#1 ROMERIGE AARTAPPELSLAAI MET KRUIE
Dié aartappelslaai is weelderig in sy eenvoud, maar as jy oordadig wil raak, kan jy ook gebraaide uie, gebraaide sampioene en brosgebraaide spek byvoeg.
Kook 700 g aartappels tot net sag, dreineer en laat afkoel tot hanteerbaar. Meng intussen 125 ml suurroom of Griekse jogurt, 125 ml Fransestyl-mayonnaise, ongeveer 15 ml suurlemoensap en 3 ml gerasperde suurlemoenskil, 2,5 ml fyngerasperde knoffel, 'n knippie gedroogde gemengde kruie, 'n knippie matige kerriepoeier, 'n knippie suiker en sout en gemaalde swartpeper na smaak. Skil die aartappels en breek elkeen versigtig met jou vingers in happiegroot stukke. Roer die sousie deur, skep op 'n dienbord en strooi 'n hand vol sagte vars kruie oor - basilie, dille, bronkors en mikrokruie is heerlik.
#2 MORNé SE AARTAPPELSLAAI MET KONDENSMELK
Ek het nooit gedink ek sal hou van 'n sweempie soet in my aartappelslaai nie, tot ek my swaer Morné Marais s'n geproe het. Dis heerlik saam met braaivleis op 'n Sondagmiddag.
Begin deur 200 ml mayonnaise (Morné gebruik Nola), sowat 30 ml kondensmelk (of na smaak), 5 ml mosterdpoeier en 45 ml melk te meng; geur met sout en witpeper. Kook 700 g aartappels met die skil aan. Dreineer die aartappels sodra dit sag is, skil en sny in kwarte. Meng nou die warm aartappels met die sous en laat effens afkoel. Rasper 2 hardgekookte eiers bo-oor en garneer met 'n ruim strooisel paprika en gesnipperde grasuie. Sit verkieslik voor teen kamertemperatuur (nie yskaskoud nie).
#3 WARM AARTAPPELSLAAI MET SPEKVINAIGRETTE
Dié geurige slaai kry nie mayonnaise nie en is op sy beste louwarm. Die spinasie is opsioneel, maar ek is mal oor die ekstra tekstuur (en dit paai my gewete oor al die weelderige spekvet)!
Halveer 500 g baba-aartappels met skil en al en kook dit in soutwater tot sag. Verhit 30 ml olyfolie en braai 150 g gekapte spek daarin tot lekker bros. Roer 1 klein gekapte rooi ui by en braai stadig tot geurig. Roer sowat 45 ml appelasyn, 5 ml korrelmosterd en 'n knippie suiker by die pan en meng deur. Dreineer die aartappels en voeg dit warm by die spekmengsel. Meng deur, verwyder van die hitte en strooi sowat 30 ml gekapte pietersielie en sowat 6 gesnipperde spinasieblare oor. Laat effens afkoel, proe en geur na smaak met sout en peper.















