“Ek kan waarskynlik tans die [Formule Een] vervaardigerskampioenskap eiehandig wen,” het die Red Bull-jaer en toe-driemalige wêreldkampioen, Max Verstappen, op die vooraand van die Britse Grand Prix in 2023 geskerts.
Wie sou kon stry? Dit was die jaar van die Bulle se F1-vertrapping op hulle brutaalste, met die Hollander wat alleen meer punte (575) ingeöes het as sy naaste mededingers – gesamentlik albei Mercedes-jaers (409).
Dog was Verstappen se oorrompeling van daardie jaar se kampioenskap, toe hy by 19 uit 22 renne met die louere weggestap het, terselftertyd net nóg ’n rooi lig vir hoe die Rooi Koei-topbestuur sedert 2019 omgaan met die keuse van sy spanmaat.
Red Bull se kontrasterende agteruitgang is in 2024 vergestalt (en oorgedra na 2025), toe hulle slegs brons in die vervaardigerskampioenskap kon inpalm en Verstappen desnieteendestaande na die jaerskroon kon skraap; en van voor af die kollig op die bogenoemde ongemaklikheid skyn.
Die gesoek na Max se maat
Naamlik, dat ongeag dat F1 se veranderende mededingende landskap, één kopseer ’n gegewe by die Red Bull-span bly: die vind van ’n gepaste Nommer Twee-jaer om Verstappen aan te vul. In die spore van Daniel Ricciardo (sy mededingendste spanmaat tot nog toe) se vertrek einde 2018, is die jaers Pierre Gasly, Alex Albon, Sergio Peréz en Liam Lawson, van wie laasgenoemde na slegs twee rondtes in 2025 met die junior Red Bull-jaer Yuki Tsunoda vervang is, álmal geweeg en té lig gevind.
Aldus data van die tydskrif Autosport was Ricciardo gemiddeld 0.049 sekondes vinniger in 2016 se kwalifiserende rondtes as die toe-betreklik groen Verstappen, wat sy F1-buiging in 2015 gemaak het. Vanaf 2017 is die bordjies verhang toe daardie gaping na onderskeidelik 0.202 sekondes en 0.279 sekondes in 2018 in Verstappen se guns geswaai het.
Selfs teenoor die ervare Peréz was daardie tydstekort 0.66 sekondes verlede jaar: die grootste verskil tussen enige twee spanmaats op F1 se wegspringrooster.
Duidelik is die tweede Red Bull-sitplek F1 ’n duwweltjiemat; en boonop die meeste getoor. Op sy eie kan Verstappen reeds nie gevang word in ’n identiese motor nie; en daardie ongemaklikheid kry ’n ekstra knippie onmoontlikheid deurdat die Red Bull se eiesoortige ontwerp inherent gebruiksersonvriendelik is. Dit wil sê uitsonderlik reaktief wanneer ’n rigtingverandering vereis word; met ’n geneigdheid tot ’n gewenste laserskerp-indraai wat gepootjie word deur ’n ewe ongewenste wikkelgierige stertkant.
Red Bull se tweesnydende swaard
Bygesê is dié soort onvoorspelbaarheid nie altyd ewe onwelkom nie. In die hiper-aanpasbare Verstappen se goue hande kan hy daardie onstabiliteit met bonatuurlike motorbeheer manipuleer om die motor sneller deur draaie te roteer.
Dis net dat daardie gawe nie in enigeen, oftewel, net mooi geeneen van sy vorige spanmaats – se broeke sit nie.
’n Onvaste agteras beroof mindere jaers van vertroue in hulle motor se kleefkrag; en daarmee saam verdwyn die rondetye. En omdat Verstappen se bomenslike benadering voortdurend punte produseer – soms mét spanmaathulp, maar meerendeels daarsonder – neig die Red Bulls se fundamentele karaktertrekke jaar na jaar om eersgenoemde se behoeftes te prioritiseer. Dis ’n tweesnydende swaard, wat, soos 2024 se puntetal getuig – vir Red Bull in staat stel om die jaerskampioenskap te wen as die dolosse reg val, hoewel selde die vervaardigerskroon (waarna albei jaers in ’n span se puntetotale bydra).
Dié Verstappen-fenomeen is nie eiesoortig aan die Red Bull-span nie, dog tekenend van sy genialiteit, en ook ’n waarneembare kenmerk by ander F1-adellikes soos Ayrton Senna en Michael Schumacher: klinkklare bewyse van hoe meer ’n spanfokus rondom sy snelste jaer wentel, hoe moeiliker raak dit vir hulle spanmaats om daarby aan te pas.
Verstappen se talent die verskil
Daarom, met Verstappen as die enigste Red Bull-jaer wat konsekwent resultate kan lewer, is sy insae onbetwisbaar in die afgelope paar jaar se motors vasgelê. Die ontwerprigting vloei daaruit voort om hom in sy taak te sterk en word geïnterpreteer om hom van die vinnigste moontlike motor te voorsien.
Nodeloos om te sê, hoe harder die Red Bull-motor oor die onlangse jare kon indraai, hoe groter het daardie verskil tussen Verstappen en sy spanmaats gegroei.
Vir ’n span soos Red Bull, wat kennelik nie veel gepla is oor die vervaardigerstitel nie – maar vir wie die jaerskroon die Alfa en Omega is, werk hierdie alles-of-niks-aanslag tans.
Geïnspireerde vertonings soos Verstappen s’n in Japan verlede naweek bevestig die belegging en opbrengs wat Red Bull oor die jare in hulle viermalige wêreldkampioen gemaak het. Met ’n blitsigste kwalifiseringstyd Saterdagmiddag waartydens hy stadiger as die twee McLarens in twee van die baan se drie sektore was, maar álles in die finale een ingehaal het, was dit ’n meestervertoning in wat ten beste tans F1 se derde haastigste motor is.
En hom 24 uur later die Grand Prix help wen het.
Sondag se koeler weer, wat F1 se nou-gevestigde uitdaging van temperatuur-sensitiewe bandslytasie op ys geplaas het, het veroorsaak dat die honger McLarens nie hulle ingeboude voordeel van beter bandverbruik vanaf die tweede en derde posisie teenoor Verstappen doeltreffend kon inspan nie.
Suzuka se slegte statistiek
Aan die debietekant was die wedren ook ’n rare manifestasie van hoe ’n grand prix uitspeel wanneer daar geen beperking op die jaers of motors is om doelbewus stadiger te ry om hulle bande weens slytasievrees te preserveer nie. En die gevolglike verrigtingsverskil tussen die motors só miniskuul is dat hulle nie mekaar kan verbysteek nie.
Daarom kreun die 2025 Japanse Grand Prix onder die kruis van die onbenydenswaardige statistiek dat dit die eerste F1-resies op’n doelgeboude renbaan in 75 jaar is waar die topses se kwalifiseringsorde onveranderd oorgedra het na die ren-uitslag.
Die geskiedenisboeke dokumenteer egter (nog) nie die saaiheidsgraad van elke grand prix nie. Wat hulle wél deurlopend doen is om Verstappen se onaantasbaarheid en F1-(d)roomjaer te bekragtig: met of sonder ’n spanmaat.
Yuki wie?















