Kos + wyn

RESEP | Braaibroodjie-calzones

  • 1 kg - gekoopte brooddeeg
  • - meel vir strooi
  • - sowat 60 ml blatjang
  • 2 - groot rooiryp tamaties, in skyfies gesny
  • ½ - wit ui, in dun skyfies gesny
  • 750 ml - gerasperde cheddar en mozzarella, gemeng

1 Voorverhit die pizza-oond deur 'n klein vuur agterin of teen die kant te maak; voeg hout by soos nodig om die vuurtjie net-net aan die gang te hou en gee kans dat die oond die regte temperatuur bereik*.

2 Verdeel die deeg in 6 ewe groot dele en werk op 'n meelbestrooide oppervlak. Rol elke stuk deeg in 'n dun sirkel; smeer 'n dun lagie blatjang oor die middel, rangskik op een helfte twee skywe tamatie (geur met sout en peper), gevolg deur 'n paar skyfies ui en laaste 'n handjie vol kaas. Vou toe in 'n halfmaanvorm. Seël die calzone deur die onderste lip effens bo-oor die boonste te vou en dit vas te knyp. Gebruik genoeg meel om te keer dat die pasteie aan die oppervlak vassit en skeur, maar nie soveel dat die deeg te min klou het vir uitrol nie.

3 Maak met 'n skerp mes twee diagonale insnydings in die bokant van die pastei. Sit 'n dik strooisel meel op jou spaan voor jy die calzone optel en in die oond skuif, oorkant die vuur. Bak vir sowat 4 minute totdat die bodem sy vorm hou; draai die pastei dan 180° met die spaan en bak nog 4 minute. Hou maar dop, dis steeds 'n vinnige proses en baktyd sal afhang van hoe warm jou oond is. Sodra die vulsel borrel, is dit gewoonlik reg. Sit warm uit die oond voor.

*Onthou, dit neem sowat 2-3 uur, afhangend van die grootte, om 'n pizzaoond te verhit. Vir pizza moet die hitte tussen 300 °C en 400 °C wees, maar omdat calzone dikker is en langer bak, kan dit effens koeler wees - nader aan 300 °C. Met 'n infrarooi-termometer (beskikbaar by yuppiechef.com) kan jy sonder kontak bepaal wat die temperatuur in die oond is.

In 'n gewone oond:

Voorverhit die oond tot 230 °C. Sit die bereide calzones op 'n bakplaat wat met 'n bietjie meel bestrooi is en bak onderin die oond vir 10-15 minute of tot goudbruin en gaar.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM