Kos + wyn

Kerriemaalvleis-pannekoek

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
pannekoek
pannekoek

Foto: Greg Cox

Maak 12 pannekoekies

Voorbereiding: 40 minute

Gaarmaaktyd: 30 minute

  • 30ml olyfolie
  • 1 wit ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap (opsioneel)
  • 600g maer maalvleis
  • 10ml matige kerriepoeier
  • 5ml borrie
  • 3ml fyn komyn
  • 4 kardemomsade, gekneus
  • 5ml blatjang (of na smaak)
  • 5ml appelkooskonfyt (of na smaak)
  • 5ml vars suurlemoensap (of na smaak)

PANNEKOEK

  • 2 eiers
  • 250ml meel
  • 300ml melk
  • 80ml groenteolie
  • 5ml brandewyn

1. Meng eers die pannekoekbeslag deur al die bestanddele goed saam te klits en dan deur 'n sif te giet. As die tyd toelaat, laat rus dit sowat 'n halfuur lank in die yskas.

2. Verhit intussen die olie en braai die uie tot glansend. Voeg die knoffel en 125ml kookwater by en kook die pan droog (dit is my manier om die uie smeltsag te kry). Voeg die maalvleis by sodra die pan droog is en braai tot mooi goudbruin oraloor. Breek die vleis met 'n spaan op in klein korrels terwyl dit braai.

3. Roer die speserye by en geur na smaak met sout en peper, gevolg deur die blatjang en konfyt, en braai nog 'n paar minute. Roer 125ml kookwater by en laat prut vir 10 minute tot weer amper droog.

4. Proe die mengsel - dis hier waar jy jou stempel afdruk met nog 'n bietjie konfyt of speserye tot dit net reg is na jou smaak. Voeg laastens die suurlemoensap by en verwyder van die hitte.

5. Om die pannekoekies te maak, verhit 'n dun pan van sowat 20cm in deursnee en spuit dit goed met kleefwerende kossproei of smeer dit met 'n bietjie olie. Skep net genoeg beslag in die pan om die bodem te bedek; kantel en draai die pan sodat die beslag eweredig oor die bodem versprei en sit die pan terug op die hitte. Bak sowat 'n minuut of totdat die beslag begin borreltjies maak en van die rand af wegtrek. Keer die pannekoek om en bak nog sowat 30 sekondes. Keer uit en herhaal met die res van die beslag.6 Verdeel die maalvleis tussen die pannekoekies en rol op. Sit warm voor.

Wenk Sit die rolletjies voor met tamatie-en-uieslaai en 'n skeppie jogurt. Vars koljander is nog 'n opsionele ekstra.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM