
Terwyl ek anderdag na die Britse sangeres Petula Clark se ou treffer "Where Did We Go Wrong" luister, vra ek myself af of hierdie eens pragtige land van ons nou stelselmatig verval tot 'n Sodom en Gomorra.
Die eens helder kleure van 'n reënboognasie het verdof en dit voel deesdae al hoe meer asof ons op 'n heel ander planeet leef.
'n Kanker van misdaad en ander onderduimshede is besig om ons land na 'n afgrond van wetteloosheid te dryf. Transitorooftogte, mensehandel, moord en verkragting, afpersing, kapings en ander misdrywe is amper elke dag in die nuus.
Hoe dan anders as sekere van ons land se tronke amperse gastehuise is waar misdadigers selfs met selfone en braaihoender sit?
Ons polisiediens is tot op die been verrot en die weermag se aansien strek niks verder as hul uniforms nie. Om nie eens te praat van staatshospitale waar die armstes van ons land se armes gebuk moet gaan onder sommige personeel se traak-my-nie-agtige houding nie.
Op die gebied van misdaad duik die woord "mafia" deesdae soos paddastoele ná 'n hewige donderstorm op, byvoorbeeld in die boubedryf. Met die onlangse vloede in Mthatha het die watermafia 'n humanitêre organisasie gedreig omdat hulle gratis water aan arm, landelike gemeenskappe verskaf het. Van besighede word verwag om te betaal om "beskerm" te word, anders word hul ondernemings geteiken en beroof.
Selfs die toerismebedryf word nie gespaar nie. 'n Familielid kom onlangs by ons kuier. Ná 'n nagtelike rit op 'n luukse bus vanuit Gauteng, is sy ganse liggaam pimpel en pers gebyt deur weeluise wat glo moedswillig deur taxibase op hul mededingers se busse losgelaat word.
Maar nou anderdag kruis my wederhelfte se paaie met 'n nuwe mafia wat veral op die platteland kop uitsteek: die kookmafia. Dit gebeur só dat my skoonsuster in die Wes-Kaap sterf en daar word besluit om haar in die familiebegraafplaas in die Oos-Kaap ter ruste te lê.

'n Paar dae voor die begrafnis pak vroulief ons getroue Venter-sleepwaentjie met kook- en skottelgoed en is sy met ons bakkie en 'n paar helpers vort om voorbereidings te gaan tref.
Die volgende oggend het hulle skaars hul oë uitgevee, toe ruk 'n stuk of 10 Xhosa-vroue op - elk gevoorskoot en gewapen met 'n skinkbord en mes. Hulle stel hulself voor as die gebied se spyseniers wat vir álle gesellighede en begrafnisse kook. En stop ewe voorbarig 'n ellelange inkopielys in die hand. Hulle is uiteindelik dikbek en druipstert daar weg nadat vroulief ewe diplomaties aan hulle verduidelik het dat sy haar eie helpers saamgebring het en dat sy die begrafnis se spyseniering self gaan behartig.
Dis stories soos dié wat my verdrietig laat en maak dat ek, soos Jesus in Lukas 19 oor Jerusalem geween het, self aan die tjank wil gaan oor hierdie land.
• Venter is 'n skrywer van KwaMaqoma (Fort Beaufort). Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

















