Met chenin blanc-wyne in hul reeks wat van ou wingerde gemaak word, is Kleine Zalze al kundig in die hantering van dié wingerde.
Kleine Zalze se Family Reserve Chenin Blanc, Vineyard Selection Chenin Blanc en Project Z Chenin Blanc word almal gemaak van Stellenbosse wingerde wat ouer as 35 jaar is.

Chenin staan uit
Dit is geen verrassing nie dat chenin blanc so gereeld opduik as daar van ouwingerdwyne gepraat word. Suid-Afrika het die grootste aanplantings van chenin blanc ter wêreld en dit word aanvaar dat chenin blanc onder die variëteite was wat op die geskiedkundig dag van 2 Februarie 1659 gepars is.
Terloops, die meeste van die Ou Wingerdprojek-wyne word van chenin blanc gemaak en daar is 2 475 ha ou wingerd chenin blanc in Suid-Afrika.
"Hierdie senior chenin blanc-wingerde - wat 35-jaar of ouer moet wees om aan amptelike Heritage Old Vine-status te voldoen - verleen nie net 'n beeld van gevestigde tradisie en wynkultuur aan die Kaap nie, maar lewer ook uitsonderlike wyne. Dit is 'n bewese feit dat ouer wingerde wyne bied van 'n komplekse struktuur en geurprofiel wat verskil van hul jonger chenin blanc-sibbes," deel Carina Gous, hoofbestuurder van Kleine Zalze-wyne in Stellenbosch.
Volgens haar lewer die vrug van hul ou wingerde nie net fantastiese wyne nie, maar dit voeg ook waarde toe met die gees van tradisie en erfenis wat dit aan die handelsmerk bied.
Kleine Zalze se ou wingerde staan meestal op granietgrond in die Stellenbosse wyke van Faure, Bottelary en Devonvallei, met die meerderheid wat droëland geboer word.
RJ Botha, Kleine Zalze se keldermeester, meen die wingerde vertel 'n storie van hoe hierdie wingerde oor drie dekades hulself in die harde grond geanker en verskeie koue winters en snikwarm somers oorleef het.
"Sodoende het hulle geleer hoe om saam met die natuurlike elemente te leef. Dus het hulle deur die jare as't ware deel geword van die grond en hul omgewing wat hulle daartoe in staat stel om werklik die geografie van die wêreld waarin hulle leef, weer te gee," sê hy.
Dan is daar natuurlike die gehalte wat die vrug aan die wyne gee. Volgens Botha gee die ou chenin blanc-wingerde 'n suiwerder uitdrukking van die karakter van die kultivar. "Met ou wingerd kan 'n mens nie sê die wyne is noodwendig beter as dies van jonger wingerde nie, maar hul deugde staan in die eie persoonlikheid wat hulle na die wyne bring, iets wat jonger wingerde sukkel om te bied," sê hy.
Pangebraaide garnale en calamari met Za'atar-roomsous en pastarysGenoeg vir vier mense en 'n voorgereg.

Wat jy nodig het
- 200 g pastarys (orzo)
- Olyfolie
- 12 skoon, rou garnale
- 400 g skoon baba-calamari, in dun ringe gesny
- 250 ml room
- Sap van 1 suurlemoen
- 15 g Za'atar
- 50 g sprietuie
- 20 g grasuie
Maak dan só
Kook die pastarys tot gaar, dreineer en hou eenkant.
Verhit 'n groot diep pan op die stoof en voeg olie by, braai nou die garnale en calamari vinnig op warm hitte, dit sal ongeveer 3 min op die langste neem.
Gooi nou die room in die pan en voeg die gaar pastarys by. Prut alles saam vir nog 2 min, geur met die suurlemoen en die Za'atar, asook sout en peper.
Skep uit in 4 bakkies en versier met die gras- en sprietuie.
Geniet saam met die Kleine Zalze Vineyard Selection Chenin Blanc 2023.
Gerookte varklies & kapokaartappels met soetrissie-en-paprikasous

Genoeg vir vier mense as 'n hoofgereg.
Wat jy nodig het
- 800 g heel gerookte varklies, velverwyder
- Gerookte Spaanse paprika
- 50 g esdoringstroop (maple syrup)
- 250 g botter
- 30 ml sjerrie-asyn
- 1x250 g pakkie gemarineerde soetrissies (groen, rooi en geel)
- 4 groot aartappels, geskil
- 50 ml room
Maak dan só
Sout en peper die varklies en geur goed met die gerookte paprika, braai stadig in 'n 160 °C oond vir ongeveer 60 minute.
Draai nou die oond tot 200 °C en smeer die varklies met die esdoringstroop, sit terug in die oond en bak dit vir nog 15 minute.
Haal dit uit die oond, plaas 200 g van die botter in die pan asook die sjerrie-asyn.
Dreineer die soetrissies en gooi in die pan.
Laat die varklies rus vir minstens 30 minute. Bedek dit met tinfoelie sodat die geure van die vleissouse en die ander bestanddele tyd het om te integreer.
Sny intussen die aartappels in klein blokkies en kook in soutwater tot sag.
Dreineer en gooi die aartappels terug in die pot. Verhit en roer sodat alle oortollige water verdamp, verwyder van die hitte, druk fyn en roer eers die orige botter en dan die room deur.
Haal nou die varklies uit die pan en sny dit in 4 mooi skywe.
Plaas die kapokaartappel in die middel van die borde en plaas 'n sny van die varklies op die kapokaartappel.
Maak die pansous en die soetrissies op die stoof vir ongeveer 2 min warm en gooi dan die sous-en-soetrissies oor.
Geniet saam met die Kleine Zalze Family Reserve Chenin Blanc 2022.




















