Kortverhale

Kortverhaal: Die Ryloper

Illustrasie: Michael De Lucchi
Illustrasie: Michael De Lucchi

Ek was met my Kawasaki op pad na Johannesburg toe ek hom sien. Hy het naby Graaff-Reinet staan en duimgooi. Ek het naby hom stilgehou, die ekstra valhelm agter aan my motorfiets losgemaak en vir hom gegee.

"Sit dit op," sê ek. "Dis die wet."

Nadat hy die valhelm vasgemaak het, steek ek my hand uit. "Marli Gouws. Ek is op pad Johannesburg toe. Hoe ver gaan jy?" Hy skud my hand.

"Herman Booysen, aangename kennis. Ek is op pad na Pretoria. Ek sal dankbaar wees as ek tot in Johannesburg kan saamry." Ek was haastig om voor donker in Johannesburg te kom en het die versneller oopgedraai.

Die kragtige 750 cc-enjin het ook nie teleurgestel nie, en ons het teen 150 km/h voortgesnel. My ma gaan natuurlik die horries kry as sy hoor ek het 'n ryloper opgelaai.

Ek is lid van 'n motorfietsklub, en ek sukkel nou al lank om my ma daarvan te oortuig dat ons 'n wetsgehoorsame groep is wat vir liefdadigheid werk.

'n Paar weke gelede het ons vir die inwoners van 'n aftreeoord 'n braai gereël en geskenke uitgedeel. Die senior burgers was baie dankbaar en geamuseerd met die vrolike jong klomp met hul lawaaierige motorfietse.

Elke Kersfees gaan deel ons ook geskenke by 'n plaaslike kinderhuis uit. My ma het ons eers die Hells Angels genoem, maar ek het haar daarop gewys dat ons die Kavaliers is en geen verbintenis met die Angels het nie.

Net voor die tolhek is 'n padblokkade met 'n klomp polisievoertuie en 'n horde polisiemanne wat rondstaan. Ek ry stadig nader en wonder of hulle na ontsnapte misdadigers soek.

Die polisieman wat die verkeer reël, beduie ek moet aanry. Hulle stel blykbaar nie in motorfietse belang nie - iets waaroor ek dankbaar was, en my passasier ook, het ek later uitgevind.

Naby Johannesburg laai ek hom af, want ek moet 'n afrit na die sentrale deel van die stad neem. Daar is nog genoeg daglig dat hy 'n geleentheid na Pretoria kan kry.

Ek is net jammer ons het nie meer tyd gehad om te gesels nie, want hy lyk na 'n interessante mens. Dis vir my net vreemd dat hy geen bagasie het nie.

My bagasie het ek al die vorige aand saam met my suster en swaer huis toe gestuur. Terwyl ek die laaste paar kilometer aflê, dink ek aan die Kavaliers en die werk wat ons doen. Dit kos baie geld, maar gelukkig is daar 'n paar ryk sakemanne wat ons borg.

Hulle help graag, want hulle hou daarvan om hul name in die koerant te sien. Koerante skryf gereeld oor ons doen en late, en die borge word ook genoem.

Ons gaan dikwels Sondagoggende op "ekskursies" en kies die oop pad na die een of ander vakansieoord waar ons gaan piekniek hou. Agt en twintig motorfietse op die pad klink soos 'n donderstorm - iets wat die inwoners (en hul honde) tot waansin dryf.

Ons is al vir rusverstoring verkla, maar die metropolisie was ons nog altyd goedgesind, want vier van ons lede is polisiemanne.

Dis vroeg die volgende oggend en my suster en swaer slaap nog toe ek die voordeur oopmaak om die Sondagkoerant voor die deur op te tel. Ek gaan sit in die sitkamer en begin lees.

Dan sit ek vinnig regop toe ek Herman Booysen se foto op die voorblad sien. 'n Tipiese polisie-mugshot. Ek word yskoud toe ek die verdoemende berig lees: 'n Landwye soektog na die vermeende bankrower John Williams is van stapel gestuur.

Williams, een van drie verdagtes wat Vrydag in Port Elizabeth ná 'n mislukte bankroof in hegtenis geneem is, het uit polisiebewaking ontsnap. Hy het al voorheen 'n vonnis vir verkragting uitgedien. Booysen is dus 'n vals naam.

Hoe kon ek ooit in so 'n gemors beland het? Ek loop al die hele oggend rond en bekommer my. Kan ek as 'n mede- pligtige aangekla word? Wat staan my te doen? Moet ek die polisie vertel dat ek die vent 'n geleentheid gegee het?

Ek ken net een mens wat my raad kan gee en met wie ek my duistere geheim kan deel: my vriend Karel Brits. Hy is ook lid van die klub. Hy het 'n graad in die regte en doen sy klerkskap by 'n prokureursfirma.

Ek is net jammer ons het nie meer tyd gehad om te gesels nie, want hy lyk na 'n interessante mens

Hy is net die regte ou om my raad te gee. Karel se foon lui net een keer voor hy antwoord.

"Hallo, Marli. Wat 'n verrassing! Dis mos nou skoolvakansie en julle onnies hou nou lekker vakansie terwyl ons slawe moet werk."

"Hallo, Karel. Ek verseker jou, die onnies het die vakansie net so nodig soos die kinders. Maar daar's iets waaroor ek regsadvies nodig het." "Dit klink ernstig. Wat het jy nou weer aangevang?"

"Ek wil dit nie oor die foon bespreek nie. Ek nooi jou vir middagete by die Dros. Dan kan ons dit bespreek. Goed so?" "Mmm, ja. Dit sal lekker wees. Jy's nie dalk in die moeilikheid nie? As jy is, kan ek jou nie help nie, want ek is nog nie 'n prokureur nie."

"Ek weet nie of ek in die moeilikheid is nie, Karel. Dis wat ek probeer uitvind. As ek wel is, kan jy my dalk na 'n prokureur verwys."

"Ek help graag. Sal ek jou by die restaurant ontmoet of moet ek jou kom oplaai?"

"Ek sal jou eenuur daar kry, oukei?" "Perfek. Sien jou eenuur."

Ek is 'n paar minute voor een in die restaurant vir ons afspraak, want Karel is 'n stiptelike mens. Wanneer hy sê eenuur, bedoel hy eenuur en nie 'n minuut ná een nie.

Twee minute voor een hoor ek die kenmerkende gebrul van sy motorfiets voor die restaurant. Hy stap ook presies om eenuur in die restaurant in. Hy luister aandagtig na my storie sonder om my in die rede te val.

"Toe ek hom oplaai, het ek nie geweet die vent is 'n voortvlugtige nie. Ek is siek van bekommernis. Wat sê die wet, Karel? Is ek 'n medepligtige? Wat moet ek doen?"

"Nee, Marli, jy is nie 'n medepligtige nie. Maar daar is 'n kinkel: As jy nie jou ontmoeting met Williams rapporteer nie, kan dit as regsverydeling beskou word."

"Regsverydeling? Ek verstaan nie."

"Die wet is duidelik: As jy oor enige inligting of kennis van 'n misdaad beskik, is dit jou plig om dit aan die betrokke owerheid te rapporteer."

"Wat moet ek doen? Verskoon tog, ek is maar dom met hierdie dinge."

"Ek wil jou aanraai om na die naaste polisiekantoor te gaan om jou storie te vertel. Hulle sal 'n skriftelike verklaring afneem."

"Hulle gaan my nie dalk opsluit nie?" Hy lag.

"Nee, Marli, hulle sal jou nie opsluit nie. Jy het geen wet oortree nie, mits jy 'n verklaring gaan aflê."

"Jy sê dit met soveel selfvertroue dat ek jou glo."

"Jy kan ontspan. Die polisie sal dankbaar wees vir die inligting, want dan weet hulle die ou kruip nou iewers in Pretoria weg."

Dis laatmiddag toe ek in die polisiekantoor instap om my verklaring af te lê. Dit gaan makliker as wat ek verwag het. Nadat ek my storie vertel en die dosyne vrae van die twee speurders beantwoord het, gee hulle my 'n getikte verklaring om te onderteken.

Die volgende oggend is my suster en swaer reeds op pad werk toe toe die voordeurklokkie lui. Dis 'n verslaggewer en fotograaf van die plaaslike koerant. Iemand by die polisiekantoor moes hulle 'n wenk gegee het.

"Juffrou Louw, ek verstaan jy het 'n ryloper en bankrower 'n geleentheid Johannesburg toe gegee. Kan ons 'n paar minute gesels?"

"Ja, kom in. Maar ek wil dit duidelik maak ek het nie geweet die vent is 'n voortvlugtige nie." Die onderhoud is kort, en hulle neem 'n paar foto's. En net ná ses die aand storm my suster met die aandkoerant in die sitkamer in.

"Marli, jy's voorbladnuus!"

Die volgende oggend is ek op pad na 'n boetiek toe ek 'n swart Ford skuins oorkant ons huis in die straat opmerk. Agter die stuur sit 'n man en koerant lees, maar ek kan nie sy gesig sien nie.

Toe ek tuiskom, is die Ford steeds daar. Ek voel onrustig en sluit die voordeur. Ek begin die klere wat ek gekoop het, uitpak toe die voordeurklokkie lui. By die deur hoor ek vinnige voetstappe buite, gevolg deur 'n geskuifel, kreungeluide en vloekwoorde.

Ek kyk deur die loergaatjie en sien hoe twee polisiemanne 'n man vashou en sy hande agter sy rug vasboei. Dan verskyn nog 'n man in 'n pak klere. Ek herken hom as een van die speurders wat my in die polisiekantoor ondervra het.

Ek maak die deur oop en sien hoe die polisiemanne John Williams wegsleep en agterin die Ford inboender. "Luitenant, wat gaan aan?" vra ek. "A, juffrou Louw. Ons ontmoet mekaar weer. Williams is toe nooit Pretoria toe nie."

"Wat het hy hier kom soek, en hoe het hy geweet waar ek woon, luitenant?"

"Hy het jou kom soek. Hy het die storie in die koerant gesien en jou adres by die koerant gekry. Het hulle vertel dat jy 'n ou vriendin is met wie hy kontak verloor het. Iemand by die koerant het hom egter herken en ons gebel.

"Ons het te laat by die koerant opgedaag om hom in hegtenis te neem. Toe ons hoor hy het jou adres, het ons geweet waarheen hy op pad is. Ons het die huis dopgehou en hom ingewag."

Ina Louw

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM