Die wêreld van sportnutse raak daagliks besiger - en daarmee saam ook meer gekompliseerd.
Sportnutse as 'n groep is die gewildste soort voertuig oor die wêreld heen. Binne dié oorhoofse noemer is daar talle mini-konflikte aan't broei.

Range Rovers stoei teen Cayennes, X5'e en GLE's in die weeldesegment. Soek jy iets meer sportiefs en avant garde, staan genoemde vervaardigers gereed met 'n antwoord: Hul Cayenne Coupe, X6 en GLE Coupe (wat nie een 'n koepee is nie, maar dis 'n ander verhaal).
Maar dan, aan die hardebaardkant, is daar ook 'n stofwolk in die donga wat opgeskop word.
Kies jy 'n Land Rover Defender, 'n Toyota Land Cruiser of 'n Mercedes-Benz Geländewagen?
Of wat van die jongste mededinger? Die chemiesestofgroep Ineos se eerste voertuig, die Grenadier. Deesdae beskikbaar as 'n sportnuts en as 'n dubbelkajuitbakkie, die Quartermaster.

Dis ongewoon vir 'n maker van chemikalieë om 'n ryding te bou. Maar daar is 'n agtergrond-storie.
Sir Jim Sutcliffe, hoof van Ineos, was vies toe Land Rover amper 'n dekade gelede besluit het om produksie van die ikoniese Defender te staak.
Waarop hy aangebied het om die hele produksielyn oor te koop. En Coventry nee gesê het.
Sutcliffe het sy eie Defender ontwerp wat jy ten beste as 'n moderne weergawe van die Britse strydros kan beskryf. 'n Rits van-die-rak-onderdele, ingeprop in 'n bakwerk wat op 'n druppel na 'n Defender s'n lyk.
Die resultaat is die Grenadier, wat heel skaflik ry met sy moderne BMW 3.0-liter-turbodiesel en -petrolenjins, en 'n ZF-agtgang- outomatiese ratkas. Tot dusver werk die som heel goed.
Bekende voorkoms? Jip.
Betroubare enjins? Het hom.
Beste ratkas? Hy's al ingebou.
Bemarking is 'n ander saak. In die motorlandskap tel herkoms baie. Mercedes-Benz, BMW en Toyota het dit. Ineos, maker van chemikalieë, nie.

Wilder as die wildtuin
En dit is wat 'n mens bring by 'n warm wintersdag in die middel van die Krugerwildtuin. Waar Ineos aan jou sy jongste navigasiesagteware bekend stel.
Pathfinder, soos die slimprogram heet, moet 'n ekstra pyl in die Grenadier se koker wees saam met die sluitewenaar, laestrekratkas en skakelaars teen die dak waarmee jy jou daktent saans kan verlig of 'n rooibok met 'n kollig tydens jou veldrit snags kan vind.
Die Pathfinder-sagteware het sy oorsprong toe sir Jim aan sy ingenieurs gesê het hy soek iets wat soos 'n veldrymotorfietsrenjaer se navigasietoerusting werk.
Jy moes dit al in die Dakar-uithouren gesien het: Die renjaer het 'n klein skerm voor hom, met die navigasie-instruksies wat punt vir punt verskyn en verdwyn soos hy by elke punt verby blits.
Elke punt het 'n GPS-ligging wat vasgelê is, soos 'n reeks broodkrummels na 'n eindpunt.
Waar jy jou dus ook al bevind en of daar nou 'n pad naby jou is of nie, die satelliete en Pathfinder sal jou lei na waar die volgende punt is. Kolletjie vir kolletjie.
Ineos sê gewone navigasiestelsels is net doeltreffend solank jy op 'n bestaande pad is. Is daardie pad nie op sy kaart vasgelê nie, is jy 'n dobberende teesakkie in die see. Rigtingloos en hulpeloos.
Die Pathfinder-stelsel lei jou oor sandduine en deur woeste veld na jou volgende GPS-kol, tik hom af en lei jou dan weer na die volgende een op sy lysie.
Op jou skerm sien jy dus net 'n kompas en 'n groot, oranje pyl. Die pyl swaai al in die rondte soos jy na die punt koers kies en gaan lê doodstil in die 12:00-posisie as jy reguit op hom afpyl.
In die middel van die kompas sit 'n afstandmeter, wat jou afstand aftel soos jy nader aan die GPS-kol beweeg.
Oulik. Maar daar is nog. Die skerm wys ook heel onder 'n streep kolle op 'n horisontale as wat uitgedoof word soos jy elkeen aftik. 'n Visuele aanduiding van jou vordering, dus.
En laastens wys 'n ander syfer hoeveel jy al afgetik het: 13/47, byvoorbeeld.
Afsaal
Gaan die Pathfinder-sagteware nou al wat X5- en Geländewagen-koper is na Ineos se handelaars lei?
Nee wat.
Dit is harde woorde, maar dit is die werklikheid.
Kopers in hierdie segment sportnutse, waarvan die pryse net onder die R2 miljoen-kerf begin, gaan ry nie in Botswana se wildernis rond nie. Hulle besoek die Hermanus-strandhuis of die Kalahari-ruskampe.
Die sagteware gee verkoopsmense 'n ekstra gesprekspunt wanneer 'n koper kom bande skop. Maar dis darem erg te betwyfel of iemand sy Land Cruiser gaan verruil vir 'n Grenadier omdat die nuweling 'n slim stukkie sagteware het.
Bes moontlik moet die Ineos-bemarkingspan voluit fokus op die bestaande veldrykenmerke van die Grenadier en daardie heerlike uitleg van die instrumente in die kajuit.
Dáár het 'n mens nou werklik 'n onderskeidende faktor, wat ook nuttig is, en 'n tasbare, alledaagse voordeel bo sy mededingers bied.
Dis nou die vegvliegtuigagtige knoppies en skakelaars wat jy aantref, en die oorhoofse paneel met al sy bykomende knoppies vir bystandfunksies (soos ekstra ligte en kragpunte).
Maar kom ons kyk eers wat is die publiek se terugvoering op die nuwe stukkie sagteware waarmee Ineos vorendag gekom het.
Dalk verras die mark ons.
Bakkie gou hier
Saam met die nuwe sagteware wat Ineos aan ons bekend gestel het, het ons ook kans gehad om in sy nuwe Quartermaster te ry.
Die Quartermaster is die groep se dubbelkajuitbakkie-weergawe, soortgelyk aan die ou Defender 130. Deesdae sal hy met Jeep se Gladiator meeding.
Die Quartermaster ry op 'n verlengde asafstand en bied 'n billike laaibak en gemaklike sitplek vir vier volwassenes.
Terwyl die Quartermaster tans oor die wêreld heen bekend gestel word, mag ons nog nie volledige ry-indrukke van hom verskaf nie.
Maar voorlopig kan ons noem dat hy genoemde Yank vierkant in die agterent skop.
Dis nou grootliks danksy sy beter enjin-en-ratkas-kombinasie (die Gladiator moet ongelukkig plaaslik opgeskeep bly met 'n dors 3.6-liter-petrol-V6 sonder enige turbo-aandrywing).
Wees geduldig tot so einde Julie, wanneer ons ons volledige ry-indrukke van die nuwe Ineos Quartermaster mag publiseer.




















