Kos + wyn

RESEP | Oe la la-biefbredie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
  • 15ml - olyfolie
  • 200g - dik spekrepe, in stukkies gesny
  • 1.5kg - kortribskywe, oor die been gesny (nie saam met die been nie)
  • 1 - vet wortel, geskil en grof gekap
  • 1 - ui, gehalveer en dun gesny
  • 30ml - meel
  • 750ml - droë rooiwyn
  • 500ml - biefaftreksel
  • 15ml - tamatiepasta
  • 5 - takkies tiemie
  • 3 - lourierblare, gekneus (jy kan ook gedroog gebruik)
  • 30ml - botter
  • 18 - klein uitjies, geskil
  • 500g - knopiesampioene
  • 4 - knoffelhuisies, gekap
  • 60ml - platblaar-pietersielie, gekap

1. Verhit die olie in 'n diep, oondvaste kastrol en braai die spek tot mooi goudbruin en bros. Skep uit, maar behou die geurige olie. Druk die vleis goed droog en braai in sarsies tot oraloor mooi goudbruin met 'n korsie. Hierdie stap is tydrowend, maar nodig vir die beste geur van die finale dis.

2. Giet sodra al die vleis verbruin is, enige oortollige vet uit die kastrol en behou slegs sowat 15 ml. Voorverhit solank die oond en braai intussen die wortel en ui tot glansend in die behoue vet. Roer die meel by en braai vir 'n laaste minuut of twee tot goed gemeng.

3. Giet die wyn en aftreksel in die kastrol, roer die tamatiepasta, tiemie en lourierblare by en skep die vleis terug. Dit moet net-net bedek wees met vloeistof. Sit die deksel op die kastrol en bak vir 2 uur.

4. Smelt die botter in 'n pan en braai die uitjies en sampioene daarin tot mooi goudbruin. Roer die knoffel by en braai vir 'n laaste minuut. Strooi die pietersielie oor en hou eenkant.

5. Haal die kastrol uit die oond. Hierdie stap is opsioneel, maar gee die allerbeste vleissous. Skep die vleis versigtig met 'n gaatjieslepel uit die sous. Jy kan dit nou maklik ontbeen as jy wil. Syg die sous deur 'n sif. So verwyder jy al die heel kruie en kan jy ook die gekapte uie weggooi. Ek hou daarvan om die wortel te behou, besluit self.

6. Giet die deurgesygde sous terug in die kastrol. Skep die vleis terug en geur goed met sout en peper. Skep die sampioenmengsel en gebraaide spek ook in die kastrol en roer deur. Bedek en bak vir nog 40 minute. Sit voor met jou gunsteling-stysel.

Wenk: Ek glo vleis aan die been is soeter, en wanneer die kortrib smelt-in-die-mond sag is, haal die bene maklik uit. As jy nie saamstem nie, gebruik gerus eerder 3 cm-blokke beenlose stowevleis soos skenkel, rib of dikrib.

CTA