Kos + wyn

Potpoeding in die boendoes – kies kortpad met bokskoek!

  • 1 vanieljegeur bokskoek
  • (raadpleeg die verpakking, maar vir Ina Paarman se bokskoek het ons 3 eiers, ½ koppie olie, ¼ koppie gesmelte botter en 1 koppie melk gebruik)
  • gerasperde skil van 1 lemoen (opsioneel)
  • Vir die sous
  • 1 blik (410 g) - ingedampte melk
  • 1 koppie - suiker
  • 1 koppie - swart koffie (of gebruik warm water)
  • 1 eetlepel - botter

1 Klits die eiers, olie en botter vir 30 sekondes teen 'n hoë spoed saam - 'n elektriese klitser of selfs staafmenger sal baie help, hoewel jy dit met genoeg spierkrag ook met 'n ballonklitser kan doen.

2 Gooi die melk by en klits alles saam tot gemeng. Roer die droë bestanddele uit die pakkie plus die lemoenskil versigtig by - vou dit saam tot net-net gemeng.

3 Skep die beslag in 'n gesmeerde platboompot (ons het 'n nr. 3 gebruik), sit die deksel op en "bak" dit oor matige kole (met 'n paar kole op die deksel) vir 45 minute of tot 'n mespunt skoon uitkom as jy dit in die middel van die koek druk. Moet liefs nie voor 30 minute die deksel lig nie, anders kan die koek in die middel platval - die gaarmaaktyd is gewoonlik effens langer as in die oond.

4 Smelt al die sousbestanddele saam en roer dit tot die suiker opgelos is.

5 Druk met die agterkant van 'n hout­lepel gaatjies oraloor die gaar koek en giet die warm sous dadelik oor sodat dit lekker kan intrek.

Ry & Sleep sê

Roer 'n eetlepel asyn by die melk in die beslag om karringmelk te maak. As lemoen-en-koffie nie vir jou is nie, kan jy natuurlik hou by skoon vanielje óf 'n skeut van jou gunsteling-likeur by die sous voeg om die koue te tem.

Johané Neilson | Foto: Ed O’Riley