Vanweë hul ellelange en onvergeeflike loopbaanpad, wat soms skrams net na die doeke wegspring, sou jy weinig professionele renjaers juis as akademiese reuse kon bestempel.
So druk is dié superatlete se onophoudelike regime van fiksheid en kompetisiedeelname op die enkelsitplekformule-leer dat die boeke deurlopend gerieflik dog onvermydelik vergete bly op vooraande wanneer die volgende trofee en gepaardgaande jaagkontrak wink. Met net één doel voor oë.
Daarom sal Charles Dickens se geykte openingsin uit A Tale of Two Cities wat vanjaar se Formule Een (F1)-seisoen so raak opsom - by name: "It was the best of times, it was the worst of times" - grootliks in die F1-kuipe soos pêrels voor die swyne val.
Voorwaar was 2024 'n seisoen van twee helftes. 'n Jaar wat steriel ingelei is, sy enkels eers by sy knak-kerf begin wikkel en op 'n hoë noot verdaag het.
Dog, wat in die afwesigheid van 'n kristalbal, nooit as te nimmer op 2 Maart by die jaar se openingsronde in Bahrein voorspel sou kon word nie. Teen jaareinde het nie minder nie as sewe jaers van vier verskillende spanne minstens twee keer elk 'n wedren gewen.
Trouens, Max Verstappen (27), uiteindelike wêreldkampioen van Red Bull-Honda, se punte-oes in die eerste ses rondes was so geil (en sy mededingers s'n ewe goor) dat die spanning in die raadsale (en na bewering slaapkamers) veel, uhm, aanvanklik sappiger skryfmateriaal aan die sport se skrywers gebied het.
Dit was veral so omdat 2024 met die kombinasie van een koddige en een onbenydenswaardige kenmerk begin het: Met 24 beplande rondes - die langste seisoen tot nog toe; en die eerste jaar in die sport se 75-jarige geskiedenis dat die jaersrooster onveranderd van die vorige seisoen oorgedra is.
Hamilton se tydsberekening
Daardie dooiepunt is ongedaan gemaak deur 'n broodnodige voorseisoense verwikkeling. Dié van die gevalle Mercedes-held Lewis Hamilton, wat volgende jaar die Driepuntster opspraakwekkend vir Ferrari-rooi sal verruil.
Die grootste vraag destyds was watter aspek van sy aankondiging het die grootste gewig gedra: Die tydsberekening (onthou, hy sou vanjaar met al hoe minder oorgawe sy span verteenwoordig) of die feit dat dit yl-gekodeerde erkenning van sy vertroueverlies in sy span se wenpotensiaal was.
Die skeiding was oënskynlik ondenkbaar, dog agterna beskou, onafwendbaar, in ag genome dat Hamilton en Mercedes F1 se langste en suksesvolste kombinasie is.
Dikwels in die afwesigheid van oortuigende mededinging in die afgelope 12 seisoene het Hamilton ses wêreldtitels, 153 podiums, 84 seges en 78 voorste wegspringplekke uit 246 renne losgejaag.
Die sport se nuwe era van ondervloerse aërodinamika het daarenteen die Mercedes-span van 2022 gepootjie en moes Hamilton gedweë toekyk hoe sy medetitelnemesis van die kookwater-2021-seisoen, Verstappen, die kroon vir vier agtereenvolgende jare huis toe vat.
Hoe meer Hamilton vanjaar raadop met sy driebeenmuil geword het, hoe meer raadsaam het sy skuif na Ferrari se flinker hingste begin lyk.
Tweedens, die tyding (gelewer dae voor die begin van die seisoen) van onbehoorlike gedrag deur Christian Horner, Red Bull-spanbaas, teenoor een van sy personeellede en die gevolglike hantering daarvan, het in vele opsigte indirek die stelselmatige aftakeling van sy span se opperheerskappy deur die res van die jaar aangehelp.
Miami, en Max begin tuimel
Vernaam met die beginselvaste bedanking van Adrian Newey, aëro-ghoeroe van Red Bull wat sy kennis oor dieselfde naweek in Mei gegee het, presies toe Verstappen vir die eerste keer vanjaar en simbolies van sy dreigende ondergang die onderspit teen Lando Norris van McLaren-Mercedes, sy eindelike medetitelstryder, gedelf het.
Trouens, Miami was die punt waar dié twee jaers se kampioenskaptrajekte oorkruis het. Daar het die McLaren MCL38 soos 'n feniks uit die as verrys, teenoor die Red Bull RB20 wat Verstappen rondte ná rondte daarna vertoon het as meer tuis op die ashoop.
Teenoor die Nederlander se wonderwerk met sy stuurse stier, kon sy spanmaat, Sergio Pérez, nooit vanjaar die RB20 tem nie. Sy afwesige ondersteuning van Verstappen se kroonveldtog het onteenseglik vir Red Bull vanjaar se vervaardigerskroon gekos. 'n Peperduur gaatjie (gemeet in honderdmiljoene dollars se verlore prysgeld) in sy bankrekening wat waarskynlik 'n vervroegde aftrede vir Pérez beteken, ongeag die beweerde onbetwisbaarheid van sy kontrak vir volgende jaar.
Ferrari en Mercedes het albei baan-spesifieke sukses gesmaak, maar nooit volhoubaar nie: Vandag triomfantlik; môre weer baardvrywend.
Die twee misstappe wat egter enige hoop van 'n jaerskroon vir Norris en McLaren getroef het, was dat hul eureka-ontwikkelingsoomblik hom eers ná 'n kwart van die seisoen geopenbaar het. En dat hulle tot die halfpadmerk gewag het om prioriteit in hul spanbevele, wat, waar moontlik, die twee se wenorde bepaal, aan Norris teenoor sy spanmaat, Oscar Piastri, te verklaar.
Derde beste motor
Die gekweste Verstappen moes gevolglik slegs sy gemoed (en tong) in toom hou en skadebeheer toepas waar hy kon.
Sy oorwinning twee weke gelede in Katar - met die 2024-kroon reeds in sy sak - was voldonge bewys van 'n ware kampioen se onblusbare honger om te wen, aangevuur deur die wete dat hy die haas onmoontlike vermag het in 'n motor wat in die tweede helfte van vanjaar ten beste F1 se derde vinnigste was.
Sy enigste noemenswaardige blaps was 'n ooroptimistiese duikbeweging na Piastri se binnekant in verlede Sondag se slotrondte in Abu Dhabi, waarna die gevolglike kontak albei motors tollend van die baan geslinger het.
F1 se onveranderde reëls wat vanaf 2022 geld, het vanjaar 'n konvergensie van die verrigting van sy onderskeie deelnemers tot gevolg gehad.
Historiese voordele is deur dalende opbrengste uitgewis en wegspringordes soms deur duisendes van 'n sekonde bepaal.
Dit het Saterdagmiddae se kwalifiseringsrondes dikwels meer adrenalienbelaaid as die hoofitem op Sondae gemaak waar die gaping tussen die topvier spanne en die res steeds onrusbarend groot met 'n onweerlegbare verdeling tussen die uitblinkers en die agterosse was.
Desondanks sy sirkusbase se pogings om F1 verder na 'n vermaakvorm ryp te druk - die obsessie met skitterwaarde bo skouspel deur die meedoënlose toevoeging tot die kalender van sinlose straatbane, snel- en aandrenne; gepeper met te min en te maklike verbystekery - was 2024 die naasbeste seisoen van die turbohibriede-era, wat van 2014 geld.
Vir slegs die tweede keer in 11 jaar moes die kampioen swéét vir sy sukses - met 'n halsstarrige motor wat gejukstaponeer is deur sy kavalier se brute wilskrag en verbluffende talent.
"I must be taken as I have been made. The success is not mine, the failure is not mine, but the two together make me."
Uit Dickens se tydlose Great Expectations: Natuurlik nie dat Max (of sy teenstanders) dít ooit sou weet - of waardeer - nie.
- Volgende jaar Formule Een-seisoen begin op 16 Maart met die Australiese Grand Prix op die Albert Park-straatbaan in Melbourne.

















