- 8 - hoenderborsfilette
- 1 eetlepel - olyfolie
- 1 eetlepel - braaivleisspesery (ons gebruik Six Gun Grill Seasoning)
- 8 skyfies - cheddarkaas
- 100 g - pancettarepies of swartwoudham – jy het genoeg nodig om die kaas op elke borsie te bedek
- 8 - roosterkoeke (ons het die klaargemaakte soort by Checkers gekoop)
- ’n hand vol - roketblare
- 2 - groot ryp tamaties, in skyfies gesny
1 Vlek elke hoenderfilet oop deur met 'n skerp mes 'n insnyding in die middel te maak en dit dan oop te flap. Dit vergroot die oppervlakte van die borsie en jy kan 'n rolletjie beter vul daarmee. én dit braai vinniger gaar.
2 Vryf die borsies oraloor met die olie en speserye in en pak hulle langs mekaar in 'n toeknyprooster. Braai die hoender oor taamlik warm kole totdat die gesnyde kante kleur kry. Draai die rooster om en haal dit vir eers van die kole af.
3 Pak nou op elke hoenderborsie se gebraaide kant 'n skyfie kaas en bedek die kaas met 'n pancettarepie. (Sny dit sodat die hele skyfie kaas bedek word.) Sit die hoender terug op die kole en braai die onderkant vir 'n paar minute tot die hoender so te sê deurgaar is. Draai die rooster nou vinnig om sodat die pancetta kan kleur kry en die kaas smelt.
4 Braai die broodjies vinnig totdat die botter binne-in lekker gesmelt is.
5 Bou die hoenderburgers deur die blare en tamatie tussen die warm broodjies te verdeel en dan 'n smullekker hoenderborsie op elkeen te sit.
Ry & Sleep sê
Dié hoenderburgers gebruik gekoopte roosterbroodjies vir gerief, maar maak gerus self roosterkoek oor die kole óf koop vars rolletjies by 'n padstal op pad na jou kampbestemming.




















