Anri Truter van Beyerskloof deel sy gunstelingresep wat gemaak is vir pinotage. Hierdie dis geniet hy saam met die Beyerskloof Kriekbult Pinotage.Lewer 8 porsies
Wat jy nodig het
- Olyfolie
- 2 ansjovisfilette
- 15 ml elk gekapte roosmaryn en tiemie
- 10 ml elk sout en swartpeper
- Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
- 4 knoffeltoontjies, fyngedruk
- 2kg lamsblad
- 200 ml water
- 300 g filodeeg
- 125 ml gesmelte botter
Maak dan só
Maak ’n pasta van ’n bietjie olyfolie en die ansjovisfilette, kruie, sout, peper, suurlemoensap en -skil, en knoffel.
Smeer die blad goed daarmee in en marineer oornag in die yskas.
Sit die vleis in ’n oondbak, giet die water in die bak met die vleis en bedek goed.
Voorverhit die oond tot 150 °C en bak die blad vir 2-3 uur tot die vleis baie sag is en van die bladbeen wil afval.
Laat rus vir 20 minute en pluis die vleis. Klam die gepluiste vleis aan met die pansappe en laat heeltemal afkoel.
Voorverhit die oond tot 190 °C.
Verf ’n paar velle filodeeg met gesmelte botter en vou in die helfte.
Sit twee gevoude stukke filodeeg op mekaar (verf gesmelte botter tussen alles om dit te laat vassit). Skep van die gepluiste vleis op die deeg, vou die kant om en rol op. Pak op ’n bakplaat en bak vir 15 minute tot goudbruin en bros.
Sit die lamsvleis in filodeeg op ertjiepuree of met ’n bykos van jou keuse voor.





















