Die eerste ding wat mense gewoonlik wil weet as jy hulle vertel jy is op pad om by Laingsburg te kamp is: Wáár?
Dié beskeie dorp lê in die hartjie van die Groot-Karoo - dorre wêreld - en die enigste rede hoekom 'n mens jou normaalweg hier sal bevind, is omdat jy met die N1 langs êrens anders heen op pad is.
Dis egter 'n heel aangename verrassing om te besef dat jy ook jou wa vir 'n paar dae hier kan staanmaak by twee kampplekke. En dis die soort plekke waarvan jy jou vriende sommer vinnig gaan vertel.
Die Buffelsrivier-kampterrein is op die plaas Opzoek, 9km buite die dorp. 'n Mens ry al teen die walle van die Buffelsrivier se droë loop noord tot jy by die kampplek uitkom en op die oewer nesskop. Dis 'n lieflike kampplek waar jy jou wa op 'n lappie staanmaak óf verder die berge inry tot waar dit net jy en die sterre is.
Sowat 44km anderkant die dorp, op die plaas Elandsfontein, kry jy die Potdeksel Karoo 4x4-kampplek. Hier kamp jy tussen die mooi rantjies waar die gras só groen is dat dit amper kunsmatig lyk.
Dis die soort plek waar jy maklik besluit om langer te bly as wat jy beplan het.
BUFFELSRIVIER
Stroomop

Die pad deur die Moordenaarskaroo kronkel van Laingsburg af al langs die Buffelsrivier. 'n Halwe kilometer buite die dorp verruil jy teer vir 'n goeie grondpad wat na die Buffelsrivier-kampterrein loop.
Ná sowat 6km ry jy oor 'n betonbrug met 'n enkelbaan: Regs is die oorblyfsels van die ou brug wat in die oorstromings van 1981 weggespoel het. Jy ry nou oor die Wiegmanskraalbrug, genoem na een of ander os wat toenterjare hier iewers in 'n gat geval het, maar van die plaaslike mense noem dit ook die heuningmaanbrug.
Ongeag wat jy hom noem, die padoppervlak is onegalig nadat 2008 se vloed dele daarvan weggekalwe het.
Sodra jy oor die brug geskud en gewieg het, lê die ingang na die Buffelsrivier-kampterrein links van jou.
Volg die pad vir 2,4km - jy steek die rivierbedding twee keer oor. (As die rivier in vloed is, gaan jy sukkel om oor te kom.)
As 'n fratsstorm uitbreek terwyl jy hier kamp, is dit darem nie die einde van die wêreld nie, want Izak van der Vyver, die man aan die stuur van sake in die kampplek, sê hier is 'n noodpad van die plaas af en jy sal nie vasgekeer wees nie.
Die pad is in 'n goeie toestand en met ons besoek was daar kampeerders met 'n Suzuki Swift. Jou ryding gaan dus opgewasse wees vir die taak.

Waar die pad vertak, hou jy regs om by die ontvangskantoor uit te kom. Izak ontmoet jou hier om vir jou te sê waar jy kan afpak. Die kampplek is terug na die ingang se kant toe, maar hier is genoeg plek by die kantoor om jou sleepkombinasie sonder 'n gesukkel om te draai.
Ons het plek gekry by die gewone staanplekke, waar jy 'n keuse het tussen drie groepe. (As jy meer afgesonder wil wees, kan jy ook elders op die plaas kamp.)
Die badkamergebou is in die middel met 'n groen grasperk langsaan en drie kragpunte. Die lappie grond is in die oopte, maar jy staan so te sê op die badkamers se stoep. Hier is ook 'n ronde plonspoel.

Die ander twee groepe staanplekke is aan die agterkant van die badkamers en 'n terras laer. Drie staanplekke is afgesonder, meer in die bos en die verste van die badkamer af. Die ander vyf is by die badkamers op 'n netjiese groen grasperk.

Die drie bosstaanplekke is links van die pad soos jy inry.
Vir lang kombinasies beveel Izak die tweede een aan. Die hele rugkant is basies 'n aaneenlopende bos doringbome en jou staanplek het 'n grasperk en kuierdeel langs die wa.
Jou lig is op 'n paal in die een hoek waar die kraan en vullisdrom ook staan. In die hoek langsaan is 'n oopte in die doringbos met 'n staalbraaidrom in die middel (onthou om jou eie rooster te bring). Dit is ook 'n lekker kuierhoek.
Die staanplek hiernaas is ook in 'n doringbos, maar dis meer privaat en jy staan op fyn gruisklippies. Die derde staanplek was met ons besoek beset, maar van 'n afstand af lyk dit dieselfde.
Die strook gras met die staanplekke is in vyf verdeel met vier skadunetafskortings. Die eerste vier het ook skadunet oor die een hoek en al vyf het 'n eie lig wat jy self kan aan- en afsit.

Agter die eerste staanplek loop 'n paadjie op na die badkamergebou toe. Hier is ook 'n kuierplek met 'n vuurput en 'n klein ronde plonspoel.

Langs die laaste staanplek is 'n oop vertrek met 'n kisvrieskas, en oorkant dit - in die rigting van die badkamer - 'n toilet met 'n stort aan die rugkant. Die stort is enorm, maar daar's geen warm water nie.
Aan die agterkant van die badkamer is 'n aparte kombuis met wasbakke vir skottelgoed en 'n vrieskas met bevrore vleispakkies daarin. Skaaptjops kos R180/kg en 'n pak boerewors R50. Jy help jouself en betaal by die ontvangskantoor wanneer jy uitboek.

Die ingang na die badkamer is om die hoek. Hier is drie storthokkies langs mekaar links soos jy inkom en oorkant hulle drie toilette, elk in 'n eie hokkie.

Tussenin is 'n onderdakbinnehof waarin die storthokkies en toilette se deure oopmaak. Die storthokkie is 'n lang gang sonder enige afskorting, maar dis lank genoeg dat jou klere en toiletsakkie by die deur droog bly.

Hier is oorgenoeg hake, en dit moet die storte met die hoogste stortkoppe in die land wees. Al staan jy met jou hande uitgestrek onder dit, gaan jy nie bykom nie. In die stort voel dit dus of jy onder 'n wolk staan. Teen die oorkantse muur is twee wasbakke.

Vir 'n mooi uitsig oor die kampplek kan jy die koppie op die verste punt van die staanplekke uitklim - dis skaars 'n minuut of twee se stap.

Van bo af sien jy 'n eendedam tussen jou en die eerste staanplekke, wat omtrent so groot is soos die boonste staanplekke.
Jy sien ook heelwat dierekinders wat saam kom kamp. As ons reg getel het, was hier ses kampgesinne wat saam met ons gekamp het en álmal van hulle het troeteldiere saamgebring.
Hulle sê

Jacolene Fourie kom van die Paarl af en kamp met haar Suzuki Swift en 'n driemantent saam met Kiwi, haar kokketiel, en Mango, die kanarie.
"Kiwi is nou 1 jaar oud en Mango 9. Mango is eerste in die hok op die voorsitplek wanneer ek kamp. As ek by die kampplek aankom, maak ek die deurtjie oop sodat hy die omgewing verken. Dis my eerste keer hier en 'n wonderlike plek - ek hou nie daarvan om in 'n skare te kamp nie. Dis inspirerend om te sien wat hier gebeur en ek kan nie wag om te gaan stap nie."
Kortliks | Buffelsrivier
Kampplek Verskeie keuses - van gewone staanplekke op gras tot skoongemaakte kolle in die bos.
Ablusiegeriewe 1 badkamergebou vir almal se gebruik. Wifi is beskikbaar by die badkamer.
Prys R150 p.p.p.n. (R50 vir kinders 5-12 jaar).
Aankoms- en vertrektyd Geen vasgestelde tye nie.
Kontak 082 929 3091 (WhatsApp) | info@buffelsrivier.co.za | buffelsrivier.co.za
Naaste dorp Laingsburg 10km.
Hoe lyk die pad? Die laaste 8,7km is 'n grondpad wat oorwegend in 'n goeie toestand is.
Ry & Sleep sê Hier is geen selfoonontvangs by die staanplekke nie, maar gratis wifi is beskikbaar by die badkamers.
POTDEKSEL
Om die berg
Jy kies kortpad deur Laingsburg om van Buffelsrivier af by Potdeksel Karoo se 4x4-kampplek uit te kom, want laasgenoemde lê anderkant die dorp én die Witteberg.
Hou regs wanneer jy terug op die dorp is nadat jy die rivier voor Van Riebeeckstraat oorsteek. Die pad loop 800m verder onder 'n treinbrug deur wat volgens foto's een van die min strukture is wat staande gebly het in die 1981-vloed.
Volgens 'n inligtingstuk by die dorp se Vloedmuseum het van die water teen die brug opgedam en veroorsaak dat driekwart van die dorp onder water was. Toe die grondopvullings by die brug uiteindelik meegee, het die krag van die water die grootste deel van Laingsburg platgevee.
Talle mense is meegesleur tot in die Floriskraaldam, 21km verder, terwyl van die slagoffers tot so ver as Mosselbaai opgespoor is.
Die pad loop onderdeur die eerste boog van die brug waarvan die onderkant met verskillende stroke kleure geverf is, wat dit in 'n mooi kunswerk verander.
Die afdraai na Potdeksel is 4,8km ná die brug waar die grondpad begin. Dié pad loop 63km verder tussen Matjiesfontein en Touwsrivier teen die N1 vas.

Daar is verskeie motorhekke, maar dis minstens 'n netjiese grondpad. Hou jou ritmeter nou mooi dop, want 38,5km verder draai jy in by Potdeksel. (Dit word nie duidelik aangedui nie.) Wanneer jy 'n ou wit huis met twee groen deure en 'n plat dak vol klippe links van jou sien, is jy by die afdraai.
Voor jou is 'n poort in die berg waar die ingang na Potdeksel is. Skaars 100m verder pons jy die kode vir 'n elektriese skuifhek in en dan is dit nog 440m tot in die kampplek. Wat die pad betref, behoort jy nie enige probleme te hê nie - tensy jy met 'n plat sportmotor kom kamp.
Die skoonheid en rustigheid van die berge en vaalgroen bossies is byna oorweldigend, maar dan sien jy links in die verte windturbines wat op die bergkruin opgerig word en vir 'n breukdeel van 'n sekonde word jy herinner aan jou moderne bestaan.

As jy in die kampterrein aankom, is die ablusiegeriewe en opwasplek regs van jou in 'n lang klipgebou met vier deure en 'n stoep.
Voor die gebou is 'n selfgeboude verkeersirkel, wat jou lewe as sleper makliker maak. Jy hoef nie noodwendig óm die sirkel te ry om by die kampplek uit te kom nie, want jy kan skerp regs hou en basies téén die verkeer ry en in by die ingang.
Dis ook 'n gawe omdraaiplek en baie prakties vir mense met 'n lang sleepkombinasie.

Die kampterrein spog met 'n grastapyt. 'n Mens skop jou skoene sommer dadelik uit om jou voete 'n blaaskans te gee op die sagte groenigheid. Die staanplekke is duidelik gemerk met die nommer wat teen 'n regop klip vasgesit is.

Jy kry 'n kragboks op jou staanplek met 'n lig bo-op. Die lig en kragboks lyk op die oog af of dit roeskleurig geverf is, maar dis waarskynlik van al die yster in die water. Dit lyk nietemin aards en pas mooi by die omgewing in.
Jy kry ook 'n braaidrom op wieletjies (met 'n rooster). Die enigste vullisdromme wat ons kon sien, was by die badkamergebou.
Die eerste staanplek regs is die gesogste van almal, want hier's die meeste koelte.
Hier staan kareebome waarvan sommiges glo al 'n eeu oud is. Hier is ook 'n paar bome aan die agterkant van die oorkantse staanplekke, maar die meeste aan diékant kry heeldag volson. Daar is 'n effense helling van jou staanplekke af na voor, maar dis darem nie te veel van 'n gesukkel om jou wa gelyk te kry nie.
Die staanplekke word geskei deur 'n strook verhewe gras, en die kans is skraal dat jy oor jou bure se ankertoue gaan struikel.

Van die kampeerders het daardie verhewe grasstrook gebruik as parkeerplek vir hulle motor.
In die middel van die kampterreinstrook, heel regs op die rand soos jy inry, is 'n vlak plonsplek met drie dammetjies. Hulle verskil effens in hoogte en die water spoel oor van die een na die ander.

Dis geensins 'n volwaardige swemplek nie, maar 'n plek waar kinders veilig kan speel of waar jy kan kom dryf om af te koel. Weerskante van die dammetjies staan pilare met krane waarvan die water veilig is om te drink.

Die naaste staanplek is 20m van die badkamers af, terwyl jy net meer as 100m hiernatoe moet stap as jou wa op die verste punt staan.
Die skottelgoedopwasbakke is op die naaste hoek van die gebou. Die waterdruk in die stort is sterk en hier is elektriese geisers vir die warm water - neem dus jou medekampeerders in ag.
Agter elkeen van die vier deure in die gebou met sy klipafwerking is 'n gesinsbadkamer vir almal se gebruik. Die toilet is links soos jy instap met die vlak klipwasbak voor jou. Die stort is regs om die hoek, en voor jou (langs die wasbak op pad stort toe) 'n lekker groot spieël teen die muur.
Die stort is oop, maar jou droë goed is veilig om die hoek. Die vertrek het twee vensters wat jou 'n uitsig oor die berge gee.Dis laatmiddag en ons hoor 'n trekker aangery kom. Hy hou langs ons staanplek stil met 'n klomp kampkinders wat sommer vanself op die sleepwa gespring het om saam te ry.

Die bestuurder laai 'n klompie sakkies hout (R65 elk) af by die bure en ons kry die potbrood wat ons saam met die bespreking bestel het (ook R65).

Die volgende oggend word selfs vars vetkoeke uitgedeel - gratis.

Ons bure het met ons aankoms in die veld gaan stap, en digby die hek is 'n bordjie wat wys 'n 4x4-roete draai daar af. Maar ons het bloot ons kampstoele uitgepak en die natuur om ons ingeneem. Dit is iets wat geld nie kan koop nie.
Hulle sê

"Dis 'n ongelooflike plek en ons kom weer! Die uitsig is pragtig, en in ons geval kamp niemand voor jou nie. Jy sal selfs in die winter hier kan kamp, en danksy die beperkte aantal staanplekke gaan jy nie vertrap word nie."
"Ons is aangenaam verras! Jy verwag 'n droë plek met spartaanse geriewe, maar dit lyk net soos op die webtuiste. Die staanplekke het wel 'n effense val en dis donker in die aande. Hier kort miskien nog badkamers, maar die dammetjies voor die staanplekke is omtrent helend want jy hoor die gekabbel van water."
Kortliks | Potdeksel

Kampplek 9 afsonderlike staanplekke op gras. Die helfte het koelte.
Ablusiegeriewe 1 badkamergebou met 4 gesinsbadkamers vir almal se gebruik. Die opwasplek is ook hier en daar's geen gesukkel met warm water nie.
Prys R850 p.n. per staanplek vir tot 4 mense (of R750 p.n. vir 2 aande en meer); R900 vir 5 mense (R800 p.n. vir meer as 1 aand); R1000 vir 6 mense (R900 p.n. vir meer as 1 aand).
Aankoms- en vertrektyd 12:00-17:00 en 11:00.
Kontak 064 915 9066 | info@karoo4x4 | karoo4x4camping.co.za
Naaste dorp Laingsburg 44km (Touwsrivier en Matjiesfontein 52km).
Hoe lyk die pad? Afhangend van watter kant (Touwsrivier of Laingsburg) 24km of 39km netjiese grondpad.
Ry & Sleep sê Die naam verwys na 'n spits agter die kampplek wat soos 'n potdeksel lyk. Dit was blykbaar in die Boereoorlog 'n uitkykpunt vir die Engelse.
Dorp van die '81-vloed
Laingsburg is beroemd vir die vloed van 1981, wat allerweë beskou word as een van die grootste natuurrampe tot nog toe in ons land.
Doen dus die moeite om 'n draai te maak by die Vloedmuseum op die dorp. Dis van Kaapstad se kant af nét anderkant die brug oor die Buffelsrivier aan jou regterkant.
Ironies genoeg behoort die rivier net 'n droë loop te wees, maar 44 jaar gelede was dit 'n saak van lewe en dood toe 'n driekwart van die dorp deur massas water verswelg is.
As jy deur die dorp ry, wees op die uitkyk vir 'n mosterdkleur baken langs die pad wat wys waar jy moet draai om by die museum uit te kom. Aan die bopunt van die baken is 'n streep wat wys hoe hoog die watervlak met die vloed was.
Die museum is 'n netjiese gebou en hier is ook 'n winkel en gedenkteken vir die ramp se 104 slagoffers, waarvan 72 nooit gevind is nie.
In die museum se binnehof hang verskeie stukke dryfhout in die vorm van 'n kunswerk byna tot teen die plafon. Hier is ook 'n "hoogwatermerk" - dis dan wanneer jy besef dat jy nou amper twee verdiepings onder die vloed se watervlak staan.

Hordes oorblyfsels van items wat ná die vloed gevind is, word in die glaskaste ten toon gestel en dit gaan jou 'n hele ruk neem om alles in te neem.
Een van die mees bisarre items is 'n bottel halfvol water, met die onderste helfte wat gevul is met wat soos grond en klip lyk met groen slik tussenin. Die plakker hierop lees: "Vloedwater 25 Januarie 1981."

Hier is ook skoene, 'n Bybel en 'n driewiel se trappe.
As jy nóg tyd wil verwyl, is daar hope koerantknipsels op die tafel regs van die deur.

Leon vertel hy het so in die deurblaai op 'n gesinsfoto afgekom van Theuns du Plessis, sy vrou, Sally, en hulle drie kinders, Lisa (11), Sanita (8) en Piet (12).
In die onderskrif sê dit die foto is kort voor Theuns se verdwyning geneem. En Leon besef dat Piet saam met hom op laerskool in Rustenburg was.
Hy onthou hoe hy en sy broers met fietse uitgery tot by oom Theuns-hulle se oord, Ananda. Leon sê as hy reg onthou, het oom Theuns met die vloed in sy blou BMW van die brug afgespoel.- Red.
Hiermee het ons gesleep
Land Rover Discovery Dynamic HSE

Land Rover se gene lê diep in die bosse, en vandag bied dié vervaardiger 'n stewige aanbod van weelderige rygoed soos die Defender, Discovery en Range Rover.
Blink en spoggerig beteken egter nie hulle skrik vir die boendoes nie, soos ons opnuut besef het toe ons met dié Discovery van die teerpad afgedraai het. Selfs met sy 22duim-sierwiele was daar nie een afgeleë plek diep in die Karoo waarvoor die Discovery nié opgewasse was nie.
Boonop het ons Mobi Lodge se nuwe vlagskipmodel, die Qauttro, op die haak gehad. Hierdie dubbelas-grootmeneer laat die skaal behoorlik kreun, wat beteken daar was nie wegkruipplek vir die Discovery nie.
Soos ons verwag het, is die Discovery toegerus met elke denkbare katoeter en alles wat kan oop- en toemaak, en die nuwe D350-enjin is enige sleper se droom.
Met sy 700Nm wringkrag sorg die dubbelturbodieselenjin dat jy selfs met 'n wa omtrent die pas kan aangee op 'n snelweg - en op grond voel dit of die teer nooit opgeraak het nie.
Vir ons is dit egter al sy sleepverwante tegnologie wat die oog tref. Jy kan die elektriese sleepstang uit die bestuurdersitplek uitslaan óf jy kan omstap en sake dophou terwyl jy 'n knoppie hiervoor in die laairuim druk.
Die trukamera se korrellyn sorg dat jy in een beweging die bol tot onder die koppelstuk kry, en 'n ingeboude skaal in die stang sê vir jou met watse gewig die koppelstuk op die bol lê.
Die rekenaar skakel outomaties al die ligte afsonderlik aan en af sodat jy self agter die wa kan staan om te sien wat werk of nie, en dan help dit met die grootste kopseer: Terugstoot om 'n hoek, iets wat ons in detail in ons sleeptoets in die Augustus-September 2025-uitgawe bespreek.
Dieselfde geld vir die brandstofverbruik, want 'n groot enjin en 'n swaar sleepding beteken net een ding, nie waar nie?
SPESIFIKASIES
Model Dynamic HSE
Enjin 6 silinder-dubbelturbodiesel
Krag 257kW
Wringkrag 700Nm @ 1500-3000r.p.m.
Ratkas 8 spoed-outomaties
Aandrywing Allewiel
Tenk 89l (reserwe ± 8,5l)
Tarragewig (lisensieskyf) 2 292 kg
BVM (lisensieskyf) 3220kg
BKM 6745kg
Sleepvermoë 3500kg
Sleepstang se vragtoets-indeks 1688,65kg (D-waarde 16,56kN)
Maksimumneusgewig 150kg
Is die stang verwyderbaar? Nee, maar dit swaai elektries weg
Prys R2115500 (toetsvoertuig R2203101)









