Een van die eerste modifikasies wat ernstige veldry-entoesiaste altyd oorweeg, is 'n ordentlike stel veldrybande op hulle standaardwielvellings - of selfs 'n groter stel namarkse wiele.
'n Mens is nie meer verbaas wanneer jou buurman met 'n stel vet 33"-tekkies by jou stilhou nie. Dan het hy boonop die bakkie se vering gelig en veldrybuffers aangebring - alles in 'n poging om 'n beter nader- en vertrekhoek te bewerkstellig.
Die Russiese veldryvoertuigvervaardiger Sherp ATV bou al langer as 20 jaar voertuie wat nie vir 'n moeilike stukkie aarde skrik nie. Die rygoed wat Sherp bou, kraai koning in selfs die moeilikste terrein. Dis die geesteskind van die maatskappy se stigter, Alexei Garagashyan, 'n boorling van St. Petersburg met 'n belangstelling in onkonvensionele voertuie.
Die Sherp is basies 'n dop wat nie veel groter is as 'n klein sportmotor nie, en die hoekige ontwerp herinner sterk aan Tesla se komende Cybertruck. Wat egter die Sherp onderskei, is sy enorme pasgemaakte bande wat nie minder nie as 1,6 m hoog staan. Die 63"-bande blaas self op, het nie 'n binneband nie en gebruik flappe op die loopvlak.

Dit is soorgelyk aan dié wat 'n mens op swaar masjinerie sien wat in modder ingespan word. Die flappe stel die Sherp ook in staat om te "swem" teen 'n spoed van 6 km/h en dan uit die water op die ys te klim as dit moet.
Die dop self kan ook dryf. Die ryding het 'n viersilinder-turbodieselenjin waarmee jy tot 40 km/h kan ry. Jy kan ook oor 'n hindernis van tot 70 cm klim én teen 'n hoek van 35º.
Die Sherp se wiele is nie geartikuleer nie en die voertuig rem die linker- of regterkant afhangende van watter kant toe jy wil draai. Jy kan hom selfs op die plek laat omdraai mits jy 2,5 m weerskante van jou het.
Binnelangs is daar net plek vir een passasier en die bestuurder, wat die Sherp met 'n klomp hefbome beheer.
Die maatskappy maak ook 'n voertuig genaamd die Ark, wat basies 'n wa met dieselfde ontwerp as die Sherp is. Soos 'n mens kan verwag, kan jy dié wa ook oral sleep. Die wa kan aangepas word na gelang van jou behoeftes - met een van dié outjies op die haak kan jy op selfs die rofste plekke gaan kamp.
Het jy iewers in jou omswerwinge 'n seldsame sleepsel of ryding gesien? Vertel ons daarvan en stuur vir ons 'n foto na rysleep@weg.co.za.
[Hierdie artikel het oorspronklik in Maart 2020 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.]














