Motors

Captur kan aankap met opgeknapte lyf

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Renault het subtiele verskille aan sy opgeknapte Captur aangebring. Let op die platter rooster, waarin die nuut ontwerpte Renault-kenteken nou geplaas is.
Renault het subtiele verskille aan sy opgeknapte Captur aangebring. Let op die platter rooster, waarin die nuut ontwerpte Renault-kenteken nou geplaas is.

Renault het die sluier gelig oor sy opgeknapte Captur, wat vir vroeg volgende jaar vir die Suid-Afrikaanse mark geoormerk is.

Sedert die klein Captur 'n dekade gelede sy buiging op ons paaie gemaak het, het hy gou 'n gevolg opgebou onder kopers wat op soek is na 'n kompakte gesins-nuts, maar ook styl en karakter as oorwegings beskou.

Die mark is tot boordens toe vol van klein sportnutse, maar die Captur fokus op modieusheid in sy voorkoms, asook sy afwerkings binne.

Die huidige Captur, die tweede generasie, het die oorspronklike model se basiese ontwerp behou, maar met 'n ietwat ernstiger aanslag as tevore.

Met die opknapping het Gilles Vidal, Renault se ontwerphoof, sterk op die uiterlike gefokus om die Captur so modern moontlik te laat vertoon.

Let dus op na die nuwe sierrooster, wat 'n baie plat voorkoms het. Die Renault-kenteken duik inderwaarheid binne-in die voorbuffer se boonste helfte in. Op die hoeke sit nuwe lighulse, wat ook 'n platter, breë ontwerp het.

Die LED-dagryligte sit nou op die hoeke van die buffer en is vertikaal geposisioneer. Aan die agterkant is daar nou LED-remligte in 'n nuwe lighuls geplaas met 'n mooi C-patroon wat tot diep na die middel van die luikdeur vloei.

Die groot kleurraakskerm oorheers die Captur se skoon kajuit. Die stelsel werk met Google se sagte­ware.
Die groot kleurraakskerm oorheers die Captur se skoon kajuit. Die stelsel werk met Google se sagte­ware.

In die kajuit het Vidal en sy span 'n nuwe, groot digitale raakskerm in die middel van die voorpaneel geplaas. Daar is 'n plat, stomp rathefboom tussen die sitplekke en 'n nuwe lêplek vir jou slimfoon waar dit koordloos kan herlaai.

Die vorige topmodel, die RenaultSport (RS), word nou met die Esprit Alpine vervang.

Diep sportsitplekke, tweekleur-afwerkings op die bekleedsel en by die panele, en swart kantspieëls, dakrak en lugsnoer, asook sierrooster, laat die Esprit Alpine dadelik uitstaan. Ons hou ook van die Esprit­ Alpine se groot 19-duimers, in swart, natuurlik.

Renault sê trouens daar is 14 nuwe kleurkombinasies vir die Captur te kry. 'n Nuwe Harman­ Kardon-radio sit nou in die Captur, terwyl die groot raakskerm se blikbrein nou met Google se sagteware werk. Daar is voortaan twee USB-sokke vir die insittendes voor.

So lyk die pragtige, nuwe weerga­we van die kenteken.
So lyk die pragtige, nuwe weerga­we van die kenteken.

As jy fyn kyk, sal jy ook Renault se nuwe kenteken gewaar - die rombus het nou nie meer soliede stawe nie, maar gekeepte panele.

Meganies het Renault nie te veel aan die Captur verander nie, maar ons sien wel dat hy die rit sagter gemaak het deur nuwe veringverstellings in te bou, nuwe skokbrekers te spesifiseer en die stuuraksie te temper.

Vir die Europese markte is die 1.3-liter-petrolturbo (113 kW, 270 Nm) behou, maar daar is ook 'n 1.0-liter-petrolturbo (66 kW, 160 Nm) met drie silinders wat as intreemodel dien.

Hy is wel slegs met 'n sesgang-handratkas in Europa te kry. Wat Suid-Afrika betref, behoort ons weer die 1.3-liter-model te ontvang, gekoppel aan 'n outomatiese sesgangratkas.

Die opgeknapte Captur behoort in Maart of April volgende jaar by ons aan te land.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM