Motors

Haval sit sy stetson op

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die nuwe H7 in Haval se stal rig sy visier op ’n jonger mark met ’n buitelewe-leefstyl. Ons hou van die hoekige voorkoms, wat iets van ’n Jeep Wrangler eggo. Foto: Marnus Hattingh
Die nuwe H7 in Haval se stal rig sy visier op ’n jonger mark met ’n buitelewe-leefstyl. Ons hou van die hoekige voorkoms, wat iets van ’n Jeep Wrangler eggo. Foto: Marnus Hattingh

Dit voel amper soos 'n geval van nog 'n week, nog 'n Chinese nuweling op die sportnuts-front. Hierdie keer is dit Haval wie se nuwe H7, wat die groep onlangs plaaslik bekend gestel het, op ons oprit kom parkeer het.

Maar ja, hierdie keer staan die Chinees dadelik uit - in die goeie sin van die woord. Die H7 deel die effens kleiner H6 se platform, maar het 'n heel nuwe voorkoms. Die profiel is hoekig, en al die lyne is reguit met 90-grade-hoeke.

Die neus het 'n vertikale voorkoms, en by die wiele is daar lekker fris uitgeboude wielboë. So van die kant gesien, lyk die H7 soos iets tussen 'n Toyota FJ Cruiser en 'n Jeep Wrangler.

Dis ook nie toevallig nie, want dis juis waar Haval sy H7 wil posisioneer, as 'n speelse sportnuts vir diegene wat 'n aktiewe leefstyl het en graag die bergfiets agter wil vasmaak en die naweek uit die stad wil verkas.

Modern uitgerus binnelangs

Die kajuit is lekker ruim met goeie beenruimte agter en sitplek vir drie volwassenes. Die pakplek sal vier mense se naweektasse sluk en in ons topmodel (daar is tans twee afwerkingsvlakke, die Luxury en die Superluxury, wat ons getoets het) swaai die luikdeur ook elektronies oop en toe.

Die kajuit is modern met sy digitale skerms voor die bestuurder en in die middel van die instrumentpaneel. Soos in talle nuwe Chinese rygoed, is die rathefboom ook net so 'n kort, stomp affêre wat soos 'n handgreep lyk.

Onder die sentrale raakskerm, vir jou nutsfunksies, is daar gelukkig ook 'n hele reeks breë knoppies waarmee jy afsonderlik die lugversorging en dies meer kan verstel. Maar, vreemd genoeg is daar nêrens 'n aparte volumeknop vir die radio nie. Vir dié moet jy eers 'n knoppie op die stuurwiel druk, en dan 'n gly-ikoon op die skerm heen en weer trek. Omslagtig, en vreemd.

Om sy veldry-fokus te beklemtoon, het die H7 oral bonkige panele wat met groot, sigbare skroewe vasgebout is. Jy sien die skroewe buite by die wielboë, en binne by die deurpanele. Soms raak dit oorywerig - dis moeilik om die deurhandvatsel binne te gryp agter al die skerp punte van die panele.

Gooi kole

Die H7 ry met 'n 2.0-liter-petrolturbo wat heel lewendig voel as jy die voet plant. Die ratkas is 'n negegang-outomaties (dubbelkoppelaar-tipe) en skakel naatloos oor.

Die Superluxury het 4x4-aandrywing asook 'n ewenaarslot op die agteras, wat beteken (saam met die goeie 20 cm grondvryhoogte) dat die H7 'n heel nuttige ryding vir grondpaaie is. Trouens, met sy hoëprofielbande sal ek hom met meer gemoedsrus op 'n grondpad ry as met van sy RAV4-, Tiguan- en Tucson-mededingers.

Chinese voertuie was nog altyd swaar op brandstof, maar dit lyk of 'n nuwe generasie kragbronne in China ontwikkel is. Ons 2.0-liter-turbo het so 9,0 liter gehandhaaf, wat swaar is, maar nie die 12,0 liter van vorige modelle nie.

Afsaal

Die H7 boks net onder die groot mededingers met sy prysband van so R600 000 tot R730 000. En daarvoor kry jy 'n rits bestuurdershulpmiddels soos blindekolgonsers en 'n terugdu- en selfstop-funksie. Plus verkoelbare sitplekke en gordyne vir die agterste vensters.

Die H7 is een van die eerste groter sportnutse uit die Chinese dampkring wat ek met meer vrymoedigheid sal kan aanbeveel.

Die mededingers sal oor hul skouers moet loer.

CTA