Motors

Ruimte-eeuse Rangie bied alles

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Jy gaan nie sommer fout kan vind met Range Rover se jongste Sport nie. Behalwe dalk sy prys van R2,3 miljoen, wat so seer maak as 'n verloor teen die Kiwi's.

Maar vaardig en gedug, en heel deftig afgewerk daarby, dit is die gladdelyf-Rangie gewis.

Die Sport het sy lewe in 2004 begin as die Range Rover Storm-konsepmodel, 'n koepee-weergawe van die destydse Range Rover.

Twee jaar later, in 2006, met die goeie reaksies wat die Britse vervaardiger by die motorskoue gekry het as rugsteun, het Range Rover hom mark toe gebring: 'n Vierdeur-model, ja, maar steeds met die Storm se lae dak en baie skuins agterklap.

Dis nou al drie generasies later en die Sport bly daardie wilde nefie aan wie jy nie rêrig jou nuwe vriendin wil bekend stel nie. Want netnou dink sy hy's James Bond neffens jou Vaal Frikkie-voorkoms.

Plaaslik kry ons 'n handvol modelle. Daar is 'n hibried en 'n paar petrolgedrewe weergawes, maar ons het op die 3.0-liter-turbodiesel besluit. Fris enjinkrag, en lekker lang bene vir die toerpad om hierdie grote sportnuts met gemak oor die pad te laat draf.

Range Rover se nuwe Sport kombineer 'n elegante ontwerp met 'n fyn gespierdheid en hope tegnologie.
Range Rover se nuwe Sport kombineer 'n elegante ontwerp met 'n fyn gespierdheid en hope tegnologie.

Versonke handvatsels

Die Sport se voorkoms is bepaald anders as gewone nutse s'n. Geen hoekige vorms of skerp aksentlyne nie. Van neus tot stert is hy so glad en gerond as 'n koekie seep. Kyk selfs na daardie sierrooster en neus.

Al die oppervlakke gly naatloos ineen.

Hierdie amperse ruimte-eeuse voorkoms laat die Sport dadelik 'n gevoel van weelde uitstraal, en dit pas by hom. Net soos sy ander truuk, die versonke deurhandvatsels wat uit die metaal te voorskyn kom as jy hom oopsluit. Treffend, en mooi.

Fyn afwerkings oral

In die kajuit word die fyn lyne, mooi afwerkings en styfpassende panele voortgesit. Gekombineer met luukse leerbekleedsel en wynrooi panele.

Die luidsprekers by die deure byvoorbeeld het 'n ingewikkelde vorm, en pas soomloos by die plastiekpanele in. Die instrumentpaneel vloei soos 'n kombuis-marmerblad al om die hoeke by die deure. Nêrens 'n gaping of onderbreking te bespeur nie.

In die voorpaneel sit net een, groot raakskerm, die oppervlak ietwat agteroor gebuig om by die kurwe van die paneel in te pas. Die letters en ikone op die raakskerm is in fyn skrif, met koel kleure en sagte skadu's om geen oggend-oog wakker te gil nie.

Goeie nuus is dat die lugversorger en radio hul eie, fisieke kontroles het, terwyl die res van die funksies in die raakskerm vervat is.

Die agtersitplekke het elkeen hul eie TV-skerm en oorfone, en afsonderlike programme kan tegelykertyd gekyk word. Die laairuim is lekker groot en 'n gesin van vyf sal met gemak hul bagasie vir 'n somervakansie kan inlaai.

Reg vir die langpad

Al die weelde en fyn afwerkings ten spyt is die hoogtepunt sekerlik die lieflike werking van die sessilinder-diesel. Dis 258 kW en 'n magtige 700 Nm wringkrag wat permanent na al vier die wiele gestoot word.

Jy het ook 'n laestrekfunksie sou jy rêrig die boendoe wou invaar met jou multimiljoenrandse voertuig.

Die enjin is skaars hoorbaar met die aansit, en op die oop pad draf hy met lae toere en hope spierkrag beskikbaar. Ek het gemaklik so 7,6 liter gehandhaaf, wat jou 'n reikafstand van amper 800 km per tenk gee.

In die dorp help kameras reg rondom die voertuig jou om netjies te parkeer, terwyl daar ook 'n kamera onder die neus is om moeilike terrein te wys.

Stof tot nadenke

In sy geheel is die Range Rover Sport, met sy diesel-enjin, 'n fantastiese kombinasie. Dis gerieflike motorry in weelde, krag en stilte.

Hy gaan helaas net 'n paar Suid-Afrikaners beskore wees.

  • Prys: Range Rover Sport D350 - R2 189 200.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM