Vir diegene wat op soek is na 'n gesinsvriendelike ryding met hope plek, is Jetour se X70 Plus 'n tweede kyk werd.
Die X70 het basies dieselfde grootte as Chery se Tiggo 8 Pro en bied ook drie rye sitplekke met sitplek vir sewe mense.
Nog gedeelde gene is onder die enjinkap te vind waar die X70 dieselfde 1.5-liter-petrolturbo (115 kW, 230 Nm) as die Dashing inspan vir aandrywing. Die krag gaan na die voorwiele met 'n sesgang- outomatiese ratkas (dubbelkoppelaar-tipe), met Jetour wat op 'n verbruik van 7,8 liter aanspraak maak.
Die X70 is baie meer hoekig, regop en tradisioneel in sy ontwerp as die vaartbelynde Dashing. Die agterste twee sitplekke kan vorentoe platslaan sou jy 'n groter laairuim verkies.
Nes die Dashing is daar ook twee afwerkingsvlakke, Momentum en Deluxe, te kies. Die Momentum (R454 900) bied jou items soos groot 19-duim-sierwiele, sleutellose toegang, 'n trukamera met gonsers agter, 'n elektroniese agterklap, stemmingsbeligting, LED-hoofligte en 'n koordlose herlaaivakkie vir jou slimfoon.
Die deftiger Deluxe (R484 900) het 'n panoramiese sondak ekstra, asook ses luidsprekers en ses lugsakke (teenoor die Momentum se vier elk).
Al die modelle het stabiliteitsbeheer, 'n banddrukmonitor, vastrapbeheer, 'n vashoufunksie as jy teen 'n bult moet wegtrek, en ABS-remme.
Die Deluxe het blindekolgonsers, 'n terugdu-funksie sou jy uit jou baan uit dwaal, en 'n gonser wat waarsku teen kruisverkeer as jy agteruit ry, bykomend ingesluit.
Dieselfde uitgebreide waarborg as wat vir die Dashing geld, word vir die X70 gebied.



















