Motors

CR-V maak sin, maar daai prys . . .

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Honda se CR-V vertoon statig en bied heelwat luukshede – teen ’n prys . . .  Foto: Willem Fritz
Honda se CR-V vertoon statig en bied heelwat luukshede – teen ’n prys . . . Foto: Willem Fritz

Nie te lank gelede nie was Honda se CR-V onder van die gewildste middelslag-sportnutse plaaslik, maar 'n geleidelike toename in mededingers, veral van China, en ons pap wisselkoers met gepaardgaande stygende pryse, het toenemend sy tol begin eis.

Die CR-V is nie uniek in dié opsig nie, dieselfde lot tref verskeie van sy mededingers van onder meer Kia, Hyundai, Mazda, Volkswagen en dalk in 'n effens mindere mate Toyota. Die CR-V is wel steeds Honda se topverkoper wêreldwyd.

Met die nuwe sesde geslag wat vroeg vanjaar sy verskyning by ons gemaak het, het Honda die CR-V in 'n hoër marksegment geherposisioneer deur hom groter en luukser te maak, wat hom ongelukkig ook duurder gemaak het, met die topmodel wat net-net deur die R1 miljoen-kerf gebreek het.

Is daai duur prys geregverdig of moet jy eerder elders vir beter waarde soek?

Groter lyf, meer moontlikhede

Die CR-V is 11,5 cm langer en 10 cm breër as sy voorganger met 'n wielbasis wat ook met 4 cm gerek is. Die groter afmetings beteken 'n derde ry sitplekke kan ook vir die eerste keer ingepas word.

Ons hou van die stilering, wat meer hoekig is as voorheen en gekenmerk word deur skoon lyne­ en 'n gebrek aan enige fieterjasies. Die blinkswart sierrooster voor en die skrefiesligte laat hom nou 'n bietjie meer "befoeterd" lyk, terwyl die agterkant eweneens sag is op die oog met die agterligte se hoekige ontwerp wat vertikaal langs die agterruit opkruip wat uitstaan. Daar is niks buitengewoon uitspattig nie, maar dis hierdie subtiele benadering wat hom juis stylvol laat vertoon.

Aan die binnekant word die tema­ van minimalisme en styl voortgesit. Die instrumentpaneel stem baie ooreen met wat in die Civic te kry is met baie elemente wat byna net so oorgedra is. Een van die opmerklikste elemente is 'n strook met 'n byekorf-patroon wat deur die lengte van die instrumentpaneel loop waaragter die luginlate ook verberg word.

Direk daaronder is 'n houtinvoegsel wat alles mooi afrond.

Daar is fisieke skakelaars vir die lugversorging, wat altyd welkom is, terwyl die ratkierie, soos met vorige generasies, hoog geplaas is en gerieflik byderhand is. Net voor die ratkierie is 'n laaivakkie vir jou foon. Die mediaskerm kom ook van die Civic en werk heel gaaf met 'n uitleg en funksies wat in die algemeen maklik verstaanbaar is, en natuurlik is daar ook Apple CarPlay en Android Auto.

Daar is twee modelle in die reeks en ons het die topmodel, die Exclusive, gery. Die afwerking en gehalte van die materiale is meestal eersteklas, wat 'n mens in dié prysklas sal verwag, asook die vlak van standaardtoerusting wat jy kry. Die lysie is lank, maar sluit in verhitte sitplekke voor, tweesone-klimaatbeheer, 'n panoramiese sondak, ruitvertoon, 'n interaktiewe, digitale skerm voor die bestuurder, 'n handvrye elektriese luikdeur, 360°-kamerastelsel, asook 'n rits bestuurshulpmiddels wat van kamerabeelde en radar gebruik maak, soos aanpasbare snelheidsbeheer, 'n stelsel wat jou in jou baan sal hou, terwyl die motor ook self rem sal aanslaan in 'n noodsituasie.

Die C-RV is 'n ruim voertuig, maar soos maar dikwels die geval is, is die derde ry meer geskik vir korter afstande of vir kinders.

Met die derde ry opgeslaan, bly daar nie veel pakruimte oor nie, maar jy kan darem 'n sportsak of twee inpas. Met die derde ry platgeslaan, het jy 'n heel ruim 478 liter vir bagasie, wat wel effens minder is as die vorige generasie se 522 liter weens die ruimte in die vloer wat deur die derde ry in beslag geneem word.

Klim in die saal

Dis nogal verbasend dat die grote CR-V deur 'n kleine 1.5-liter-turbo-enjin aangedryf word. Die enjin is effens aangepas van die vorige generasie, maar die kragsyfers is dieselfde. Dit lyk nie sleg nie - 140 kW en 240 Nm - en op die oop pad kan hy wikkel as hy moet.

Die CVT-tipe ratkas gedra hom ook goed met feitlik geen steurende "geneul" as jy vinnig versnel nie en voel meer soos 'n "tradisionele" outomatiese ratkas met ratwisselings.

Die CR-V is 'n lieflike kameraad vir die langpad met genoeg krag vir as jy dit nodig het en 'n kajuit wat goed geïsoleer is van die buitewêreld, asook 'n aangename rit danksy vering wat 'n goue middeweg volg tussen absorbering en betroubare hantering. En boonop is hy nie 'n swaar drinker nie met 'n gemiddelde brandstofverbruik van 7,7 liter/100 km.

Slotsom

Die CR-V is een van daai rygoed waarmee jy nie maklik kan fout vind nie.

Hy sit selde 'n voet verkeerd op die pad en is stewig aanmekaargesit, terwyl die derde ry sitplekke aan hom ekstra veelsydigheid verleen.

Ongelukkig kom dit teen 'n prys. R1 miljoen is baie geld en ons reken as Honda die prys nader aan R800 000 kon bring, hy 'n veel aanlokliker keuse sou wees.

As jy egter na mededingers soos die Kia Sorento en Hyundai Santa Fé kyk, wat almal om R1 miljoen dobber, is die prys dalk nie so buitensporig nie.

Maar dan is daar die Chinese mededingers, soos die Chery Tiggo 8 Pro, wat aansienlik goedkoper is, en dis nie goeie nuus vir vervaardigers soos Honda nie.

  • Prys: Honda CR-V Exclusive CVT - R1 041 300
CTA