Motors

Gewilde Magnite varser gemaak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Nissan SA se gewildste model, die Magnite, het pas 'n opknapping in Indië ondergaan waar hy ook gebou word.

Ons verwag die vars Magnite vroeg volgende jaar in Suid-Afrika.

Die Magnite, 'n kompakte sportnuts, verhandel in die baie belangrike prysband van tussen sowat R240 000 en R380 000. Dis waar die meeste van middelklas-Suid-Afrikaners na 'n motor gaan soek.

Jy sal fyn moet kyk om die verskille raak te sien waarmee Nissan sy gewilde klein sportnuts, die Magnite, opgeknap het. Die Magnite is Nis­san SA se gewildste model.
Jy sal fyn moet kyk om die verskille raak te sien waarmee Nissan sy gewilde klein sportnuts, die Magnite, opgeknap het. Die Magnite is Nis­san SA se gewildste model.

Nissan bou die Magnite in sy fabriek in Chennai en hy word na 60 markte oor die wêreld heen uitgevoer. In Suid-Afrika is hy Nissan SA se gewildste model en dus baie belangrik.

Die opknapping is egter baie matig gedoen.

Ons sien 'n nuwe sierrooster en onderste buffer, en ook nuwe sierwiele, met 'n nuwe ontwerp vir die topmodelle. Die enjins is net so behou. Intreemodelle kry 'n 1.0-liter-petrolenjin sonder turbo-aanjaging wat 'n matige 53 kW en 96 Nm wringkrag losdraai. 'n Vyfgang-handratmodel of vyfgang- outomatiese weergawe (gemeganiseerde handrat) is te kies.

Ons hou veral van die tweekleur-afwerking in die kajuit wat 'n moderne geur aan die kajuit verleen.
Ons hou veral van die tweekleur-afwerking in die kajuit wat 'n moderne geur aan die kajuit verleen.

Duurder weergawes kry die groep se turbogedrewe 1.0-liter (met drie silinders). Die enjin lewer 'n flinker 74 kW en 160 Nm wringkrag.

In die kajuit het Nissan ook slegs matige opknappings aangebring. Ons hou veral van die topmodelle se mooi tweekleur-afwerking by die sitplekke, deurpanele en instrumentpaneel. Die kajuit kry twee digitale skerms - voor die bestuurder en 'n raakskerm in die middel wat ook jou nutsfunksies en die trukamera se beeld huisves.

Nuwe bakwerkkleure en tweekleur-modelle is nou ook te kies. Ander standaarditems vir alle modelle sluit voortaan in 'n Arkamys-radio, stemmingsbeligting, sleutellose toegang, ses lugsakke en die raakskerm, wat met Apple CarPlay en Android Auto versoenbaar is.

Ons bring meer inligting oor pryse en die bekendstellingsdatum sodra Nissan SA dit aangekondig het.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM