Kos + wyn

Somersonskyn in winterglase

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
De Krans
De Krans

Moenie dink dit is nou amptelik rooiwyntyd nie - dit is ook die tyd van die jaar wat soet- en gefortifiseerde wyne in almal se glas hoort. Die Kaapse Wynmeester Winifred Bowman vertel watter haar gunstelinge is.

Die winter is nou behoorlik ingeburger en dit is tyd om somersonskyn in ons glase voor die kaggel of langs die braai te geniet. En gefortifiseerde wyne is net die ding om te drink - muskadel en eg-Suid-Afrikaanse portstyl-wyne.

Volgens Sawis is daar teen 2024 ongeveer 2 314,14 ha muskaat-druiwe in Suid-Afrika aangeplant (met die Breedekloof as die grootste area) - die grootste hoeveelhede is die muscat d'alexandrie en muscat de frontignan, en dan minder bekende ander klone soos morio muscat, muscat ottonel en muscat de hambourg. Die meeste van die muskaat-wyne is soet en gefortifiseerd om die ware aromatiese siel en gees van die druifsoort vas te vang. Die druiwe word sonryp en stroopsoet gepluk, gisting vind plaas totdat die gewenste suikerinhoud behaal word en daarna word onverouderde brandewynspiritus bygevoeg om die gistingsproses te staak, en die vrugtige geure te behou. Wat kan lekkerder wees?

Wat die port-druifsoorte betref, is daar in totaal 265,67 ha aangeplant, met tinta barocca wat die grootste deel beslaan, en touriga naçional die tweede meeste. Daar is baie minder touriga franca, tinta amarela, tinta francisca en souzao in die grond.

Geborg deur:

De Krans

De Krans-wyne, in Calitzdorp in die Klein-Karoo, is tradisioneel bekend vir die gehalte van hul portstylwyne, asook droë wit en rooi wyn gemaak van Portugese variëteite waarvan die eerste kultivars in 1973 by De Krans geplant is.

Die De Krans se vlagskip portstylwyn, die Cape Vintage Reserve, is geproduseer van touriga nacional-, tinta roriz- en tinta barocca-druiwe en bring sowat 20 maande in groot houtvate deur. Die wyn se heerlike diep geure sluit ryp rooi bessies, pruim, swartbessies en donkersjokolade in en dié wyn spog al 15 oesjare lank met 'n vyfster-gradering in die Platter-wyngids.

Vir meer inligting, besoek https://dekrans.co.za/

Badsberg

Die Badsberg-wynkelder se gefortifiseerde rooi muskadel is 'n bekoorlike aanwins vir jou winterwynkeuse.

Hierdie robynkleurige muskadel bied ryk aromas van muskaat en rosyntjies en 'n heerlike soet, volronde smaak.

Dit is ideaal om te geniet as aptytwekker, of ná ete voor die kaggelvuur op 'n koue wintersaand. Die wyn word gemaak van uitsonderlike muskadeldruiwe vanaf Jacobus en Marthinus Griessel se plaas, Wysersdrift, uit die Breedekloof-vallei.

Die druiwe word volryp geoes teen 28°-balling en dit is duidelik dat daar moeite gedoen word op die plaas om sulke mooi druiwe te voorsien. Die Badsberg Red Muscadel het al verskeie toekennings verower, en is weer eens 'n bewys dat Suid-Afrikaanse muskadel van wêreldgehalte is.

Besoek https://badsberg.co.za/buy/ vir aankope.

Een van Suid-Afrika se grootse aanhangers van muskadel, Dave Biggs, vertel dat in sy ouerhuis hulle eintlik bierdrinkers was. Maar daar was altyd 'n bottel muskadel (en 'n rooi- en witwyn vir ingeval mense kom kuier). Sy pa het geglo dat muskadel alle wyne beter maak en het gereeld 'n skeutjie muskadel by chardonnay of cabernet gevoeg!

"Toe ek in die Kaap aangekom het as 'n jong joernalis het ek die plesier van muskadel ontdek," sê Biggs. "Vir my het dit die siel van Suid-Afrika verteenwoordig - dit bied al die rypheid en suikersoet van die Kaap in 'n glas.

"Mense wat van muskadel hou is nie snobisties of pretensieus nie - hulle drink om dit te geniet! Die wynmakers van Robertson het my ook geleer dat dit 'n baie veelsydige drankie is: koud met ysblokkies in die somer, oor roomys, of drink vir 'n bietjie warm sonskyn op 'n koue wintersaand.

"Ons het so paranoïes geword oor suiker en hoë alkoholvlakke dat ons een van Suid Afrika se grootste plesiere mis - soet, goue muskadel."

Die kenners vertel

Paul Burger, senior wynmaker by Nuy, sê hulle glo dat 'n uitstekende muskadel nie net gemaak word nie - dit word oor dekades vervolmaak. "Ons Wit Muskadel 2023 is die jongste in 'n lang lyn van bekroonde soetwyne, gebore uit tradisie, geduld en passie. Geniet hom yskoud, saam met 'n bobotie, 'n kaasbord, of net goeie geselskap. Of dit nou 'n spesiale geleentheid is, of net 'n stil oomblik op die stoep, 'n Nuy Muskadel bring altyd warmte en goeie tye."

Boets Nel van De Krans in Calitzdorp sê: "Wanneer ons van portstyl praat, dan is dit belangrik om die regte druifsoort op regte grond vir 'n spesifieke doelwit soos Ruby/Vintage/Vintage Reserve te plant. Die druiwe is alles in port. Moenie wag tot druiwe oorryp is nie, ons soek vrug en nie konfyt nie. Versnitte van verskillende druifsoorte is altyd beter: touriga naçional vir rooibessievrug, viooltjies, speserye en sjokolade; tinta roriz vir kleur en struktuur; tinta barocca vir struktuur en sy weerstand teen oksidasie en laastens tinta amarela vir kompleksiteit. Net ou hout, bewaar die vrug!

"Wat wit muskadel betref, baie dieselfde as port, ons wag ook nie te lank nie. Pars as net begin met oumansgesiggie, wil nie sterk rosyntjie hê nie, eerder mooi groen-geel kleur, met skoon muskaat, lietsjies op smaak. As dit so gemaak is, verouder dit ook baie goed."

Jaco Booysen van Badsberg is 'n ou hand. "Die Rooi Muskadel 2023 is 'n lekker wyn om te geniet saam met geliefdes. 'n Mens het nie nodig om iets te eet om hom te waardeer nie, maar hy gaan goed saam met peuselhappies soos op 'n kaasbord."

Wynmaker Philip Viljoen sê Bon Courage se wit- en rooi muskadel is die perfekte nageregwyn - of jy dit op sy eie geniet, of saam met 'n heerlike nagereg. Bedien effens verkoel tussen 12 en 16 °C vir die beste geur en balans. Geniet dit ná aandete, by 'n knetterende kaggelvuur of buite onder die sterre.

Clairvaux Cellar se Jaco van der Merwe is van mening dat dié wyn op sy eie of saam met amper enige nagereg bedien kan word.

Muskadel met fyngedrukte ys en 'n skyfie suurlemoen/lemoen is ook 'n lekker manier om dit te geniet, ook 'n skyfie aarbei dra by tot 'n heerlike drankie. Muskadel moet ook nie "warm" bedien word nie, koel dit af na ten minste 18 °C.

Van Loveren se Chris Crafford sê: "Hierdie luukse soetwyn is propvol sonryp rosyntjiegeure wat ontvou in lae van Turkse lekkerny en fyn framboos. Vir 'n perfekte kombinasie, bedien dit met romerige bloukaas, verouderde gouda of 'n stuk brie."

Shawn Thomson, hoofwynmaker van Du Toitskloof, is reg vir die winterweer: "Geniet DTK Rooi Muskadel in die winter saam met vriende om 'n kaggelvuur, of be­dien dit saam met sjokoladenagereg of appeltert. Verkoel jou bottel Rooi Muskadel in die somer en geniet hom teen kamertemperatuur in die winter."

Morné Vrey van Delaire Graff is 'n boorling van Calitzdorp: "Port was nog altyd 'n groot deel van my lewe en is al vir baie jare 'n groot liefde. Suid-Afrikaanse portstyle staan skouer aan skouer teen ons eweknie Portugal.

"Al is dit soms net ons wat so glo. Ons portstyl-wyne is groot, ryk en vol struktuur, met voorbeelde vanaf Calitzdorp tot Stellenbosch.

"Glo dit of nie, op Delaire maak ons 'n oesjaartipe portstyl al vir die afgelope 17 jaar. Ons gebruik die tradisionele druiwe, touriga naçional en tinta barocca.

"Ons moet aanhou om port te geniet sodat ons nog vir baie jare kan port maak. Hou asseblief op om dit in daardie verskriklike klein glasies te drink en geniet dit uit 'n mooi groot glas om die ware mooiheid te ondervind."

Hermias Vollgraaff van Montagu Wines sê gefortifiseerde muskadel is baie meer divers as wat mense dink: "Dit kan in die winter saam met jou geliefde geniet word voor 'n kaggelvuur, sonder om 'n kombersie nader te trek, want dit maak jou so lekker warm van binne. Dit bring mense bymekaar wanneer daar geleenthede soos ‘Soetes en sop' aangebied word, waar die middelpunt lekker muskadel-jerepiko's is. In die somer kan dit weer saam met jou vriende op fyngedrukte ys geniet word of in 'n lekker verfrissende mengeldrankie."

Jean Claude Martin van Creation is versot daarop om portstyl-wyne te maak: "In plaas van om brandewynspiritus vir fortifisering in te koop, distilleer ons ons eie hier op Creation. Ons ‘La Lees'-spiritus word jaarliks van omtrent 250 vate chardonnaymoer gedistilleer tot so 70-75% alkohol. Dit is baie aromaties met subtiele eikehoutkarakter - dis wat ons vir die fortifisering van ons Cape White en Cape Vintage gebruik."

Winnie se keuses

• Clairvaux White Muscadel (R83): 100% muscat de frontignan en slegs die vry afloopsap word met brandewynspiritus gefortifiseer.

Hierdie besonderse wyn toon witblom- en Turkse-lekker-geure, suurlemoen- en pomelo-geure en smake, met ryp rosyntjies in die agtergrond. Perfek oor ys saam met 'n Suid-Afrikaanse kaasbord.

• Van Loveren Red Muscadel (R93): Helderrooi-pienk kleur, gesofistikeerd met sysag-framboos-, roosblaar- en sappige-rosyntjie-geure - hierdie is 'n moet laataand voor die kaggel!

• Nuy Inspiration White Muscadel 2023 (R95): Wit blomme, suurlemoen en kruisement-gegeurde harde lekkers op die neus, 'n ontploffing van lietsjie en pynappel in die mond. Die balans is uitstekend, met soet vrugte getemper deur die fortifisering.

• La Grand Chasseur Habata White Muscadel 2020 (R95): Pure drinkplesier met geglasuurde suurlemoen, ryp, sag gedroogde appelkoos en ongelooflike balans. Bedien oor ys.

• Badsberg Red Muscadel 2023 (R96): Baksteenrooi en 100% muscat de frontignan - hierdie is pure drinkplesier met uitstekende tekstuur en lae van geure wat in die mond ontvou: ryp sonskyn-rosyntjies, framboos met 'n tikseltjie kaneel. Met platinum by vanjaar se Muscadel SA-pryse vereer.

• Montagu Red Muscadel (R100): Helder en rooi met komplekse geure en smake van rosyntjies, framboos, sagte spesery, rooibostee en geroosterde neute. Hierdie besonderse wyn is vir ses maande in ou bourbonvate verouder.

• Du Toitskloof Kelder Red Muscadel 2020 (R110): Hierdie word gemaak van ou bosstokwingerde in die Breedekloof en bekoor met sy lig robynkleur, Turkse lekker, lietsjie en sag gedroogte mango. Die balans is uitstekend. Nog 'n platinumwenner van die Muskadel SA-pryse.

• Bon Courage Estate White Muscadel (R138): Volrond met hope vars-rosyntjie-, lemoenmarmelade- en ligte-karamel-geure en -smake - hierdie is gemaak vir 'n sonskyndag!

• De Krans Cape Tawny (Limited Release) (R240): Helderoranje-amberkleur met 'n mondvol geure soos gedroogde lemoen, karamel, Kerskoek en geroosterde neute. Uitstekend op sy eie, of saam met gebakte winterpoedings. Die besonderse wyn is 'n versnit van 5-15 jaar verouderde wyne.

• Creation Cape White (R370): 100% viognierdruiwe wat ryp gepluk is en ná gisting met chardonnay-spiritus gefortifiseer is. Glansend helder met fyn-suurlemoen-parfuum, ryp-perske- en eksotiese-speserygeure en -smake.

Uitstekende tekstuur in die mond met 'n lang kaneel-en-blom- nasmaak. By Creation se restaurant met gouemelk-kaaskoek bedien - probeer dit.

• Delaire Graff Cape Vintage 2022 (R660): Tinta barocca- en touriga naçional-druiwe van die Swartland is versny om 'n donkerfluweel-rooi, volronde portstyl-wyn te maak. Daar is allerhande donkerbessie, spesery en gedroogde kruie op die neus en palet. Ryk met uitstekende verouderingspotensiaal (20 jaar). Uitstaande!

• Boplaas Cape Tawny Colheita Single Vintage 2007 (R750): In die jaar 2007 was dit eienaar Carel Nel se missie om 'n uitstaande enkeloesjaar-portstyl-wyn te maak.

Tinta barocca en touriga naçional is versny en vir 16 jaar in vate verouder. Die amber-en-rooi kleur is opvallend en dan ontvou die Kerskoek-, Calitzdorp- rosyntjie-, spesery- en geroosterde-neut-geure - drink saam met 'n eend-dis.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM