Landbou

Vereniging gestig om organiese wyn te bevorder

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Met 11 stigterslede is Organic Wines South Africa se doel om die meriete van volhoubaarheid in ons landbouprosesse en van die nie-chemiese produksiemetodes van ons wyne breedvoerig te bemark.

Hierdie vereniging, wat amptelik op 4 September 2024 gestig is, is vir gevestigde, gesertifiseerde organiese wynlandgoedere in die land.

Produsente van organiese wyn het nou ook hul eie vereniging.
Produsente van organiese wyn het nou ook hul eie vereniging.

Luidens die groep streef hulle daarna om die ontwikkeling van volhoubare produksie in die wynbedryf te bevorder, sowel as die deel van inligting en tegniese ervaring en kundigheid. Hulle gaan ook saamwerk om hierdie wyne plaaslik en internasionaal te bemark.

Die stigterlede is Avondale, Joostenberg-landgoed, Lazanou Organic Vine­yards, Longridge-wynlandgoed, Noble Hill-wynlandgoed, Org de Rac Organic Wine Estate, Stark-Condé, Reyneke Wines­, Radford Dale Organic Estate, Sophie Germanier Wines en Spier. Die bestuurskomitee bestaan uit Alex Dale (Radford Dale) as die voorsitter, Johan Reyneke (Reyneke Wines) as die tesourier en Tyrrel Myburgh (Joostenberg) as die sekretaris.

Die vereniging beoog om die groep verder uit te brei met enige Suid-Afrikaanse produsent wat organies gesertifiseer is wat by hulle kan aansluit. Dit is ook oop vir produsente wat besig is om hul sertifisering te finaliseer. Hulle het die EU-kriteria ingevolge verifieerbare sertifiseringsparameters aangeneem sodat 'n optimale vlak van voldoening verseker word om as 'n lid te kwalifiseer.

"Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het in die afgelope 30 jaar al baie gevorder. In so 'n mate dat ons wyn in baie van die goed ingeligte markte oor die wêreld heen erken word vir sy toenemende gehalte en goeie waarde.

"Met die stigting van Organic Wines SA het ons die geleentheid om energieke leierskap te bied vir die missie om ons fokus te verbeter met betrekking tot volhoubaarheid - met 'n spesifieke fokus op wingerdkunde," sê Dale.

Meer oor die organiese bedryf

Organic Wines SA sê 8,4% van die wingerde oor die wêreld heen was in 2022 organies - 1,4% meer as in 2005, volgens Organic World.

Daar word geskat dat die grootte van die wêreld organiese wynmark teen 2030 sowat 21,48 miljard dollar sal bereik, want daar is 'n toenemende vraag na organiese kos en drankies.

Die International Wine and Spirits Record (IWSR) doen verslag dat die wêreldwye verkope van organiese wyn meer as verdubbel het in die afgelope dekade. In 2012 is 29 miljoen kaste organiese wyn verkoop en in 2022 het dit na 71 miljoen vermeerder - 'n styging van 145%!

Suid-Afrika het tans tussen twee en drie dosyn organiese wynkelders, maar dit is minder as 1% van die totale wynproduksie.

Organic Wines SA glo dat die geleentheid daar is om hierdie kategorie uit te brei, veral aangesien die markaandeel reeds beskikbaar is. Suid-Afrika se topdrie internasionale markte (Verenigde Koninkryk, Duitsland en die VSA) is reeds onder die vier voorste wêreldmarkte vir die verbruik van organiese wyn.

Daar word geskat dat die grootte van die wêreld organiese wynmark teen 2030 sowat 21,48 miljard dollar sal bereik, want daar is 'n toenemende vraag na organiese kos en drankies.

Waarom organies?

Organic Wines SA sê dat organiese wynboerdery heelwat voordele inhou.

Dit is onder meer die doeltreffendste beskikbare hulpmiddels om koolstof vas te vang, en dit bou kragtige boerderystelsels en veerkragtiger wingerde wat die gevolge van klimaatsverandering beter kan weerstaan.

Organiese wyn word gemaak sonder enige chemiese plaagdoders, kunsmis en ander sintetiese chemikalieë - alles wat 'n negatiewe invloed op mense se gesondheid en die omgewing het, en verbruikers besef dit. Die vereniging glo dat soos verbruikspatrone verander, moet produksie volg.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM