Jy sal verskoon wees as jy dink Jetour is 'n nuwe, eksotiese Franse handelsmerk op ons paaie.
Die realiteit is egter effe meer gewoon: Jetour is die weelde-, sportiewe handelsmerk van die Chery-groep wat jonger kopers soek met sy vaartbelynde en dinamiese ontwerpe.
Jetour skop sy bemarkingstog af met twee modelle, die Dashing en die X70 Plus. Nou ja, as Jetour jou gedagtes nog nie aan die rol gesit het nie, sal Dashing as 'n naam dit sekerlik doen.
Gelukkig pas die naam nogal by die kompakte sportnuts. Die Dashing se voorkoms is werklik treffend met 'n prominente luikrug-ontwerp, 'n sierrooster met asimmetriese patroon-openinge, en skerp aksentlyne by die flanke.
In die kajuit vind jy ook sportsitplekke met ekstra steun vir die heupe en bolyf, wat sy sportiewe aard verder beklemtoon.
Twee afwerkingsvlakke is van meet af aan te kry. Die Momentum (R439 900) het 'n lang lysie standaardtoerusting, terwyl die Deluxe (R469 900) 'n paar items byvoeg.
Albei word aangedryf deur 'n 1.5-liter-petrolturbo wat 115 kW en 230 Nm wringkrag losdraai. Krag gaan na die voorwiele met 'n sesgang- outomatiese ratkas (dubbelkoppelaar-tipe).
Ondanks sy luikrug-voorkoms, is die Dashing nogal groot. Danksy 'n lang lyf (net onder 4,6 m) en asafstand (2,7 m) is hy inderdaad 'n aks langer as die Chery Tiggo 7.
Die vyfsitplek-Dashing kom standaard met vier lugsakke, LED-hoofligte, 'n tru-kamera met parkeergonsers agter, sleutellose toegang, groot 19-duim-sierwiele en 'n luikdeur wat elektronies kan oop- en toemaak.
Die kajuit het ook 'n digitale raakskerm vir jou nutsfunksies, en 'n koordlose herlaaivakkie vir jou slimfoon. Die bestuurder se sitplek is elektronies verstelbaar.
Veiligheidskenmerke behels stabiliteitsbeheer, vastrapbeheer, 'n vashoufunksie as jy teen 'n bult moet wegtrek en 'n banddrukmonitor.
Die deftiger Deluxe-model het 'n panoramiese sondak ekstra, asook stemmingsbeligting, 'n selfstop-funksie en blindekolgonsers.
- Jetour bied 'n vyf-jaar/60 000 km-diensplan, 'n vyf-jaar/150 000 km-waarborg en 'n een-jaar/1 miljoen km-waarborg op die enjin aan.



















