Motors

Egmont Sippel: Olifant-jol!

Skilderagtig mooi: Die Oos-Kaap se Primgradia-plaas.  Foto: Anneke van Heerden
Skilderagtig mooi: Die Oos-Kaap se Primgradia-plaas. Foto: Anneke van Heerden

Soos 'n olifantkalfie het Renault se diesel-Duster einde laasjaar deurdie Oos-Kaap en Karoo gedraf. Egmont Sippel was agter die stuur.

Jy sit by die brekfistafel en oeps!

'n Sny roosterbrood skiet onder jou mes uit terwyl jy smeer en ons weet hoe hy val. Dis tog Murphy se wet.

Of nie?

Dekades gelede het die Scientific American-tydskrif gevind dat die brood se vorm en grootte, maar veral die gemiddelde tafelhoogte plus gravitasiekrag se spesifieke waarde, feitlik sal verseker dat die sny net halfpad roteer en op sy gesmeerde kant beland.

In die middel-1990's het die Britse fisikus Robert Matthews einste 'n Ig Nobelprys verwerf vir sy gedetailleerde wiskundige verduideliking hiervan. Die satiriese "Ig Nobel Prize" se "Ig" staan vir "ignoble". Die prys eer prestasies wat mens eers laat lag.

En dan laat dink.

Duster-syfers

Renault se robuuste klein-na-middelgrootte lewenstylertjie tikke-tikke-tik voort.

Of eintlik is dit verkeerd om hier 'n dieselgeluid in te skryf. Teen spoed is die Duster 1.5dCi Zen die beste deel van doodstil. Dis net teen luier en steil bulte of tydens harde versnelling dat trekkerklanke uit Renault se klein 1.5-liter-viersilinder-turbodiesel deurslaan.

Die oondjie stuur 80 kW/250 Nm via 'n gladde sesgang-EDC-dubbelkoppelaarkas (of 'n handrat, afhangende van model) na die voorwiele. Die 0-100 km/h­lopie duur 'n trae 12 sekondes.

Maar die Duster is g'n olifantbul nie. Leeg weeg hy 'n ligte 1,3 ton. Dis hoekom die lewenstylertjie, selfs met tien dae se bagasie, soos 'n vars briesie loop as die stoom eers opbou.

Einste vind die waentjie uiteindelik op laasjaar se langpad na die Addo-olifantpark 'n gemoedelike tempo. Tussen 110 en 125 km/h is die Renault so salig gelukkig soos iemand wat in 'n goeie fliek verlore raak.

En wat wou! Die N2 glip ewe geestig onder die motor deur as wat toentertyd se selluloïedlinte deur Plaza- of Odeon-teaters se moewieprojektors gerol het. Trrrrr in die flieksaal se donkerte. Tikke-tikke-tik op die sonryke N2.

Die Groot Sewe

Die dorpies glip verby.

Elkeen vertel 'n storie op vele vlakke - geologies, histories, polities, sosio-ekonomies - maar op beeldvlak is dit 'n moewiese fees, 'n lieflike montage vol Grabouw-appels, Caledon-graan en Riviersonderend-"Kanna-Kan-Kann", menende eindelose water.

En dis net die begin. Diaz en Da Gama se Mosselbaai volg en dan die Tuinroete deur George en Knysna. Net voor Gqeberha is daar 'n lang stuk snelwegteer wat, interessant genoeg, álle bandgeraas opslurp. Dis of jy in jou eie "Silent Movie" deur die ruimte sweef.

Die eerste hervulling is op Colchester, 40 km anderkant die eertydse PE, digby Addo se suidhek. Met die Indiese Oseaan binne kyk-afstand word mens daaraan herinner dat Addo die planeet se enigste park met die Groot Sewe is: Olifant, leeu, renoster, buffel, luiperd, sebra en rooi hartbees.

Ha-ha, net 'n grappie. Die laaste twee is uiteraard volop. Maar die Groot Sewe se sesde en sewende lede is die walvis en die groot withaai. Met 'n bietjie geluk kan jy die planeet se grootste landdier en grootste seedier op een en dieselfde dag sien.

Olifante

Uit die Kaap tot in Colchester het die Duster sy dors met 'n gemiddelde van 5,8 liter/100 km geles. Dis goed, maar 5,3 liter/100 km is beter.

Dit nou in en om die park, want die vinnigste roete tussen Mathyolweni in die suide en die noordelike hoofkamp is buite om Addo. Die trefroete is egter déúr die kamp. Dis waar oom Oli en sy gesin wag.

Volgroeide bulle staan tot drie meter hoog en weeg vier maal meer as ons vakansievoertuig. Selfs op driejarige ouderdom is kalfies al van Duster-grootte.

Onthou voorts dat mens laag in jou voertuig sit as Tantor van voor af op jou afdrentel.

Die Renault en die vyfstuktrop is kennelik dus op koers om, in stadige aksie, soos twee treine in teenoorgestelde rigtings by mekaar verby te skuur.

En nie in die nag nie. In die dag. As dinge ontaard, sal dit in Technicolor wees. "Vyf Olifante rol 'n Stoffertjie," skiet deur jou kop. Of wat van die volgende oggend se 20-stuks reg van voor, helfte van hulle op die pad, die res in die bos, so naby dat mens hul oë hoor knip.

En boonop met 'n kleintjie agterna.

As ek reg onthou, het iemand "oulik, oulik" geprewel.

Terwyl die tande tikke-tikke-tik.

Andrew Bain

Nie álles is "Close Encounters of the Dirt Road Kind" nie. Daar's watergate waar jy die ou grotes van agter houtskerms gade kan slaan. Een saambondeling tel 30-plus, 'n ander 40-plus.

En dis doodstil. Nóg 'n "Silent Movie", met net die geslurp en gespuit van water soos die olifante drink en was en in die modder rol en jol. Plus die ge-trrrrrr van kameras wat op outomaties kiek, een foto ná die ander, baie soos die Duster kilo's vreet.

Eers Makhanda en Komani, die eertydse Grahamstad en Queenstown, en dan Sterkstroom en Primgradia, die Jordaan-plaas waar daar op 31 Mei 1940 gedenkstene gestapel is ter ere van die "Voortrekkers se Seinaand".

Dis heuwels en vlaktes vol geskiedenis.

So ook die bergpasse van die Skotse jagter en ontdekker Andrew Geddes Bain. As amateur en sonder enige vergoeding het Bain in 1832 'n pad deur die Oudeberg naby Graaff-Reinet gebou, gevolg deur nog 'n gratis poging, die Van Ryneveldspas.

As professionele projekte het die Ecca-pas (1837), 'n brug oor die Vis, Ceres se Michellspas, Ceres se Karoopoort, Tulbagh se Gydo-pas, Wellington se Bainskloofpas (1849-1853) en 'n deel van die Katbergpas gevolg, terwyl Bain se geologiese oog ook 'n aandeel had in die vestiging van Namakwaland se kopermynbedryf.

Les bes het die Skot die "Kaatje Kekkelbek"-karakter in sy Graaff-Reinet-jare geskep.

Kat- en Stormberg

Egmont Sippel saam met sy grootste held.  Foto: Anneke van Heerden
Egmont Sippel saam met sy grootste held. Foto: Anneke van Heerden
Egmont Sippel saam met sy grootste held.  Foto: Anneke van Heerden
Egmont Sippel saam met sy grootste held. Foto: Anneke van Heerden

Kekkel is nie iets wat die Duster doen nie.

Hy seil eenvoudig moeiteloos en stil, einste deur 'n nat Ecca-pas en dan 'n droë Katbergpas waar sitrusboorde soos lowergroen oasisse doer onder in die valleie blink.

Anderkant uit is daar kans vir 'n lekker pastei by die immergewilde Baddaford-plaaswinkel. Maar die dag se openbaring is hoe maklik die Duster opdraandes hanteer. Katvoet is hy in vyfde teen Katberg uit.

En dan, 350 km verby Addo, Primgradia. Soos 'n filmtoneel strek die amperse eeu oue plaas aan die voet van die Stormberg as deel van die moewiese Suid-Afrikaanse tafereel.

Pierneef sou gesukkel het om sy vlaktes te skilder. Die dramatiese prag van laatmiddagse wolkformasies is Constable en Turner verby.

Stormberg is juis die opperste van die Karoo se vier geologiese sediment-groepe. Dis ook die enigste plek in Suid-Afrika waar dinosaurusfossiele al gevind is.

Uit die Kaap van Storms dan, tot by die Stormberg, teen 'n kalme 5,5 liter/100 km. Mooi skoot!

Quo vadis?

Einste berg van storms se Penhoekpas haal 1 844 m bo seevlak. Dis hoër as Johannesburg. Op sy steilste is die gradiënt 1:10. Die terugrit begin egter goed, die Duster vreet Penhoek vir brekfis.

Dan Molteno (waar Ouma-beskuit gebak word), Steynsburg (op die rand van die Karoo) en Middelburg (met sy pragtige Kaap-Victoriaanse Country Inn-hotel).

Plek-plek hang droefgeestigheid egter soos stof in die lug. Te veel geboue is deur armoede oorval. Selfs met mense in die strate lyk hulle verlate.

Dis hoekom 'n uithangbord aan die einde van Steynsburg so tref. Internet Café, seg dit met 'n pyl wat dorp toe wys. Grote Griet! Is daar iewers dalk 'n Dolce&Gabbana ook?

Dan, vir 88 km, is dit weer Karoo-stil. Die pad is penreguit, maar uit Middelburg se binnedorp ry mens die aansluiting met die N9 na Graaff-Reinet maklik mis. Uiteindelik vra ons raad onder die Karooroos-padstal se enorme ou windpomp. Nee, julle moet omdraai. Terug onderdeur die N9. Dan die twééde (ongemerkte) afrit en met 'n krul terug tot by 'n T, waar die padborde verder sal help. Behalwe dat die borde rigting soos die ANC aanwys. Dis onmoontlik om die verbleikte name daarop te lees.

Quo vadis, dus? In hierdie wye en droewe land.

Hart van die Karoo

Die slimfoon help. Hy's kompas ook.

Dwarsvleistasie kom en gaan met sy enkelgehuggie in't middel van 'n wye verlatenheid, gevolg deur Lootsbergpas se 1 781 m bo seespieël.

Die wye vlakte anderkant lei 60 km verder na Graaff-Reinet waar besoekers met die bekende uieskilfenomeen ontvang word; lae van armoede wat na binne wegskil tot die majestueuse Groote Kerk as dorpskern anker en troon, met die pragtige Drostdy-hotel 'n hanetree verder.

Einste staan die historiese hotel met sy wonderlike etes en argitektuurversnit tussen Kaaps-Hollands, Victoriaans en Karoo as monument vir die Rupert-familie se onskatbare bydrae in patriarg Anton (1916-2006) se geboortedorp.

Op vele plekke hou hulle die kultuur en geskiedenis lewend, die Ruperts.

Einste die Karoo Nasionale Park 200 km verder, digby Beaufort-Wes. Dis een moewiese les in planeetgeologie. Die aarde wat so dor heuwel en die vlaktes wat so wyd vloer was 250 miljoen jaar gelede 'n binnelandse see. Toe 'n moerasvlei.

Nou 'n halfwoestyn.

En raai wat. 200 km is omtrent die afstand wat olifante per dag kan aflê as dit absoluut móét. Voeg 688 stresvrye klieks hierby en die 888 km van Addo na Beaufort het die tenk met 5,0 liter/100 km gedelg.

Terug Kaap toe, teen die wind en met baie verkeer plus 'n swaarder regtervoet wat by tye 130 km/h sou trek, was verbruik wel 'n liter per 100 km meer, maar hier's die ding: Oor 'n amperse 2 500 km deur die Oos-Kaap en Karoo het die Duster gemiddeld 5,2 liter/100 km geteug.

Beste motor

Dit bring ons volsirkel terug by die Ig Nobelprys. Want sou ek sê dat die Duster dalk Suid-Afrika se beste motor is, sal jy eers lag. En dan (hopelik) dink.

Oor sy lekker-lengte lyf, nie te lank nie, nie te kort nie (4,32 m). Oor hoe lig hy op sy wiele is en hoe stewig op die pad. Hoe rojaal sy laairuimte bult en hoe ruim die kajuit (hy's olifantkind).

Hoe lig hy op brandstof is en hoe taai en vernuftig in't veld met sy hoë pens (210 mm) plus goeie inval- en vertrekhoek (30°/34°).

Die Duster bied ook hope gemak-, nuts- en veiligheidtoerusting. Soos krag-alles. 'n Hoogteverstelbare bestuurstoel. Klimaat- en kruisbeheer. USB-poorte, Bluetooth, Apple CarPlay, Android Auto en 'n 12 volt-kragpunt. Vier lugsakke en ABS-remme met EBA en ESC. 'n Goeie basiese infovermaakstelsel met satnav, raakskermgerief en 'n kamerabeeld vir tru (plus vorentoe- en sybeelde op die reeks se 4x4- en Intens-variante; Renault spesialiséér in motorspesifikasie).

Laaste maar nie die minste nie bied die Duster, naas uitstekende verbruik, ook 'n kanniedoodgees; geduldig, gedienstig en gedwee. Dis 'n siel wat onwrikbaar, onverskrokke en onverstoorbaar gee en gee en gee.

Slegte ervarings?

Niks, buiten Murphy se wet wat tog geld, Scientific American se bevindings ongeag. Want iewers tussen Molteno en Steynsburg het 'n moewiese insek die voorruit gevind.

Raai waar? Uiteraard op die presiese lyn tussen oog en pad.

En dis altyd so. Dink bietjie daaroor. Voor jy hikke-hikke-hik lag terwyl die Duster tikke-tikke-tik.

Want hei, vir 'n baba-olifantjie is die lewe altyd 'n moewie, ewig 'n jol.

• Prys: Renault Duster - R398 000 tot R466 000.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM