Oorweeg jy 'n Chinese ryding? Noudat pryse van nuwe voertuie so hemelhoog is, is daar slegs twee produkte wat ek vandag sal aanbeveel: GAC se Emzoom- en Emkoo-sportnutse.
Ja, die name is laf. Maar die (kleiner) Emzoom en (groter) Emkoo is albei nie net treffend gestileer nie, binne en buite, maar voel ook solied aanmekaargesit, ry heerlik sonder die irritasies en rukkerigheid van die ander Chinese voertuie, en bied 'n billike (let wel: nie die beste nie) brandstofverbruik. Want onthou, as daar een Achilleshiel van die Chinese spektrum voertuie is, is dit hul dorstige kele.
Wat sê die knoppie?
Ek het pas die groter Emkoo gery, en selfs in 'n vervelige wit bakwerk lyk hy steeds modern en treffend. Kyk na die sierrooster met sy V-vormige lyne, die dun LED-hoofligte, en die deurhandvatsels wat in die deure versonke is.
In die kajuit word die moderne aanslag voortgesit. Ek hou van die digitale skerms, wie se uitleg en bruikbaarheid beter is as dié van die Chery- en GWM-produkte s'n. Dis net meer gebruikersvriendelik. Daar is ook nie 'n rits gonsers en alarms wat elke paar tellings afgaan as jy wegkyk nie.
Die rathefboom is net so 'n pennetjie, en saam met die elektroniese handrem is die middelkonsole 'n plat, breë oppervlak wat skoon en netjies vertoon.
Onder dié paneel is 'n oop ruimte vir stoorplek, asook enkele USB-sokke. Koddighede is daar wel, in die kajuit. Daar is vier (!) horlosies voor jou. Op die inligtingskerm is orals ikone, maar langs een prent staan daar uitgeskryf: "Turn on the air conditioner." Nou ja, as jy ooit gewonder het wat daai knoppie doen . . .
Gooi kole
Vier mense sit lekker gemaklik in die Emkoo, of drie tieners agter met 'n geduldige geaardheid.
Die laairuim maak elektronies oop, en behoort 'n gesin se vakansie-bagasie te sluk.
Onder die enjinkap sit 'n generiese 1.5-liter-petrolturbo, wat jy in elke Chinese produk vandag sal aantref. Krag gaan na die voorwiele met 'n sewegang- outomatiese ratkas (dubbelkoppelaar-tipe), en roer jy die lepel skiet die Emkoo heel fluks weg.
Die stuur is lig en parkeerwerk is 'n droom in beknopte ruimtes. In die geheel het ek die verbruiksyfer tot so 7,3 liter afgekry - billik, maar nie so goed as Europese of Japanse nutse nie. Terloops, GAC maak aanspraak op 6,4 liter.
Afsaal
In Januarie het GAC 'n massiewe prysvermindering vir sy twee nutse aangekondig - dalk vanweë stram verkope, maar amptelik omdat die wisselkoers glo verbeter het. Ieder geval, teen net bokant die R500 000-kerf is die Emkoo en kleiner Emzoom nou veel beter geposisioneer teenoor hul mededingers. Met 'n lang toerustinglysie, treffende afwerkings en gemaklike rit, is dit my gunsteling-Chinese tot dusver.
















