaar vir werk en speel, asook 'n bedkassie. Die eenheid neem minder plek as afsonderlike meubels in beslag. 'n Groot venster op die regte hoogte laat natuurlike lig in die klein ruimte instroom en bied 'n uitsig op die tuin.

Die skakel tussen alles
Asher en Gina Stolz het 'n visuele skakel tussen die twee verdiepings van hul huis in Johannesburg geskep met behulp van 'n ligskag: 'n Opening in die vloer bo laat die natuurlike lig wat deur 'n piramiedvormige dakvenster inkom tot heel onder stroom; die dubbelvolume skep terselfdertyd die indruk van veel meer ruimte. 'n Lae muur van lugstene met 'n treffende patroon behou die visuele skakel tussen bo en onder.
"Die huis is veeldoelig en oop, en alles skakel met mekaar," vertel die argitek, Gregory Katz. "Dis nie groot nie, maar voel heerlik ruim." Plante rank teen 'n traliewerk bo die muur, wat nie net by die ontwerp van die lugstene aansluit nie, maar ook die indruk van 'n buitebalkon skep en natuurlike ventilasie toelaat. "Ons wou meer tuinruimte skep, ons leefruimte verdig en al die binnedele slim gebruik," verduidelik Asher.

Organiese skoonheid
Dié installasie waarteen Muehlenbeckia axillaris by Johannesdal 1207, 'n gastehuis en trou-venue naby Stellenbosch, rank, is geïnspireer deur 'n soortgelyke struktuur by Place des Vosges in Parys, Frankryk. Dané Erwee, een van die gastehuis-eienaars, het die ontwerp teen die muur uitgemerk; daarna is herwinde houtstroke uit een van die ou plaasgeboue met lang skroewe daarteen vasgesit. Die skroewe is agter die houtstroke versteek met plastiekpyp wat ook as spasieerders dien sodat die plant maklik daardeur kan rank. "Ons het die pyp met dieselfde verf as die muur geverf," verduidelik Chris Willemse, mede-eienaar.
Fired Earth Severe Weather-verf (kleur Tsunami) van Builders

Spel met lig
Jackie en Danielle Uitenweerde het hul hele voordeur én die glaspaneel langsaan met vertikale houtstroke bedek om tekstuur te skep. Dit vorm 'n treffende glanspunt wat met lig speel. "Ons het vertikale elemente deur ons hele huis gebruik en het gevoel dis 'n goeie idee om dit hier by die voordeur te herhaal," sê Danielle.
"Dis Jackie se droom om 'n huis in 'n woud, naby 'n waterval, te hê," verduidelik sy. "Maar dis nie nou moontlik nie, daarom het ons 'n woudgevoel probeer skep."
Jackie is medestigter van Design11, 'n maatskappy wat dekoratiewe skerms en strukture met laser sny. Hy het die inspirasie vir die ontwerp van die "dak" tydens 'n staptog in 'n woud gekry toe hy opkyk en sien hoe die blare die sonlig filtreer. "Toe skep hy 'n soortgelyke patroon hier. Dit vorm die mooiste skaduwees en skakel in by die ander elemente in ons voortuin," vertel Danielle.

Tekstuur is alles
Toe die ontwerpers en eienaars van die plaaslike mode-etiket Klûk CGDT Malcolm Kluk en Christiaan Gabriel du Toit hul ruim vierslaapkamerhuis vir 'n gesofistikeerde eenslaapkamerwoning in Kaapstad verruil, het dit fyn meet en pas gekos. Met hul voorliefde vir uitbundige kleur, gewaagde patrone en fyn detail in hul ontwerp- en dekorkeuses vorm die elemente in hul kombuis 'n spel van tekstuur - van die laaghoutkasdeure en -rakke tot hul handelsmerk se kenmerkende kleur You're My Sweetie van Plascon teen die mure. Met 'n kleiner kombuis moes die twee mooi kies watter breekware hulle die naaste aan die hart lê. "Ons gebruik nou net ons beste goed," verduidelik Christiaan Gabriel.
Ons hou van die patryspoortvenster bo die wasbak!
KONTAKTE EN VERSKAFFERS
Builders 0860 284 533
CLM 086 100 0993
Design11 082 823 6610
Gregory Katz 083 444 5515
Johannesdal 1207 084 689 9248


















