- 200 g - vingerkoekies (Boudoir-koekies)
- ½ koppie - whisky (of suurlemoenlikeur) vir doop
- - lemoenskyfies vir garnering
- - kruisementblare vir garnering
- - Vir die vulsel
- 3 - eiergele
- ⅓ koppie - strooisuiker
- 1 koppie - klitsroom
- 5 ml - vanieljegeursel
- 225 g - mascarpone (teen kamertemperatuur)
- - Vir die sitrussmeer
- 3 - eiergele
- ½ koppie - strooisuiker
- ⅓ koppie - varsgedrukte suurlemoensap
- ¼ koppie - varsgedrukte lemoensap
- 5 ml - elk gerasperde suurlemoen- en lemoenskil
- ⅓ koppie - gesmelte botter
1 Klits die eiergele en strooisuiker vir die sitrussmeer saam in ’n mikrogolfvaste bak tot goed gemeng. Klits die sap, skil en botter by tot glad.
2 Mikrogolf die mengsel vir 5 minute op hoog terwyl jy dit ná elke minuut weer ’n bietjie klits. Skep dadelik uit die warm bak en laat effens afkoel.
3 Meng die vulsel se 3 eiergele en strooisuiker in ’n ander bak en klits dit vir sowat 5 minute oor ’n pot kookwater tot dik en donsig. Dompel die onderkant van die bak dadelik in yswater om die gaarmaakproses te stop. Klits die room en vanielje styf. Klits die mascarpone versigtig tot glad, en vou alles saam tot net gemeng.
4 Voer ’n reuse-broodpan waarin die vingerkoekies mooi in ’n enkellaag kan inpas met kleefplastiek uit. Doop die koekies een vir een in die whisky tot deurdrenk en pak ’n rytjie onderin die voorbereide pan. Smeer ’n derde van die sitrussmeer bo-oor, gevolg deur die helfte van die roomvulsel. Herhaal die lae totdat jy met ’n laaste ry gedoopte koekies eindig, maar maak seker dat jy ’n bietjie van die sitrussmeer vir later oorhou. Bedek die tert met kleefplastiek en los - verkieslik oornag - in die yskas tot gestol.
5Om die tert voor te sit: Keer dit op ’n mooi bord uit, trek die plastiek af en versier met die laaste sitrussmeer, lemoenskyfies en kruisement.
Wenke
- Die skoon whiskysmaak is sterk; dus is hierdie tert liefs ’n grootmensbederf. Koue whisky trek egter nie (soos in die geval van tiramisu waarvoor die koekies in warm koffie geweek word) regdeur die koekies nie. Vir ’n tert sonder skop, doop die koekies in lemoensap.
- As jy nie jou eie sitrussmeer wil maak nie, kies kortpad met suurlemoensmeer van ’n tuisnywerheid.









