Kos + wyn

RESEPTE | Lekker & gesellige kuierkos

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Fotograaf: LISA COHEN/AREMEDIASYNDICATION.COM.AU/MAGAZINEFEATURES.CO.ZA, Stilering: LEE BLAYLOCK
Fotograaf: LISA COHEN/AREMEDIASYNDICATION.COM.AU/MAGAZINEFEATURES.CO.ZA, Stilering: LEE BLAYLOCK
Bronkorsslaai met garnale & avokado
Bronkorsslaai met garnale & avokado

Bronkorsslaai met garnale & avokado

Genoeg vir 6-8 mense

BESTANDDELE

SLAAI

  • 1 bos bronkors OF 'n pak gemengde slaaiblare wat bronkors insluit
  • 2 avokado's, gehalveer, geskil, ontpit en in kwarte gesny
  • 2 pienk pomelo's, geskil en in segmente gesny (hou 'n halwe pomelo eenkant)
  • 24 gaar garnale, uitgedop maar sterte behou

POMELOSLAAISOUS

  • ½ k (125 ml) olyfolie
  • 1 t (5 ml) Dijonmostert
  • ¼ k (30 ml) pomelosap, uitgedruk uit die halwe pomelo wat eenkant gehou is
  • sout na smaak

METODE

1. Slaai: Rangskik die blare, avokado, pomelosegmente en garnale op 'n groot, plat slaaiskottel.

2. Sous: Klits al die slaaisousbestanddele saam. Voeg die sout by, proe en pas aan indien nodig.

3. Giet die slaaisous oor die slaai en sit dadelik voor.

Tamatie-en-marjolein-galette
Tamatie-en-marjolein-galette

Tamatie-en-marjolein-galette

Genoeg vir 6-8 mense

BESTANDDELE

DEEG

  • 250g koekmeel
  • knippie sout
  • 125g koue, ongesoute botter, in blokkies gesny
  • 1 e (15 ml) witasyn
  • ¼-½ k (60-125 ml) yswater

VULSEL

  • 500g kersietamaties, gehalveer
  • groot knippie seesout
  • 2 t (10 ml) gekapte marjoleinblare, plus 'n bietjie ekstra vir garnering
  • 1 knoffelhuisie, in dun skyfies gesny
  • 2 e (30 ml) olyfolie

PASTEI

  • ekstra meel vir uitrol
  • 1 eier, liggies geklits
  • gerasperde parmesaankaas

METODE

1. Deeg: Skep die meel op 'n skoon, droë werkoppervlak en strooi die knippie sout oor. Voeg die botter by en meng tot al die blokkies deur 'n laag meel bedek is. Vryf die botter met jou vingerpunte in die meel in tot die mengsel soos growwe broodkrummels lyk. Jy kan gerus 'n paar groter klonte los. Besprinkel die mengsel met die asyn. Giet die yswater bietjie vir bietjie by. Jy gaan dalk nie alles nodig hê nie.

2. Bewerk die mengsel met jou hande tot dit 'n deeg vorm en daar nie droë krummels oor is nie. Vorm 'n plat sirkel. Bedek met kleefplastiek en plaas sowat 30 minute in die yskas.

3. Vulsel: Meng die tamaties en sout in 'n bak en laat 20 minute staan sodat die sout die vog kan uittrek. Giet die tamatievloeistof af.

4. Pak die tamaties in 'n skoon bak en voeg die marjolein, knoffel en olie by. Meng liggies.

5. Pastei: Voorverhit die oond tot 200 °C en voer 'n ronde bakplaat van 20 cm met bakpapier uit.

6. Verwyder die deeg uit die yskas en laat 5 minute staan sodat jy dit makliker kan uitrol.

7. Besprinkel die werkoppervlak met die ekstra meel en rol die deeg uit tot 2-3 mm dik uit. Plaas versigtig op die bakpapier. Sowat 4 tot 5 cm sal oorhang. Skep die tamaties in die middel in 'n hoop. Sprinkel nog seesout oor. Vou die oorhangende deeg terug oor die tamaties en knyp die voutjies saam.

8. Verf die deeg wat sigbaar is met die eier en bak 45-50 minute tot goudbruin.

9. Laat 10 minute afkoel en rond af met die ekstra marjolein en die parmesaan.

Varkrib met vinkel, salie en pietersieliesous
Varkrib met vinkel, salie en pietersieliesous

Varkrib met vinkel, salie en pietersieliesous

Genoeg vir 6-8 mense

BESTANDDELE

VLEIS

  • 2-2,5 kg varkrib
  • hand vol salieblare, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 e (15 ml) vinkelsaad, grof gemaal
  • 2 e (30 ml) olyfolie
  • groot knippie sout

PIETERSIELIESOUS

  • 1 bossie vars platblaarpietersielie
  • 1 knoffelhuisie, grofgekap
  • skil van 1 suurlemoen, gerasper
  • 1 e (15 ml) rooiwynasyn
  • ¼ k (60 ml) olyfolie
  • knippie seesout

METODE

1. Vleis: Vee die vleis met 'n papierdoekie af. Plaas met die vel na onder op 'n rak in 'n groot roosterpan. Meng die salie, knoffel, vinkel, olie en sout in 'n klein bakkie. Giet oor die varkvleis en vryf in (nie op die vel nie). Plaas onbedek oornag in die yskas om uit te droog.

2. Voorverhit die oond tot 180 °C. Draai die vleis om sodat die vel weer bo is. Vryf sommer baie sout in die vel en laat 30 minute teen kamertemperatuur staan.

3. Giet genoeg water in die roosterpan om die bodem te bedek. Rooster 2-2½ uur of tot die vleis sag is en die vel gebars het. Verhoog die temperatuur tot 220°C as die vel in die laaste halfuur nog nie begin bars het nie. Laat 10 minute rus.

4. Sous: Pols intussen die pietersielie, knoffel en suurlemoenskil in 'n voedselverwerker tot fyn. Giet die asyn, olyfolie en sout by en pols tot goed gemeng. Pas die sout na smaak aan.

5. Sit die rib saam met die pietersieliesous voor. Dis veral lekker met die perskeslaai ( resep onder).

Perske-en-kruisementslaai
Perske-en-kruisementslaai

Perske-en-kruisementslaai

Genoeg vir 6 mense

BESTANDDELE

SLAAI

  • ½ rooi-ui, fyngesny
  • 1 e (15 ml) rooiwynasyn
  • 4 geelperskes, gehalveer, pit verwyder en in kwarte gesny

SOUS

  • 1 t (5 ml) bruinsuiker
  • 3 e (45 ml) olyfolie
  • klein hand vol vars mentblare, fyngekap, asook ekstra blare vir garnering
  • knippie sout

METODE

1. Slaai: Plaas die ui in 'n bakkie, giet die asyn oor en werk die asyn met jou vingers in die ui in. Laat 5 minute staan, druk die oortollige asyn uit en hou die vloeistof eenkant vir die slaaisous.

2. Rangskik die perskekwarte op 'n mooi bord en sprinkel die ui oor.

3. Sous: Klits die bruinsuiker, olyfolie en ment saam in 'n bakkie. Voeg die oorskietasyn by en klits weer saam. Voeg sout na smaak by.

4. Giet die sous oor die perskes en uie en garneer met die ekstra mentblare.

Framboos-en-ricotta-koekstruif
Framboos-en-ricotta-koekstruif

Framboos-en-ricotta-koekstruif

Genoeg vir 6-8 mense

BESTANDDELE

KOEKMENGSEL

  • 400 g sponskoek, in growwe stukke gebreek
  • 60 g ongesoute botter, gesmelt
  • 60 g suiker
  • 1/3 k (80 ml) marsalawyn

FRAMBOOSKONFYT

  • 350 g vars of bevrore frambose
  • 100 g strooisuiker
  • sap van ½ lemoen

RICOTTAROOM

  • 450 g ferm ricottakaas
  • 100 g strooisuiker
  • 2 e (30 ml) marsalawyn
  • gerasperde skil van 1 lemoen
  • 1 t (5 ml) vanielje-ekstrak
  • 2 k (500 ml) room

SAAMSTELLING

  • 60 g donkersjokolade, fyngerasper
  • 40 g gevlokte amandels, gerooster, plus ekstra vir garnering
  • 150 g kersies, gehalveer en ontpit

METODE

1. Voorverhit die oond tot 180°C. Voer 'n bakplaat met bakpapier uit.

2. Koekmengsel: Plaas die koekstukke in 'n oondvaste bak. Giet die gesmelte botter oor en besprinkel met die suiker. Gebruik jou hande om seker te maak al die koekstukke is bedek. Bak 10 minute tot liggies gerooster. Laat 10 minute afkoel. Bedruip met die marsala en hou eenkant.

3. Frambooskonfyt: Meng die frambose, suiker en sap in 'n klein kastrol. Bring tot kookpunt. Laat 8-10 minute prut tot dit verdik. Roer aanhoudend. Skep uit en laat heeltemal afkoel.

4. Ricottaroom: Meng die ricotta, suiker, marsala, lemoenskil en vanielje goed met 'n houtlepel in 'n groot bak. Klits die room in 'n aparte bak tot sagte spitse vorm. Vou liggies by die ricottaroom in.

5. Saamstelling: Skep net genoeg ricottaroom in 'n mooi glasbak om die bodem te bedek. Skep 'n derde van die koekmengsel bo-op, gevolg deur 'n kwart van die ricottaroom. Skep 'n derde elk van die donkersjokolade, frambooskonfyt en amandels bo-op. Herhaal met nog twee lae en rond af met die oorblywende ricottaroom. Versier met die kersies en ekstra amandels. Plaas minstens 1 uur in die yskas voor dit voorgesit word.

Julia Busuttil Nishimura

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM