'n Sterk kouefront sal na verwagting Woensdag vir bibberweer, swaar reën en sterk wind in die Wes-Kaap sorg. Dit sal teen Donderdag ook die Oos-Kaap bereik.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Maandag gesê die front gaan die Wes-Kaap en die Namakwa-distrik in die Noord-Kaap van Woensdag tot Vrydag raak, met 'n moontlikheid van sneeu in die hoogliggende gebiede.
Aan die kus word stormsterk wind en deinings van tussen 5,5 m en 7,5 m hoog verwag.
Mettertyd sal die front ook die Oos-Kaap bereik, wat onlangs onder oorstromings deurgeloop het. Daar is veral kommer oor skadelike wind wat Donderdag kan voorkom.
Waarskuwings
'n Geel vlak 4-waarskuwing is uitgereik oor skadelike deinings van Woensdagaand af tussen Alexanderbaai en Kaap Agulhas. Dit sal teen Donderdag na Plettenbergbaai versprei.
'n Geel vlak 2-waarskuwing is ook van krag oor 'n skadelike kuswind Woensdag tussen Lambertsbaai en Kaap Agulhas wat teen Donderdag na Plettenbergbaai versprei.
Nog 'n geel vlak 2-waarskuwing is uitgereik oor skadelike binnelandse wind wat veral vervoerroetes in die weste en noorde van die Wes-Kaap kan raak.
Daarby is 'n geel vlak 2-waarskuwing van krag oor ontwrigtende reën wat van Woensdag tot Donderdagoggend tot oorstromings in die Kaapstad-metro, Cederberg se munisipale gebied, die Kaapse Wynland en die weste van die Overberg kan lei.
Die weerdiens waarsku ook oor toestande Woensdag in die Sentraal-Karoo wat tot die ontstaan van veldbrande kan lei.
In die Oos-Kaap is daar Woensdag 'n geel vlak 2-waarskuwing oor skadelike wind in die distrikte van Chris Hani, Joe Gqabi en Sarah Baartman, asook die munisipale gebiede van Raymond Mhlaba en Amahlathi.
'n Geel vlak 2-waarskuwing is ook vir Donderdag uitgereik oor skadelike wind en deinings aan die kus tussen Plettenbergbaai en Oos-Londen.
Verder is 'n geel vlak 1-waarskuwing Donderdag van krag oor ontwrigtende sneeu wat die verkeer kan raak en tot vrektes van vee en gewasse in die munisipale gebiede van Senqu en Elundini kan lei.
Woensdag word bewolkte weer die oggend in die grootste deel van die Wes-Kaap verwag, met 'n 100%-kans op reën in Kaapstad asook teen die middag in die Paarl, Ceres en Malmesbury.
Vir Worcester, Hermanus, Grabouw, Langebaan, Vredendal, Clanwilliam en Redelinghuys is daar 'n 80%-kans op reën die middag.
Vir die res van die provinsie is daar 'n 30%-kans op reën.
Vir Kaapstad word 'n maksimum van 14 °C voorspel en 'n noordwestewind van 40 km/h. Vir George word 'n maksimum van 22 °C voorspel en 'n noordwestewind van 20 km/h.
Die noordwestewind kan 'n spoed van 56 km/h bereik in Hermanus en Beaufort-Wes, met 'n noordwestewind van 50 km/h in Kaap Agulhas, Langebaan, Redelinghuys, Vredendal en Laingsburg.
In die Oos-Kaap word sonnige weer met 'n sterk noordwestewind verwag. Vir Gqeberha word 'n maksimum van 27 °C en 'n noordwestewind van 30 km/h voorspel.
In Graaff-Reinet kan die noordwestewind 'n spoed van 74 km/h bereik, met 65 km/h in Nxuba (Cradock), 56 km/h in Komani (Queenstown) en 50 km/h in Kariega en Fort Beaufort.
Donderdag is daar 'n 80%-kans op reën in Kaapstad, die Paarl, Ceres, Hermanus en Grabouw, met 'n 60%-kans vir die res van die Wes-Kaap behalwe in dele van die Karoo.
Vir Kaapstad word 'n maksimum van 13 °C voorspel en 'n suidwestewind van 30 km/h. Vir George word 'n maksimum van 15 °C voorspel en 'n westewind van 40 km/h.
In Kaap Agulhas kan die suidwestewind 'n spoed van 50 km/h bereik en in Beaufort-Wes word 'n westewind van 50 km/h verwag.
Vir Ceres word 'n maksimum van slegs 8 °C voorspel, met 'n maksimum van 11 °C vir die Paarl, Worcester, Grabouw en Clanwilliam.
In die Oos-Kaap is daar 'n 60%-kans op reën in Gqeberha en Joubertina, met 'n 30%-kans op reën of buie in die grootste dele van die res van die provinsie.
Vir Gqeberha word 'n maksimum van 19 °C voorspel en 'n westewind van 40 km/h.
Die noordwestewind kan 'n spoed van 50 km/h bereik in Kariega, Graaff-Reinet, Makhanda (Grahamstad), Fort Beaufort, Nxuba en Komani, met 'n westewind van 50 km/h in Port Alfred.
Vrydag is daar 'n 60%-kans op reën in Kaapstad en 'n 30%-kans in die Paarl, Worcester, Ceres, Malmesbury, Langebaan, Hermanus, Grabouw en Kaap Agulhas.
In die Oos-Kaap is daar 'n 30%-kans op buie in Gqeberha, Kariega, Port Alfred, Oos-Londen en Joubertina.











