BMW het die sluier gelig oor sy nuwe, tweedegenerasie-weergawe van sy stylvolle sportsedan, die 2-reeks GranCoupe.
Die GranCoupe kom kort op die hakke van die nuwe 1- en die 2-reeks wat vroeër vanjaar na ons mark gekom het. Waar die 1-reeks 'n klassieke luikrug is, bied die GranCoupe 'n vierdeurlyf, maar met 'n sportiewe, geboogde daklyn, wat aan hom 'n sportmotoragtige profiel bied.

Dis weliswaar 'n nismark wat na voertuie soos dít op soek is, maar veral in Europa is daar heelwat vrouekopers wat na 'n eiesoortige, sportiewe sedan op soek is, maar nie so groot of bullebakagtig soos 'n middelslag-M3 nie.
Let op dat die nuwe GranCoupe weer op die platform van die ou model gebou is. Die asafstand en wielspoor is dus identies.
Die nuwe bakvorm het wel die lengte (+2 cm) en hoogte (+3 cm) groter gemaak.
BMW het nie veel aan die voorkoms verander nie, wat aan die nuwe GranCoupe weer daardie klassieke voorkoms bied wat so gewild in die verlede was. Hy beweeg wel al hoe nader aan die 3-reeks, sou ons sê.
In Europa is daar twee modelle beskikbaar, die 218 en die M235. Wakker lesers sal sien BMW het besluit om weg te doen met die tradisionele i-agtervoegsel, wat in 'n vorige era relevant was toe nuwe, duurder enjins met brandstofinspuiting toegerus is.
Die 218 benut BMW se bekende 1.5-liter-petrolturbo met drie silinders. Die enjin is wel opgeknap en bied nou teen 115 kW 'n ekstra 12 kW krag. Interessant genoeg is die wringkragprofiel aangepas om minder Newtons te lewer (220 Nm, teenoor die vorige 230 Nm).
Dit het straks te doen met die nuwe sewegang- outomatiese ratkas (dubbelkoppelaar-tipe) wat in die plek van die vorige ZF-ratkas (agtgang) ingespan is. Met meer kilowatts beskikbaar en 'n nuwe ratkas is die ratsheid van die enjin straks verbeter, ten koste van die algehele wringkragsyfer.
BMW het ook besluit om al die modelle met M Sport-vering as standaard toe te rus, wat aan die GranCoupe 'n lekker ferm, sportiewe rit sal bied.
Die M235 benut 'n warm tweeliter-turbo wat 233 kW en 400 Nm wringkrag lewer, wat self ook afwaarts aangepas is van die vorige 450 Nm.
Die 218 is voorwielgedrewe, terwyl die M235 vierwielvastrap het.

Moderne kajuit
In die kajuit sien ons weer die sportiewe aanslag met 'n dik, leerbeklede sportstuurwiel met 'n rooi merk op die twaalfuur-punt.
Al die instrumente is digitaal en die raakskerm werk met BMW se jongste iDrive 9-stelsel.
Items soos sportsitplekke, sleutellose toegang, volgbeheer en 'n selfstopfunksie, asook ritmodusse, is als as standaard ingesluit.
Die GranCoupe kom ook standaard met 'n Harman Kardon-radio met 12 luidsprekers, 'n plat pennetjie vir die ratwisseling en 'n koordlose herlaaivakkie vir jou slimfoon.
Daar is ook stemmingsbeligting in die kajuit en die raakskerm se blikbrein sal homself outomaties opdateer sodra BMW nuwe pakkette beskikbaar stel.
Ons verwag dat die nuwe 2-reeks GranCoupe vroeg volgende jaar na Suid-Afrika sal kom, met pryse wat nader aan die tyd bekend gemaak sal word.




















