Motors

Duster stof sy roes af

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ons hou van die nuwegeslag-Renault Duster se meer hoekige voorkoms. Die Duster is nou ’n hibried, maar bied steeds 4x4-vastrap en ’n goeie grondvryhoogte. Foto: Marnus Hattingh
Ons hou van die nuwegeslag-Renault Duster se meer hoekige voorkoms. Die Duster is nou ’n hibried, maar bied steeds 4x4-vastrap en ’n goeie grondvryhoogte. Foto: Marnus Hattingh

Daar is baie uitgesien na die koms van die nuwe Duster, Renault se kompakte sportnuts wat deur sy Dacia-afdeling in Europa gebou word (en daar eerder as 'n Dacia bemark word).

By ons het die Duster veral 'n naam opgebou vir sy ligte verbruik danksy die 1.5-liter-turbodiesel wat ingespan is. Daarby het die Duster ook 'n goeie grondvryhoogte gehad, en 'n korter eerste rat, wat jou tesame met 4x4-aandrywing redelike grondpad-vernuf gebied het.

Met sy lae prys was die ou Duster dus 'n goeie keuse as jy lang ente daagliks moes pendel en nie 'n plaas se prys op brandstof wou uitgee nie.

Of as jy naweke met die bergfiets wou wegbreek, en die gerief van die "kan enige plek ry"-houding van die Duster wou benut.

Kajuit heelwat gemoderniseer

Met die nuwe model, die derde generasie in die reeks, het Renault die klein sportnuts 'n aks deftiger gemaak. Waar hy eers 'n waarde-vir-geld-ryding was, is hy nou meer stylvol, en dalk 'n raps minder grondpad-vaardig.

Die hoekige voorkoms met die Renault-naam in blokletters op die rooster, en die H-vormige LED-ligte staan dadelik uit. Die Duster lyk modern, maar ook doelgerig. Dis heerlik!

In die kajuit het jy steeds sitplek vir vyf mense. Die instrumente is nou als digitaal, en 'n raakskerm help jou om al die nutsfunksies te gebruik. Daar is 'n tru-kamera, maar ons toetsmodel (die 4x4 Zen) het nie 'n 360°-beeld gebied nie. As jy fyn moet trap op 'n tegniese roete het jy dié beeld nodig.

Wat ek wel van gehou het, is die ry knoppies onder die raakskerm wat jou vinnige, direkte toegang bied na van die funksies wat jy gereeld gebruik, soos die lugversorger.

Die agterste bank kan op spore vorentoe gly, en die rugleunings in twee dele vooroor kantel.

Die kajuit is werklik stil op die oop pad, pad- en windgeraas is minimaal.

Die stuur voel lekker lig en direk, en in stadsituasies is dit maklik om hom in klein ruimtes te parkeer.

(Adri Myburgh)

Van diesel na hibried

Die 4x4-model is slegs met 'n sesgang-handratkas te kry. 'n Ritmodus-knop help jou om te kies tussen 'n paar modusse, soos sand of klip, maar dit verander net die petrolpedaal se sensitiwiteit en die stabiliteitstelsels, wat wieltol kontroleer.

Danksy die goeie grondvryhoogte van amper 22 cm, en die 4x4-vastrap, het jy steeds vertroue om grondpaaie aan te durf.

Die groot verandering egter vanaf die vorige model na die nuwe, is die weglaat van die dieselenjin. In sy plek ry die Duster nou met 'n kleiner 1.2-liter-petrolturbo, met matige e-krag as bykomende hulp. Ja, die nuwe Duster is 'n hibried.

Die e-motor word deur 'n klein 48V-battery aangehelp. Dis maar grootliks as ekstra krag as jy wil verbysteek.

My verbruik oor die tydperk was 6,0 liter, wat gaaf is, maar nie so goed as wat die ou 1.5-liter diesel gebied het nie (5,3 liter). Tog, jy sal maklik 800 km ver met 'n tenk brandstof kan ry.

Laastens het ek ook van die nuwe Duster se hoë bande gehou. Met hul 65%-profiel het jy 'n hoë band wat 'n sagte rit in die dorp bied, en gerieflik en veiliger is op grondpaaie as die laeprofielbande wat die meeste sportnutse vandag mee uitkom.

Afsaal

Die nuwe Duster het baie moderner geraak, maar ook sy karakter van 'n kroeguitsmyter verruil vir 'n jappie met 'n titanium-bergfiets. Hy's ordentlik en eko-vriendelik.

Maar tog, daar is nog genoeg veldry-kenmerke wat hom 'n goeie keuse sal maak vir diegene wat gereeld stofpaaie wil aanpak vir naweek-uitstappies.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM