- 1 - ui
- 400 g - aartappels
- 400 g - spinasie
- ’n handjie vol sagte kruie
- 3 - wiele fetakaas
- 125 ml - gerasperde parmesaankaas
- sout, peper, neutmuskaat en gedroogde brandrissie vir geur
- 1 - groot eier
- 35 ml - olyfolie
- 45 ml - volvetjogurt
- 6 - velle fillodeeg
- 10 ml - sesamsaad
- suurlemoen-wiggies vir voorsit
Jy kan die spinasievulsel gewoonweg tussen dubbellae fillodeeg in 'n groot oondbak bak en in blokke voorsit, maar ek is mal oor die drama van die spiraal vorm.

1. Kies groen
Kap 1 ui fyn en braai tot glansend in 5 ml olyfolie. Kook 400 g aartappels tot gaar,dreineer en maak fyn. Blansjeer 400 g spinasie en 'n klein hand vol sagte kruie soos origanum en dille saam, en kap fyn. Krummel 3 wiele fetakaas en voeg dit saam met 125 ml gerasperde parmesaankaas by en geur mildelik met sout, peper, neutmuskaat en gedroogde brandrissie.
2. Gompot
Klits 1 groot eier, 30 ml olyfolie en 45 ml volvetjogurt saam - dis waarmee jy die deeglae aan mekaar gaan plak. Verdun met 'n bietjie melk as dit te dik lyk. Hou 6 velle fillodeeg gereed onder 'n klam lap om te keer dat dit uitdroog terwyl jy werk,en staan reg met 'n kwassie.
3. Vulstasie
Plaas 'n vel fillodeeg op 'n skoon oppervlak en verf oraloor met die eiermengsel. Plak 'n tweede vel bo-op en verf dié ook oraloor.Skep nou een derde van die vulsel in 'n lang strook op 'n lang sy van die deeg. Rol die deeg met die vulsel daarin op*, draai dit in 'n spiraal en sit dit in 'n gesmeerde oondvaste pan, koekpan of bakplaat. Vorm nog twee volle spirale met die orige deeg en vulsel en las dit aan die eerste spiraal om die hele bodem van die pan te bedek.
* Pasop vir te styf oprol en te veel vulsel,want die dun deeg sal bars terwyl jy dit in 'n spiraal draai.
4. Die laaste strooi
Voorverhit die oond tot 180°C. Verf die oorblywende eiermengsel oor die pastei en in al die voue, en strooi 10 ml sesamsaad oor. Bak dit dan vir sowat 45 minute of tot goudbruin en gaar. Sit warm of teen kamer temperatuur voor met vars suurlemoen-wiggies.
Alternatiewe vulsels
Gepluiste oondgeroosterde hoender, geurige maalvleis of net 'n mengsel romerige kaas is heerlik in so 'n rol! Speel gerus.














