Huisgenoot se kortverhaal: Uitoorlê

Illustrasie: Michael de Lucchi
Illustrasie: Michael de Lucchi

Lara het aanhou hardloop, al het die koue van die winteraand haar keel gebrand. Sy het tekens van gebreekte takkies, platgetrapte gras en bloedspatsels gesoek met haar flits, maar toe die bloedspoor dikker word en die bloedspatsels nader aan mekaar, het sy die bloed begin volg en nie meer die ander tekens nie.

Sy moes die bron van al hierdie bloed vind. Hy het die gereg nog heeltyd uitoorlê en sodoende ontduik, maar vandag hét sy hom. Die hele omgewing lewe in vrees vir die ontvoerder wie se slagoffers net nooit gevind word nie.

Lara se bevelvoerder het die saak aan haar oorhandig al het hy nie sy gewone gretige vertroue uitgestraal nie. Die laaste slagoffer het ontsnap, maar kon geen besonderhede onthou om 'n gesigsamestelling te laat skets nie. Al wat sy kon onthou was die tatoe aan sy nek.

Sy was op haar laaste nagpatrollie deur die strate van haar dorp. Sy het by 'n vulstasie se 24-uur-winkeltjie stilgehou om 'n pastei te kry toe sy hom gewaar. Hy het 'n baadjie met 'n kappie aangehad.

Hy het dit laag oor sy voorkop getrek om so veel as moontlik van sy gesig te probeer verbloem, maar met sy oorhaastigheid om uit die winkel te kom, loop hy 'n vroulike klant heel van haar voete af en sy kappie glip van sy kop af.

Dis toe Lara die tatoe aan sy nek oplet. Dit was ongetwyfeld 'n demoonagtige skedel met rooi oë. Haar enigste konkrete leidraad vandat die ontvoerings vyf maande terug begin het. Sy het die standaard-polisiewaarskuwing op hom geskree.

Hy het opgekyk en gesien dat haar wapen reeds op hom gerig is. Hy het die vrou voor hom gegryp, sy wapen uit sy sak gepluk en teen haar kop gedruk; haar lyf het hy as 'n skild gebruik.

Eers by die gebou se hoek het hy die vrou hardhandig teen die muur gegooi, omgedraai en straataf gevlug. Lara het in die verbyhardloop 'n omstander beveel om nooddienste te ontbied en in dieselfde asem 'n waarskuwingskoot afgevuur.

Die man voor haar in die dofverligte pad het in die hardloop omgedraai en 'n skoot in haar rigting afgevuur. Lara het gaan staan en haar wapen op die hardlopende figuur gerig. Sy het net een kans.

Die skoot knal . . . die figuur val, maar terwyl sy nader hardloop, spring hy op en mik die bosse in. Sy kom by die plek waar hy geval het en sien 'n bloedkol. Sy het hom getref. Daar is nie tyd om vir ondersteuning te wag nie. Sy moet hom agtervolg.

Weg van die dorp se straatligte omsingel die donker haar. Alles om haar lyk dieselfde. Sy probeer luister vir geluide wat sy posisie sal weggee, maar behalwe vir die geskree van krieke, is dit doodstil. Sy moet kophou.

Ná wat soos 'n ewigheid voel, sien sy 'n dowwe lig deur die bosse. Sy skakel haar flitslig af en wag dat haar oë die donkerte gewoond raak. Sy leun vorentoe om vorms te probeer identifiseer. Net toe trek die wolke voor die maan weg.

Sowat 100 m voor haar sien sy die silhoeët van 'n vervalle skuur. Met haar Glock gereed in haar hand, sluip sy stil nader. Die skuur se groot houtdeur is effens oop, net genoeg om skuins deur te glip.

Die dowwe lig aan die ver kant van die skuur is beswaarlik genoeg om haar pad te verlig. Sy gee nog 'n tree . . . dieper in die onheilspellende, onbekende skuur in. Sy is totaal en al onbewus daarvan dat meer as een stel oë haar elke beweging dophou. Sy probeer die bloedspoor optel, maar dis te donker.

Sy weet sy moet vorentoe. Met die lig nou amper voor haar voel dit asof sy haar asem ophou om nie haar teenwoordigheid uit te lap nie, maar dis nutteloos. 'n Hou teen haar kop laat haar agteruit steier en sy val bewusteloos op die grond neer.

Sy het sewe jaar gelede as 'n polisiebeampte begin werk. Nadat sy as jong meisie ontvoer en verkrag is en die booswig weggekom het, het sy presies geweet wat sy wou word. Sy was gedrewe en hardwerkend en haar toewyding aan elke saak het daartoe gelei dat sy gou tot 'n ondersoekbeampte bevorder is.

Hier het sy haar volkome uitgeleef. Elke saak het haar onverdeelde aandag gehad. Elke leidraad is onberispelik opgevolg.

Sy het hemel en aarde beweeg om elke saak op te los. Hierdie einste gefokusde onwrikbaarheid het haar die bynaam "Leeuwyfie" onder haar kollegas besorg. Nou moet hierdie einste leeuwyfie om oorlewing veg.

Lara word wakker van 'n gedempte gekerm naby haar.

Sy voel hoe haar kop klop. Haar hand wil instinktief vat waar die pyn is, maar haar hande is agter haar rug aan 'n houtpaal vasgebind. Sy spartel rond tot sy regop kan sit en kyk na waar die gekerm vandaan kom. 'n Vrou lê vasgebind op 'n tafel. Haar klere vuil, geskeur en deurdrenk van bloed.

Haar mond is toegebind en sy kyk reguit na Lara met vreesbevange oë terwyl sy deur die lappe oor haar mond kerm. Lara knik haar kop om die vrou te probeer gerusstel en haar stil te kry. Sy kyk op na die paal waaraan sy vasgebind is.

'n Ent bo haar kop staan 'n skerp skerf geroeste yster uit. Dit behoort te werk. Sy trek haar voete, wat by die enkels vasgebind is, op tot sy op haar knieë staan.

Met haar voete druk sy haar verder op en sy slaag daarin om haarself op te lig tot sy regop staan. Die ysterskerf sit laer as haar hande en sy moet noodgedwonge effens afsak en haar posisie hou. Sy posisioneer die kabelbinder om haar polse met die ysterskerf en begin dit soos 'n mes gebruik.

Haar bobeenspiere begin brand in die ongemaklike posisie en bloed loop teen haar hande af soos sy haar kort-kort met die yster raaksny. Sy durf nie stop nie. Sy byt op haar tande en druk deur die pyn. Einde ten laaste skiet die binder los en sy kan haar bene reguit maak. Met 'n gesukkel trek sy die ysterskerf uit die hout en sny die binder om haar enkels los.

Bloed stroom teen dié tyd behoorlik uit 'n sny aan haar pols. Sy skeur 'n lang stuk van haar hemp af en bind dit om haar pols. Nou vir die vasgebinde vrou. Sy wys vir die vrou om doodstil te bly en haal die lappe om haar mond af. Sy begin om die vrou los te maak, maar halfpad deur stop sy.

Die vrou se klere is oral vol bloed, maar Lara kan geen wonde aan haar sien nie. Dit lyk asof iemand net 'n klomp bloed oor haar gemors het.

Lara staan terug, kyk na haar en vra: "Wie se bloed is op jou?"

"Myne! Die vark het my gemartel! Maak my los!" sis die vrou deur haar tande.

Lara gaan nie nou uitoorlê word nie. Sekere dinge maak nie vir haar sin nie, maar voor sy iets kan doen, gryp 'n paar sterk, harige arms haar van agter om haar nek. Haar oorlewingsinstink skop in.

Dit en jare se vegkunsopleiding. Die man agter haar is sterk en stewig op sy voete. Met haar hande tussen haar en sy arms gebruik sy sy eie gewig teen hom, trap teen die tafel voor haar, gooi haar bene en lyf oor sy skouers na agter en breek so uit sy greep los.

Voor hy haar weer kan gryp het sy sy voete onder hom uit. Sy gaan sit bo-oor hom en slaan vir al wat sy werd is.

Voor sy iets kan doen, gryp 'n paar harige arms haar van agter om haar nek

Vuis, vuis, elmboog en dan weer vuis. Skielik gryp twee pare hande haar arms vas en word sy van die man afgeruk. Die ligte in die skuur gaan aan en Lara weet sy is so pas uitoorlê.

Voor haar staan twee mans in pakke soos wafferse pikkewyne. Die langer een van die twee tree nader en wys vir die mans om haar arms te los. Hulle help die bebloede vent op. "Sy het my verdomde neus gebreek," kerm hy teenoor hulle.

Die vrou op die tafel word ook losgemaak. "Wat gaan hier aan?" wil Lara weet. Die lang pikkewyn flits sy identifikasie en stel hom as spesiale agent Andreas le Rock voor.

"Lara, ek vra verskoning vir die oordramatisering van die afgelope paar uur se gebeure, maar ons moes seker maak dat jy geskik is vir die pos. Ons hou jou al 'n geruime tyd dop. Nege maande al, om presies te wees. Die gebeure van die afgelope vyf maande met die ontvoerings tot op hierdie punt is alles georkestreer, met die hulp van jou bevelvoerder natuurlik, net om jou te toets. Nodeloos om te sê, jy het met vlieënde vaandels geslaag. Jy is hardwerkend, gefokus en uiters gedrewe. Om nie eens te praat van doelgerig nie," sê hy met 'n grynslag terwyl hy na sy bebloede kollega kyk.

"Jy is presies wat ons nodig het in ons buro. Hoe sal jy daarvan hou om deel te wees van 'n eenheid wat regtig 'n verskil wil maak in die bekamping van ontvoerings en mensehandel?"

Lara vee haar hare uit haar gesig en met 'n knipoog vir haar bebloede aanvaller vra sy: "Waar meld ek aan?"

Innibos-Storieskryfkompetisie

Is jy 'n aspirant- of gevestigde skrywer? Wen prysgeld van R5 000 vir jou kortverhaal. Die wenverhale sal oorweeg word vir publikasie in Huisgenoot.

Inligting en die inskrywingsvorm is op www.innibos.co.za beskikbaar of stuur e-pos na skryf@innibos.co.za.

Aeriela Saron

SPELETJIES VANDAG

CTA