Motors

Cybertruck se eienaars mor

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die vorige keer toe ons oor die Cybertruck geskryf het, was in ons Januarie 2020-uitgawe, kort nadat die bakkie bekend gestel is. Vier jaar later begin Amerikaners hulle Tesla-bakkies ontvang wat hulle tóé al bestel het.

Sommige klante is oorstelp van trots, terwyl ander voel hulle kan slange vang. Dit is onwaarskynlik dat die Cybertruck in enige ander land buite Amerika verkoop sal word, want Europa het hom verbied omdat hy nie aan hulle veiligheidstandaarde voldoen nie.

Boonop is die Cybertruck se NACS-kragsok nie versoenbaar met enige Europese laaistasies nie (ook nie Suid-Afrika s'n nie) en die bakkie se gewig van 3,5 t gewig plaas hom in die Europese kategorie waarvoor jy 'n swaarvoertuigrybewys moet hê.

Maar waaroor kla die Amerikaners dan? Rondom 4 000 Cybertrucks is sedert Januarie vanjaar in Amerika verkoop en almal is herroep vir foute. Die foute sluit in 'n versnellerpedaal wat vashaak wanneer jy hom intrap, elektronika wat ophou werk wanneer jy die bakkie deur 'n karwassery neem, en klagtes dat die bakwerk roes ondanks die feit dat dit van vlekvrye staal gemaak is - laasgenoemde word egter deur Tesla betwis.

Sommige eienaars kla boonop dat die inligtingskerm (die bakkie het geen fisieke knoppies nie) waarskuwings flits soos: "Critical steering issue" en "Loss of system redundancy" en, selfs kommerwekkender: "Vehicle may suddenly lose electrical power, steering, and propulsion, and may be unable to apply the parking brake."

Marques Brownlee
Marques Brownlee

Die YouTuber Marques Brownlee (met 18,8 miljoen intekenare) kla sy Cybertruck se bakwerk weerkaats soveel sonlig dat dit ander padgebruikers verblind; die bakpanele is effens skeef; en die metaal wys maklik vingermerke. Hy hou darem wel van die voorkoms.

Die YouTube-egpaar Kara & Nate (met 3,8 miljoen intekenare) is ervare kampeerders en hulle is glad nie beïndruk met die Cybertruck se opwiptent, die "Basecamp" nie. Dit is volgens hulle té ingewikkeld om op én plat te slaan, en vir 'n elektriese voertuig is dit vreemd dat daar geen elektrisiteitstoevoer in die tent is nie en dat jy dus nie 'n dakliggie het óf jou foon kan laai nie. Kara en Nate hou wel van die Cybertruck se ritgehalte.

Die YouTube-kanaal Donut (met 8,7 miljoen intekenare), wou 'n 4x4-roete takel, maar hulle moes terugdraai stad toe, want die battery kon nie naastenby die 300 myl (480 km) ry soos wat beweer word nie - hulle kon dus nie eens by die 4x4-roete uitkom nie. Hulle was wel beïndruk met hoe vinnig die battery herlaai.

Skermgreep: JerryRigEverything
Skermgreep: JerryRigEverything

En laastens, in 'n tipies Amerikaanse reaksie, het die YouTuber JerryRigEverything (8,6 miljoen intekenare) Elon Musk se bewering dat die bakkie koeëlvas is, beproef deur met allerlei vuurwapens daarop los te brand. Die bakwerk kon inderdaad .22- en 9 mm-koeëls keer, iets waardeur Jerry verras was, maar 'n .223-jaggeweerkoeël is deur die bakkie se deur... en 'n .50- kaliber-sluipskutterkoeël is dwarsdeur die bakkie.

Die Cybertruck kos rondom $82 000 (meer as R1,5 miljoen) en hy is inderdaad koeëlvas teen kleinkaliberwapens. Jy moet net ligloop vir gure weer... en natuurlik 'n karwassery.

Het jy iewers dalk 'n seldsame sleepsel of ryding raakgeloop? Vertel ons daarvan en stuur vir ons 'n foto na rysleep@weg.co.za.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM