Leef

Iets méér as net tydelik vir jou oë

Die bril-dilemma: Die geveg teen stoom en reën, terwyl jy nog nie die presisie kon baasraak wat nodig is om kontaklense in te sit nie.
Die bril-dilemma: Die geveg teen stoom en reën, terwyl jy nog nie die presisie kon baasraak wat nodig is om kontaklense in te sit nie. (Illustrasies: TOQAN KI)

Refraktiewe chirurgie het merkwaardig ontwikkel oor die afgelope dekades, met tegnologiese vooruitgang wat veiliger, meer akkurate en voorspelbare resultate moontlik maak.

Of jy nou versiende of bysiende is, of aan astigmatisme ly, daar bestaan vandag bewese chirurgiese opsies wat jou spesifieke visuele behoeftes kan aanspreek. Hartog verduidelik onder meer wat die prosedure behels.

Wat is ’n refraktiewe prosedure?

’n Refraktiewe prosedure se doel is om ’n persoon se brilfout of refraksie te behandel, en hulle toe te laat om te funksioneer sonder ’n bril of kontaklense.

Daar bestaan essensieel drie tipes refraktiewe prosedures. Die vorm van die kornea kan verander word om die inkomende lig skerp te fokus. In sommige gevalle kan ’n dun sekondêre lens in die oog geplaas word. Hierdie lens kan voor of agter die kleur of iris van die oog geplaas word.

Derdens kan die oog se natuurlike lens se inhoud uitgespoel word, en ’n nuwe lens in die leë sakkie geplaas word.

Watter brilfoute word behandel?

Daar is drie brilfoute wat effektief behandel kan word met ’n refraktiewe prosedure. Bysiende of miopiese persone kan naby sien, maar kan egter nie ver sien sonder ’n bril nie.

Versiende persone se hipermetropiese brilfout laat hulle toe om ver te sien sonder hulp.

Jonger persone kan egter die hipermetropiese brilfout tot ’n groot mate wegsteek, as gevolg van die akkommodasie van die natuurlike lens. Die natuurlike lens kan van vorm verander om die fokus van ver na naby te skuif, en dus sal versiende persone slegs ’n bril benodig wanneer die brilfout baie groot is. Die situasie verander egter wanner die natuurlike lens verhard met ouderdom, en nie meer die brilfout effektief kan wegsteek nie.

Die derde brilfout is astigmatisme. Met astigmatisme is die voorkoms van die kornea nie rond nie, maar het dit die vorm van ’n rugbybal.

Die inkomende lig fokus dus nie skerp nie, maar veroorsaak ’n spookbeeld of skaduwee langs beelde.

Astigmatisme se effek is teenwoordig op alle afstande, en beïnvloed ’n persoon se ver en naby visie. Hoe werk ’n korneaprosedure?

Die mees bekende korneaprosedure staan bekend as LASIK. Daar is egter ander soortgelyke metodes, maar die doel van almal is om die vorm van die kornea akkuraat te verander sodat die inkomende lig skerp gefokus kan word om goeie visie te verseker.

Die prosedure herstel ’n persoon se ver visie, maar die natuurlike lens moet akkommodeer om nader te kan fokus vir naby werk en lees.

Laserprosedures is dus ideaal aangedui vir jonger mense. Al drie die brilfoute kan met laser behandel word.

Huidige korneale laserprosedures behandel nie net die brilfout akkuraat nie, maar maak die kornea ook gladder deur enige oneweredighede op die oppervlak te behandel. So word uitstekende skerp visie verseker.

Die alternatief tot ’n laserprosedure is die inplanting van ’n sekondêre lens wat voor die oog se eie natuurlike lens geplaas word. Die prosedure is duurder as ’n laserprosedure, maar vir baie mense is die omkeerbaarheid van die prosedure aantreklik.

Wanneer is ’n lensvervanging aangedui?

Die natuurlike lens word geleidelik harder soos mens ouer word, en vir die meeste mense beteken dit dat hulle in hulle veertigerjare ’n leesbril sal benodig. Persone wat versiende is, word natuurlik erger hierdeur aangetas, aangesien hulle lense nie meer kan akkommodeer om hulle brilfout weg te steek nie.

Hulle word dus geleidelik al hoe meer afhanklik van brille vir lees, rekenaarwerk en later selfs vir bestuur of TV kyk. Vir dieselfde rede sal ’n lensprosedure onvanpas wees vir ’n jonger persoon, aangesien hulle lense nog ’n funksie het om op verskillende afstande te fokus.

Die natuurlike lens wat versaak, bestaan uit ’n kapsel om ’n verharde inhoud. Slegs die inhoud van die natuurlike lens word uitgespoel, en vervang met ’n kunsmatige lens wat mens help om meer onafhanklik van ’n bril te funksioneer. Daar bestaan verskillende kunsmatige lense, maar die mees effektiewe lense fokus op verskillende afstande. Die verlengde-fokus-lense maak gebruik van ’n oorvleueling in die fokusafstand tussen die twee oë wat as balansvisie bekend staan. Trifokale lense fokus op drie afstande, en is die mees suksesvolle lense om totale bril-onafhanklikheid te verseker.

  • Vir meer inligting oor refraktiewe prosedures of om ’n konsultasie te reël, kontak dr. Frikkie Hartog se praktyk.

GEBORG

Dr. Frikkie Hartog

Dr. Frikkie Hartog sê daar is verskeie opsies om van jou bril en kontaklense ontslae te raak. ’n LASIK-prosedure is een van die prosedures wat jy kan doen om jou daaglikse take sonder ’n bril of kontaklense te verrig.