Motors

Toetsrit: Drie witwarm nuwe modelle

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Daar is min voertuie in hierdie bakkiemal land van ons wat so baie koppe gaan laat draai soos die nuwe Ineos Grenadier Quartermaster. Die Grenadier-stasiewa word nou al 'n paar maande plaaslik verkoop, en die bakkie is die jongste toevoeging tot 'n familie Grenadiers wat een van die dae 'n kortgat-driedeurboetie gaan bykry.

Ineos Grenadier Quartermaster
Ineos Grenadier Quartermaster

Dat die Grenadier sterk herinner aan die oorspronklike Land Rover Defender is geen toeval nie. Toe Land Rover in 2016 besluit het om sy hardekoejawel 4x4 die doodskoot te gee en op die luukse sy van die mark te fokus, het Ineos se Britse baas, sir Jim Ratcliffe, besef dit skep nie net 'n enorme leemte nie, maar ook 'n geleentheid.

Ineos Grenadier Quartermaster
Ineos Grenadier Quartermaster

Hy en 'n groepie vriende het 'n jaar later in The Grenadier, hulle gunsteling-pub in Londen, koppe bymekaargesit en besluit om 'n motormaatskappy te begin wat die Grenadier (natuurlik!) sou bou. Die idee was om met Britse ontwerp en Duitse ingenieurswese die wêreld se gedugste en betroubaarste veldryer te vervaardig.

Ons het die stasiewa in die Drakensberg gery, en nou meer onlangs in Mei - twee maande voor sy amptelike bekendstelling - die Quartermaster en Grenadier se nuwe Pathfinder GPS-sagteware in die Kruger getoets. Die tyd sal bepaal hoe betroubaar die Grenadier op die lange duur is, maar daar is geen twyfel oor sy gedugtheid in die veld of sy 4x4-vermoëns nie.

BMW se uitstekende 3 l-sessilinder-turbo-enjin word in die petrol en dieselmodelle gebruik. Die agtspoed- outomaties ratkas word deur ZF vervaardig en deur Magna-Steyr gekalibreer, met permanente vierwielaandrywing en drie ewenaarslotte. Die remme word deur Brembo verskaf, die wielasse deur die Italiaanse maatskappy Carraro (dieselfde ouens wat John Deere se wielasse maak).

Dis asof Ineos by 'n petrolkop se fantasie-onderdelewinkel ingestap het en die beste parte van die rak af gekies het. Die boksagtige ontwerp buitelangs is met opset ouskool, funksioneel pleks van stilisties modern, met wiele in die hoeke om die motor se nader- en vertrekhoeke te verbeter.

Ineos Grenadier Quartermaster
Ineos Grenadier Quartermaster

Binnelangs is dit 'n moderne voertuig met al die geriewe wat jy verwag, maar met 'n analoog-aanslag waar daar 'n druk- of draaiknoppie vir die meeste funksies is.

Al die veldryerfunksies (soos jou ewenaarslotte en kruipmodes) word op 'n oorhoofse paneel bo jou kop beheer - dit laat jou aan 'n vliegtuig se kajuit dink. Die Quartermaster-dubbelkajuitbakkie is die grootste van die Grenadiers, met 'n laaibak wat tot 835 kg kan dra en 'n sleepvermoë van 3 500 kg. Sy asafstand is met 305 mm verleng tot 3 227 mm, en dit maak sy draaisirkel groot! Jy gaan jou parkeervermoëns moet verbeter as jy by die mall gaan draai.

En vir so 'n groot motor is die beenruimte in die agterste sitplekke aan die knap kant as daar twee langerige volwassenes voor sit. Die Quartermaster is soos al die Grenadiers 'n hoogs begeerlike motor, maar met 'n intreeprys van R1 717 100 is dit net vir die werklike entoesias met 'n vet beursie beskore.

Toyota Hilux Raider 48 V
Toyota Hilux Raider 48 V

As jy 'n dubbelkajuit-werkesel soek wat heelwat minder kos, is die verfrisde Toyota Hilux Raider 48 V dalk iets om te oorweeg. Nie net kry hierdie nuwe Raider 'n kraghupstoot deur hibriede tegnologie nie, maar danksy 'n ooreenkoms met verskaffers soos Ironman 4x4, 4x4 Megaworld, Front Runner en Thule kan jy nou 'n rits goedgekeurde toebehore (soos dakrakke, daktente en fietsdraers) bestel en by jou Toyota-handelaar laat monteer wanneer jy jou motor koop.

Toyota Hilux Raider 48 V
Toyota Hilux Raider 48 V

En dit beïnvloed nie jou waarborg nie. Die 48 V-tegnologie behels 'n kragopwekker, 'n 48 volt-battery en GS/DC-omsetter wat aan die 2.8 l-GD-6-turbodiesel-viersilinderenjin en die sesgang- outomatiese ratkas gekoppel word. Dit bied 'n kraghupstoot van 12 kW, 65 Nm meer wringkrag, maar met 'n besparing van omtrent 10% in brandstofverbruik.

Die hibriede 4x4 Raider kos teen R876 600 sowat R18 000 meer as die gewone een. Dieselfde tegnologie sal ook op weergawes van die dubbelkajuit-Legend Hiluxe's en Fortuners toegepas word.

Ford Territory
Ford Territory

Toyota se grootste mededinger in die mark, Ford, het hom die afgelope jare - met die uitsondering van die eksklusiewe Mustang-sportmotor - uit die passasiersmotormark onttrek om op bakkies soos die Ranger en veldryers soos die Everest toe te spits.

Maar die bekendstelling van die Ford Puma vroeër vanjaar, en nou die nuwe Territory, wys daar is 'n hiernieude fokus op sportnutse wat hoofsaaklik op teer tuis gaan wees. Hierdie deel van die mark - vyfsitplek- voorwielaangedrewe sportnutse wat tussen R500 000 en R750 000 kos - is een van die mees mededingende segmente in Suid-Afrika.

Nie net speel Volkswagen, Toyota, Nissan, Hyundai en Kia hier nie, maar 'n rits nuwe Chinese toetreders soos Haval, Chery, Omoda, BYD en JAC het die pot behoorlik deurmekaargekrap. Ford het self die Chinese pad geloop met die nuwe Territory. Dit word danksy 'n samewerkingsooreenkoms met Jiangling Motors Company (JMC) in China vervaardig.

Ford Territory
Ford Territory

As sulks is die ontwerp van die Territory redelik generies, en gaan jy op die oog af sukkel om dit te onderskei van die magdom Hyundai's en Kias, asook die spul Chinese sportnutse wat vandag op ons paaie rondrits.

Maar met Ford se eie 1.8 l-EcoBoost-petrolenjin (138 kW se krag en 318 Nm se wringkrag), die sewespoed- outomatiese ratkas, ritgehalte en afwerkingsvlakke skort daar werklik nie veel nie.

Ford Territory
Ford Territory

Dis 'n gemaklike, gebruikersvriendelike gesinsmotor wat uitstekend toegerus is met moderne geriewe en veiligheidstelsels. Die intreevlak-Ambiente kos R576 000 en die duurste model is die Titanium teen R707 000.

As jy nog ietwat huiwerig is oor suiwer Chinese modelle, bied die nuwe Territory jou die beste van twee wêrelde.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM