Dis amper tyd! Spog met jou eie Kerskoek

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
  • 250g - pitlose rosyne
  • 250g - korente
  • 250g - sultanas
  • 200ml - brandewyn
  • 250g - dadels, ontpit en gekap
  • 250g - glanskersies
  • 250g - gemengde sitrusskil
  • 250g - ingemaakte gemmerstukke
  • 250g - waatlemoenstukke
  • 250g - heel groenvyekonserf
  • 250g - heel gemengde neute, rofweg gekap
  • 480g - koekmeel
  • 5 ml - sout
  • 15ml - bakpoeier
  • 7,5ml elk - gemengde speserye, fyn kaneel, fyn gemmer, neutmuskaat en fyn naeltjies
  • 300g - sagte botter
  • 160ml - bruinsuiker
  • 160ml - gouestroop
  • 7 - eiers
  • ½ - suurlemoen se sap
  • 10 ml - vanieljegeursel
  • 125 ml - brandewyn (ekstra)

'n Baie ryk vrugtekoek met net genoeg beslag om die vrugte en neute bymekaar te hou. Bak die koek 'n maand of twee voor Kersfees en giet elke week 'n doppie brandewyn daaroor.

1. Week die rosyne, korente en sultanas in die 200ml brandewyn tot sag (verkieslik oornag of selfs langer).

2. Voer 'n vierkantige 28cm-koekpan met 'n dubbele laag gesmeerde bruinpapier uit sodat die papier 10 cm bo die rand van die pan uitsteek. Doen moeite hiermee, al is dit frustrerend om die papier te sny en netjies te laat pas. Dit keer dat die koek aanbrand en verseker dat die koek se rande en die vrugte sag bly.

3. Plaas die dadels, kersies en sitrusskil in 'n mengbak. Dreineer die gemmer, waatlemoen en groenvyekonserf, maar moenie die stroop van laasgenoemde twee weggooi nie (jy kan die gemmerstroop maar weggooi). Sny die vrugte in 10 mm-blokkies en voeg dit saam met die waatlemoen en groenvyekonserf se stroop by die ander vrugte in die mengbak. Voeg die neute ook hierby. Sif die droë bestanddele drie keer saam.

https://www.netwerk24.com/tuis/kos/hier-is-ons-top-3-resepte-met-gerookte-ham-20201217

4. Room die botter en suiker saam tot lig en donsig. Voeg die gouestroop by en klop dit goed. Voeg drie van die eiers een-een by en klits deeglik ná elke byvoeging. As die mengsel wil skif, voeg 'n bietjie van die gesifte meelmengsel by. Gaan nou voort om die meel en die eiers om die beurt by die geroomde mengsel te voeg. Roer die suurlemoensap en geursel by.

5. Roer laastens al die vrugte - ook die geweekte vrugte - by. Meng goed. Skep die beslag in die voorbereide koekpan en bak dit teen 120°C vir sowat 4½−5 uur of totdat 'n toetspen skoon uitkom. Haal die koek uit die oond en laat staan dit vir sowat 15 minute om af te koel. Prik die koek met 'n toetspen en giet die 125 ml brandewyn oor. Draai die koek in 'n dubbele laag aluminiumfoelie toe en laat dit daarin bly totdat dit voorgesit word.

Sonja Jordt

SPELETJIES VANDAG

CTA