Motors

Discovery staan steeds sy man

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die nuwe Discovery is nou al in sy vyfde generasie. Die drieliter-turbodiesel bied armsvol krag en lang bene wat hom ’n plesier op die langpad maak. Foto: Marnus Hattingh
Die nuwe Discovery is nou al in sy vyfde generasie. Die drieliter-turbodiesel bied armsvol krag en lang bene wat hom ’n plesier op die langpad maak. Foto: Marnus Hattingh

Dis eintlik verrassend om te dink Land Rover se ikoniese Discovery is al 35 jaar oud.

Wie sal ooit daardie beelde van 'n konvooi kameel-geel Disco's in die vroeë 1990's vergeet wat in stomende oerwoude deur 'n rits Indiana Jones-karakters deur riviere en modderpaaie bestuur word?

Dit was die laaste stuiptrekkings van tabak-geborgde motoravonture, maar vandag praat ons steeds van die Camel-man. Dis die waarde en krag van 'n handelsnaam.

Ons het weer 'n paar dae agter die stuur van die Discovery deurgebring. Die Disco is nou al in sy vyfde generasie en vandag se sportnuts het basies net die naam behou van die oorspronklike avontuur-model waarmee jy oerwoude kon tem.

Van sy stilering tot sy grootte en doel waarvoor hy gebou is, het als in die 35 jaar verander.

Dis nie noodwendig sleg nie - weet net waarvoor jy jou inlaat as jy daardie sowat R1,6 miljoen op die Yoco gaan tik.

Die kajuit is fyn afgewerk en straal weelde uit.
Die kajuit is fyn afgewerk en straal weelde uit.

Die meganika

My toetsmodel was die HSE Dynamic­ D350, wat toegerus is met die groep se lekker fris 3.0-liter-V6-turbodiesel. Nou, verskeie vervaardigers benut 'n drieliter-turbodiesel in hul groot sportnutse, maar die Disco s'n is oor die jare heen verfyn om vandag 'n lewendige 257 kW en 700 Nm wringkrag los te draai. Dis regtig goeie syfers.

Krag gaan na al vier die wiele met 'n agtgang- outomatiese ratkas, en verskeie voorafgeprogrammeerde ritmodusse is beskikbaar wat jy met 'n draaiknop in die sentrale armrus kan kies. Dit haal die dinkwerk uit die veldrywerk en vir die meeste bestuurders wat net 'n lang ent op 'n grondpad gaan ry, is dit heel voldoende.

Reg vir die langpad

Die sterk punt van hierdie vyfde generasie is egter sy weelde en gerief. Kyk, die ontwerp is maar 'n teer saak. Van voor en in sy profiel gesien, lyk die moderne Discovery nog blink, skerp en vaartbelyn soos James Bond wat pas uit 'n swembad geklouter het. Maar sy omstrede agterent bly maar net lol op visuele vlak. Dis nou omdat Land Rover destyds besluit het die nuwe Discovery moet nou 'n sewesitplekker wees. Dus, 'n langer lyf is nodig.

Weg is die tradisionele, vierkantige ontwerp wat so bekend en bemind was, en in sy plek het ons nou 'n ballon-agterstewe wat twee ekstra stoele vir jong kinders kan huisves.

In die kajuit self is sake egter heelwat beter.

Die instrumentpaneel lyk imposant met sy groot raakskerm, wat netjies versonke in die voorpaneel sit. Die stelsel is van die beste wat ergonomika betref: Die funksies is logies ingedeel, dis maklik om te navigeer, en die ikone lyk skerp en treffend.

Ruimte in die kajuit is ook enorm. Vyf volwassenes sal hulself kan gerieflik maak en die laaiplek agter sal 'n gesin se pakkaas opslurp.

Op die oop pad was die diesel-Disco 'n dansvloer-wenner. Hy draf ligvoets oor die pad en bied jou emmersvol krag as jy gou wil verbysteek. Sleepwerk met daardie fris dieselenjin sal ook koffiedrink-maklik wees. Die kajuit is altyd stil en wind-, pad- en enjingeraas was skaars hoorbaar. My verbruik het net onder die 9 liter gedraai in die tyd wat ek in die dorp en oop pad met hom gery het.

Afsaal

Dis moeilik om vandag 'n moderne weelde-nuts te kritiseer.

Dié klas voertuie is eintlik al wat jy wil hê in 'n groot gesinsmotor: Puik krag, moeitelose ry-ervarings, weelde en gerief, en die vermoë om hard te werk op die stofpad as dit moet.

Die Disco staan sy man teen sy Duitse mededingers. Ons dink dis eindelik net die handelsnaam, vir wie sommige 'n voor- of afkeur sal hê, wat die deurslag sal gee by die koopbesluit.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM