Kos + wyn

Ken jou steak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
So lyk rou T-been-, lende- en kruisskyf. Foto’s: RUAN BEKKER
So lyk rou T-been-, lende- en kruisskyf. Foto’s: RUAN BEKKER

Baie mense dink steak is iets wat 'n mens eerder net in 'n restaurant bestel omdat dit moeilik is om reg gaar te maak. Hoekom probeer jy dit nie 'n slag self braai nie?

Ruan Bekker van Crown National sê die mees algemene steaksnitte is kruisskyf (rump), lendeskyf (sirloin), beesfilet en T-beenskyf.

"Die verskillende soorte vleise se smaak verskil na gelang van die gedeelte van die karkas waarvan dit afgesny is. Gewoonlik is die agterste gedeelte van die beeskarkas die geurigste. Rump en sirloin kom van die agterste kwart van die bees en het natuurlik die meeste smaak. Die filet kom ook van die agterste gedeelte maar het geen vet of marbling soos ons dit in Engels noem nie."

Hy sê mense moenie voel daar is 'n regte of verkeerde manier van braai nie, maar hy deel tog 'n geheim of twee.

Dit begin wanneer jy die vleis in 'n slaghuis of supermark koop. "Eerstens wil jy nie bloedrooi steak koop nie." Steak wat te vars is, verduidelik hy, het nie baie smaak nie.

"Die ideaal is 'n steak wat sowat 21 tot 28 dae lank verouder is. Verouderde steaks beteken dat die ensieme in die vleis se bindweefsel opbreek, wat die vleis sappiger en sagter maak.

"Steak moet kamertemperatuur wees voordat dit gegeur of gebraai word. Die vleis sal 'n bietjie purge en mense dink gewoonlik dis bloed, maar dit is 'n kombinasie van water en proteïene - in steak se geval is dit mioglobien."

Heerlike beesbeenmurg kan met knoffel, swartpeper en growwe sout gebraai word.
Heerlike beesbeenmurg kan met knoffel, swartpeper en growwe sout gebraai word.

Só braai jy 'n steak

Daar is verskeie vlakke van gaarheid wanneer dit by die braai van steak kom:

  • Blou-rou (blue rare) - die steak word net aan die buitekant geseël en is rou binne.
  • Rou (rare) - die steak is minder as twee minute op die rooster.
  • Medium rou (medium rare) - dit is die gewildste manier waarop steak bedien word. Net onder die vel is die vleis mooi pienk, en die middel is nog rooi.
  • Medium - die steak het in die middel van die snit 'n ligte pienk kleur.
  • Medium gaar (medium well) - daar is nie 'n pienk skynsel aan die vleis nie.
  • Gaar (well done) - is goed gaar "en Dracula word gespaar".

Hoe om dit te bedien

  • Kruisskyf is nogal geurig en minder speserye is nodig. Die rede hiervoor is dat jy die vleis wil proe.

"My gunsteling is 'n bietjie Six Gun Grill en growwe peper. Ek braai veral hierdie snit rou tot medium-rou - die vetjie moet mooi bruin gebraai wees.

'n Sous is nie nodig by dié steak nie."

  • Lendeskyf is 'n sagter snit met 'n klein bietjie minder smaak.

"Hier stel ek voor dat die steak 'n klein bietjie gesalf word met olyfolie. Vir speserye gebruik ek Six Gun Grill en Safari Biltong. Ek braai hierdie snit medium-rou. Sny 'n vars suurlemoen op en druk dit oor die steak uit. Probeer 'n lekker sousie soos die Meisterclub-pepersous."

  • T-beenskyf het 'n lendeskyf-gedeelte (die groter gedeelte met die vet aan) en die kleiner gedeelte is die filet.

"Giet ook olyfolie oor die T-been en dan strooi ek Six Gun Hot op die vleis. Ek braai die T-been eers op die been. Die rede hiervoor is omdat die been warm raak en dit maak die vleis van die binnekant af gaar. Die been gee ook lekker smaak aan die vleis.

"Ek braai die T-been tot so 75% van hoe jy dit wil bedien. Dan haal ek dit af en smeer Jimmy's Steakhouse-marinade daaroor. Maak 'n klomp kole bymekaar en verseker hoë hitte, maar nie vlamme nie. Sit die T-been op sy kant vir twee minute. Doen dieselfde vir die ander sy."

  • Beesfilet is die ideale snit vir 'n lekker sous. "Beesfilet benodig nie so baie kole soos die ander drie steaks nie omdat daar geen vet betrokke is nie. Ideaal moet die steak medium gebraai word."

As jy jou gaste wil bederf, kan jy beesbeenmurg met knoffel, swartpeper en growwe sout braai. "Beenmurg moet soos 'n snoek gebraai word: eers die vel- kant na onder vir drie tot vyf minute en dan vir 10 minute oor medium kole met die vleiskant na bo.

"Skep die murg van die been af op die steak."

Die ideaal is om steak te laat rus wanneer dit van die rooster af kom, sê hy.

"Wanneer jy steak warm sny, loop die sap van die steak uit wat beteken dit droog uit en het dan 'n klein bietjie minder smaak," verduidelik hy.

"Plankie-steak kan ook hier voorgestel word. Die steaks word opgesny in twee of 3 cm-stukke. Bedien dit op 'n plankie met verskillende souse in klein houers.

"Koebaai en lekker braai!"

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM