Enige bespreking van "die wêreld se beste wa" moet die nuwe Range Rover insluit. Egmont Sippel het die Autobiography-uitgif getoets.
Op 11 September 2001 het Al-Kaïda twee passasiersvliegtuie teen New York se twee toringgeboue vasgevlieg.

'n Kleiner skok het later die dag op die Frankfurtse motorskou gevolg toe Chris Bangle se omstrede BMW 7-reeks met die "Bangle Butt" gedebuteer het. Ook Bruno Sacco se laaste ontwerp vir Mercedes-Benz, die R230 SL Convertible, het uiteindelik vere gewys.
Sacco het in 1958 by Benz begin, in 1975 hoofstileerder geword en in 1999 uitgetree. Vir 41 jaar lank het hy net driepuntsterre geteken. Dis tien jaar langer as Harley Earl se roemryke General Motors-loopbaan (1927-1958).
Om 31 of 41 jaar lank vir 'n motormaatskappy te ontwerp gebeur nie vandag meer nie.
Behalwe as jou naam Gerry McGovern is. Met die uitsondering van 'n halwe dekade om die eeuwenteling het McGovern basies sy hele ontwerpslewe sedert 1982 tot nou by Austin Rover/Rover/Land Rover deurgebring.
McGovern se ontwerpbeginsels
In 1997 was Rapport in die suide van Spanje vir die eerste Land Rover Freelander se wêreldbekendstelling.
Gerry was ook daar met 'n bos krulhare wat vir niks skrik nie. Ek meen, regtig lank en woes tot stewig onder sy skouers.
Die Ingelsman het sy voorkeur vir horisontale lyne en skoon vlakke verduidelik.
"Motorontwerp moet op die toekoms gerig wees en van oordaad gestroop word sodat fundamentele elemente soos lig, ruimte, eenvoud en funksionaliteit kan blom.
"Ek onderwaardeer nie detail nie - en inspirasie kom van oral; modes, argitektuur, horlosies, fotografie, kuns, selfs dans - maar tierlantyntjies is uit."
Einste soektog na suiwerheid in 'n moderne idioom is oor die jare heen verfyn om onder meer 2011 se Land Rover Evoque, asook die vierde en vyfde Range Rovers in onderskeidelik 2012 en 2022, te lewer.
Een siening sou wees om Gerry gelyk te gee oor sy voertuie. Hulle's deftig, modern en elegant.
'n Ander siening is om McGovern se nuutste skeppings te beskryf as te glad geskulp en derhalwe gestroop van karakter. Boonop kloon hulle elk ander.
In ieder geval het die vyfsitplek-Range Rover P530 Autobiography wat Rapport verlede jaar getoets het soos 'n droom gery. Of laat ons dit so stel: Hy ry soos hy lyk; superglad, sonder haakplekke, sonder swak plekke, sonder vrot kolle.
En nie net is hy uiters modern nie.
Hy's ook vermoënd verby. Op teer is die Range Rover tot 85% in staat van wat 'n Mercedes-Benz S-klas of BMW 7-reeks kan doen. Maar in die boendoes . . .
Want kyk, met Terrain Response, vierwielstuur en 'n penshoogte van 219 tot 295 mm is riwwe, ravyne, rotse, sand, modder en bos die Ranger se 4x4- en laestrekkos, veral op sy kleinste wiele en lywigste bandprofiele.
Dimensies en padgedrag
Nie alles is volmaak nie.
Twee dekades gelede het Rapport die Jaguar XKR deur die Long Tom-pas gelooi. Aan't einde van die oefening het die rempedaal lelik verhard en styf geraak.
Terugvoering oor wat dit kon wees - soos 'n foutiewe remaanjaer of gekraakte vakuumpyp - is nooit gelewer nie.
Nou's dit ook so dat Jaguar en Land Rover (JLR) onder dieselfde sambreel bedryf word en ná al die jare was daar sowaar 'n vaagwegse herhaling van bogenoemde fenomeen op ons toets-Ranger, hoewel die aanvanklike harde, gevoellose kontak tussen remskoene en -skywe hierdie slag na geglasuurde metaal gevoel het, 'n indruk wat verstewig is deur 'n mate van remsidder.

Toegegee, dat die Autobiography - met al sy weeldetoerusting - in die orde van 2,7 ton weeg. Daarom stop hy van 100-0 km/h in meer as 45 m teenoor die S-klas en 7-reeks se minder as 40 m.
Dis 'n groot verskil wat merendeels uit groot gewigsverskille spruit. Die S500 en 740i is onderskeidelik net-net minder en meer as 'n halfton ligter as die Ranger.
Maar hulle ry ook op kleiner wiele (20" vir die Benz en 21" vir die Bim teenoor die RR se 23") met kleiner skywe (390/365 en 348/332 mm voor/agter vir die Benz en Beemer teenoor die Ranger se 400/370 mm).
Van die drie is die BMW teen amper 5,4 m gemaklik die langste en die RR teen net meer as 5,0 m die kortste, maar die Engelsman troon 1,87 m die lug in teenoor die Duitsers se 1,5 m.
Nie net sorg die Ranger se olifantlyf (en hope toerusting, maar dít het die Benz en Beemer ook) vir ekstra gewig nie, maar weens sy hoë houding en sagte lugveerinstellings - wat puik ritgehalte waarborg, behalwe dat die onderstel nogal op grondpaaie raas - leun die bak natuurlik ook veel meer deur draaie.
Tog help JLR se ligter maar wringstewiger nuwe MLA (Modular Longitudinal Architecture)-Flex-platform om die RR se postuur relatief gou te herstel. Einste MLA-Flex is ook ontwerp om inprop-hibried- asook vol-elektriese variante te ondervang.
Vir wat hy is, hanteer die Ranger dus goed. Maar dis sy hope krag, puik ritgehalte, superverfynde dryflyn, gesofistikeerde weeldekajuit en indrukwekkende veldvermoëns waaroor mens lofliedere kan sing, sou jy met die Autobiography se 285/40-R23-wiele en -bande vir die boendoe kans sien.
Kajuit en toerusting
Die Autobiography is uiteraard met al die normale weelde-items en hulpmiddels toegerus; vier-sone-klimaatbeheer, outo-ligte en -reënveërs, banddruksensors, hope leer en so meer.


Dit wat die oog binnelangs kan sien is ook alles in McGovern se klassieke, skoon styl vol horisontale lyne verpak, nou met 'n nuwe en veel groter 13,1"-Pivi-Pro-infovermaakskerm wat intuïtief en vinnig werk.
Selfs die stuurwiel het nie vertikale speke nie; net vier horisontales wat met chroom tot 'n vierkant verbind word.
Klimaatbeheer werk onder meer via twee groot draaiknoppe eerder as ikone op die infovermaakskerm. En in klassieke Ranger-tradisie is die agterklap horisontaal gesplete.
'n Motor van meer as 2,0 m breed bied uiteraard ook 'n nuttige breë tonnelkonsole en met 'n amperse 3,0 m tussen die aste spog die vyfsitplek-Ranger met oorgenoeg agterkajuitruimte plus 'n enorme laaispasie.
Soek jy selfs meer is die sewesitplekker vir 'n ekstra R133 000 beskikbaar.
Al hierdie dinge is groot pluspunte.
Maar buiten die Ranger se verstommende veelsydigheid is dit sy gesofistikeerde meganiese verfyndheid wat ten diepste beïndruk.
Enjin, ratkas en gevolgtrekking
Die vorige Ranger se 5.0-liter-V8 wat Rapport tydens die enjin se 2009-wêreldbekendstelling in Spanje in 'n paar Jaguars ontmoet het, het uiteindelik plek gemaak vir BMW se biturboaangejaagde N63-4.4-liter-V8-juweel (390 kW, 750 Nm).
Mensig, en is hierdie enjin - asook die agtspoed-outokas waaraan hy koppel - fyner as 'n diamant geslyp. Met nuwe turbopypwerk snou hy nie meer soos die 5.0-liter-V8 nie, maar die bulk en bulder oorweldig steeds. Teen luier klink die oond voorts soos 'n kat wat met warm sjokoladesous in sy keel ronk en spin.
'n JLR-video spog dat die komende BEV-variant van die Range Rover die verfyndste een van almal sal wees. Maar ek weet nie. 'n Totale afwesigheid van klank is bloot stilte. Om verfyndheid te ervaar moet daar iets tasbaars, iets sensories ook wees, juis as kontras met die groot niks.
Waaddiepte? Die huidige Ranger s'n is 900 mm. Die EV s'n, seg JLR, sal 850 mm wees. 'n Helse battery, omring deur baie water? Eisj, 11 September 2001 was 'n groot genoeg skok. Nou't McGovern in sy nuwe rol as JLR se kreatiewe hoof ook besluit om Jaguar nie meer teen Mercedes en BMW te posisioneer nie, maar teen Porsche, Bentley en Maybach. Die Range Rover, hoera, skitter klaar in daai sirkels.
• Prys: Range Rover P530 Autobiography - R4,156 miljoen

















