- 500g - gerookte skelvis (haddock)
- 500ml - melk
- 60ml - botter
- 180ml - meel
- 200ml - gerasperde skerp cheddarkaas
- 15ml - gekapte knoffel-grasuie
- 7.5ml - Dijon-mosterd
- - panko-broodkrummels
- - sowat 4 jumbogrootte eiers, geklits
- - olie vir diepbraai
1. Bedek die vis met die melk in 'n kastrol en verhit stadig tot kookpunt. Verlaag die hitte en posjeer die vis tot net gaar, sowat 15 minute. Skep uit met 'n gaatjieslepel en laat afkoel. Hou die melk vir die witsous en ontbeen en vlok die gaar vis.
2. Smelt die botter oor matige hitte in 'n kastrol en laat toe om so 'n bietjie te braai tot skuimerig. Roer die meel by om 'n roux te vorm. Verwyder van die hitte en klits die behoue melk geleidelik by. Dit sal moeiliker wees as 'n gewone witsous weens die groter hoeveelheid meel. Sodra die sous glad is, sit dit terug op die hitte en kook vir 'n paar minute tot glad en dik.
3. Verwyder van die hitte en geur na smaak met sout en peper. Roer die kaas, grasuie, mosterd en gevlokte vis by. Skep dadelik in 'n ander bak en laat heeltemal afkoel. Die mengsel word makliker in krokette gevorm wanneer dit yskaskoud is.
4. Rol eetlepels vol van die koue, gegeurde witsous met nat hande in happiegroot vingers of balletjies. Maak seker die happies is ewe groot. Rol dit eers in die krummels, dan in die eier en dan weer in die krummels om 'n stewige buitelagie te vorm.
5. Braai die krokette in warm olie tot alkante goudbruin, bros en deurwarm. Werk in sarsies en dreineer op handdoekpapier.
Sit voor met jou gunsteling-doopsousie.















