Dié groot kaas – dis mos wêreldklas!

Nellie Fischer met een van haar kaaswiele.
Nellie Fischer met een van haar kaaswiele. (Foto: Michel Dei-Cont)

“Ek is nog elke keer opgewonde wanneer ek ’n wiel kaas sien vorm. Elkeen wat ek maak is ’n nuwe uitdaging en ’n kans om iets besonders te skep,” sê Nellie, wat onlangs in Bern, Switserland, by die Wêreldkaas-toekennings as die wêreld se beste vrouekaasmaker aangewys is.

Dis dié grootste kaaskompetisie, met meer as 5 200 kase van 46 lande en 265 beoordelaars.

Nellie, van Dalewood Fromage naby die Paarl, het die slag geslaan met haar Dalewood Fromage Boland. Die titel het haar sprakeloos gelaat.

“Ek het teruggedink aan waar alles begin het . . . toe ek as jongmeisie aarbeie op dié einste plaas gepluk het. Dit het my herinner dat harde werk, geloof en deursettingsvermoë jou verder kan neem as wat jy ooit kon droom. Ek was intens dankbaar teenoor God, my familie en almal wat my deur die jare ondersteun het.”

Hul jerseykoeie is deel van Dalewood se sukses.
Hul jerseykoeie is deel van Dalewood se sukses. (Foto: Michel Dei-Cont)

Nellie het in 1986 by Dalewood begin en in 2000 na kaasmaak oorgeskakel.

“Dit was ’n groot stap vanaf plant en pluk. Ek is op sestien uit die skool, so dit was ’n uitdaging om met min formele onderwys ’n loopbaan te begin wat vaardigheid en kennis verg, maar ek was gereed om te leer.”

Sy is dankbaar teenoor Robert Visser, eienaar van Dalewood, wat haar die kans gegee het.

“Ek dink hy het my passie en deursettingsvermoë raakgesien. Ek was bereid om hard te werk en verantwoordelikheid te aanvaar en ek was gretig om aan te hou groei.”

Om ’n goeie kaasmaker te wees verg geduld, aandag aan detail en toewyding aan gehalte, sê sy.

“En veerkragtigheid! Foute gebeur, maar die beste kaasmakers leer daaruit en streef om te verbeter.”

In 2010 het sy vir drie weke in Boergondië, Frankryk, opleiding ontvang onder leiding van die Suid-Afrikaanse kaaskenner Kobus Mulder.

Sy sê die ervaring was vir haar ’n hoogtepunt: “Dit het my as kaasmaker en mens verryk. Dit was ongelooflik.”

Nog ’n hoogtepunt is om jong kaasmakers te mentor.

“Dit maak my trots om die volgende generasie te help vorm.”

CTA