Kos + wyn

RESEP: Lamsosaties en roosterkoek

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Micky Hoyle
Foto: Micky Hoyle
  • 1,5kg - ontbeende lamsboud, in blokkies gesny
  • 8 - stukke ontbeende varkliesribbetjie, in blokkies gesny
  • MARINADE -
  • 30ml - sonneblomolie
  • 2-3 - uie, in skywe gesny
  • 3 - knoffelhuisies, fyngedruk
  • 30ml - ml matige kerriepoeier
  • 15ml - borrie
  • 2-3 - lourierblare
  • 5ml - fyn gemmer
  • 30ml - fyn appelkooskonfyt
  • 350ml - witwynasyn
  • 500ml - melk
  • - sout en vars gemaalde swartpeper
  • ROOSTERKOEK -
  • 250g - witbroodmeel
  • 250g - koekmeel
  • 10ml - sout
  • 1 - 10 g-kitssuurdeeg
  • 15ml - suiker
  • 315ml - warm water

Ek dink hierdie sosaties kan by enige kuier voorgesit word! Ons braai mos graag. Maak die sosaties twee dae voor die tyd sodat dit kan marineer. Ek het met roosterkoek in die Karoo grootgeword en het altyd appelkoosfonfyt daarop geëet.

Maak eers die marinade.

Verhit die olie in 'n kastrol en braai die uie en knoffel tot sag maar nie bruin nie.

Voeg die kerriepoeier by en braai vir so 2 minute.

Voeg die res van die bestanddele, behalwe die melk, by en kook vir sowat 10 minute.

Verwyder die kastrol van die hitte en voeg die melk by.

Laat afkoel.

Moenie skrik nie - die melk gaan skif en dit lyk nie te aangenaam nie, maar dis reg so.

Gooi die afgekoelde marinade in 'n groot bak oor die vleis en laat oornag in die yskas marineer.

Ryg nou die lamsvleisblokkies saam met die varkvleis op sosatiestokkies.

Verhit weer die marinade.

As jy dit vir so 15 minute kook, verdwyn die skif.

Laat afkoel en bedruip die sosaties daarmee terwyl jy hulle braai.

Roosterkoek

Meng die witbroodmeel, koekmeel, sout en suurdeeg in 'n elektriese menger met 'n deeghaak.

Meng die suiker en warm water saam en voeg by die meel.

Meng goed.

Jy kan die mengsel ook met 'n houtlepel aanmaak en dit op 'n meelbestrooide oppervlak met jou hande knie tot elasties. Dit neem so 10 minute.

Sit die deeg in 'n groot genoeg bak vir dubbel die grootte daarvan.

Maak die bak met kleefplastiek toe en laat rys tot byna dubbel die grootte op 'n louwarm plek.

As dit die dag nogal koud is, sit ek my lou-oond op laag en laat die deeg daarin rys.

Knie die deeg af en vorm jou roosterkoeke - dit is tradisioneel 'n ovaal vorm.

Besprinkel die roosterkoeke met ekstra meel en sit hulle op 'n bakplaat om weer te rys. Hulle moet weer tot so dubbel die grootte rys.

Braai stadig oor matige kole en draai nou en dan om.

Dit sal so 20-30 minute neem. Onthou, die deeg moet gaar word.

Wenke

As jy houtsosatiestokkies gaan gebruik, week die stokkies oornag in koue water. Dit sal keer dat die stokkies brand wanneer jy die sosaties braai.

Jy hoef nie altyd roosterkoek oor die kole te braai nie. Ek het dit al in 'n riffelpan oor lae hitte op die stoof gaargemaak.

Barbara Joubert

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM